Geheime vir selfbeheersing (3)

2018-03-02
Titus 2:12 DB

Praat terug met jou gevoelens. Ons sit heeltemal te veel klem op ons gevoelens. Ons dink dat alles moet goed voel, so nie is dit nie die moeite werd nie. Ons sê dinge soos, ‘Ek voel nie lus om te werk nie… Ek voel nie lus om my Bybel te lees nie.’ Of, ‘Ek voel of ek nog ‘n drankie wil drink… Ek is lus om tot laatoggend te slaap.’ Moenie jou gevoelens so baie outoriteit gee nie. Gevoelens is hoogs onbetroubaar; as jy hulle toelaat, sal hulle jou beheer en manipuleer. God wil nie hê dat jy deur jou gevoelens beheer moet word nie. Hy wil hê dat jy jou buie moet bemeester. Met Christus as die Heerser van jou lewe, kan jy jou gevoelens beheer. Praat terug met hulle. God sê dat Hy wil hê dat jy moet leer om jou emosies uit te daag. ‘Nou wys Hy vir ons hoe om ‘n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef…’ God se genade gee jou die krag om te doen wat reg is. Dit gee jou die vermoë om nee te sê vir daardie gevoel, daardie begeerte, daardie impuls. Sukkel jy met jou gewig? Voor jy die yskas oopmaak, het jy reeds met jouself oor kos begin praat. As jy ernstig is, sal jy sommige van hierdie onderbewustelike houdings teenoor kos moet begin uitdaag. Wanneer jy jou gevoelens hoor sê, ‘Ek moet net ietsie eet of ek gaan doodgaan,’ moet jy antwoord, ‘Nee, ek gaan nie doodgaan nie. Ek gaan inderwaarheid gesonder wees as ek nie nou iets eet nie.’ Die feit is: God se bonatuurlike krag kan jou help om jou buie, gedagtes en begeertes te bemeester.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 19:15-30; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22