Gee jou bekommernisse aan God oor

2024-01-31
Filippense 4:7 NLV

Wanneer jy angstig of bang voel, moet jy die volgende twee dinge doen:

1) Kry ‘n ‘geloofsvriend.’ Wanneer angs jou gedagtes beetpak, is een van die kragtigste maniere om die siklus van bekommernis te breek om dit met ‘n ‘geloofsvriend’ te deel. Toe Israel uitgegaan het om die Beloofde Land in besit te neem, het God vir hulle gesê: ‘…Is iemand bang? As dit so is, gaan huis toe voordat jy ander bangmaak’ (Deuteronomium 20:8 NLV). Pessimisme, angs en ontmoediging is aansteeklik. Dapperheid is egter ook!

2) Neem aksie en staar jou vrees in die gesig. Preke oor hoe God vir jou sal sorg, is op sigself nie voldoende om angs uit jou lewe te verwyder nie. Jy moet sekere dinge ook doen, soos om in vertroue uit te tree. Die manier om God se vrede van jou gedagtes na die res van jou liggaam te versprei is deur Hom te vertrou tot op die punt wat jy jou vrese direk kan konfronteer.

Met dit in gedagte, a) mediteer dus op Skrifgedeeltes soos Psalm 23; verbeel jouself dat die Here jou deur groen valleie en na strome water toe lei, b) praat met jou ‘geloofsvriend’ voordat die bekommernis ‘n houvas in jou gedagtes kry, c) gebruik ‘n ‘asem van gebed’ soos: ‘God, ek gee al my bekommernisse aan U oor,’ d) oefen; fisiese oefening is een van die beste maniere om te keer dat ‘n oormaat adrenalien opbou, e) identifiseer jou vrees en neem selfs net een klein tree om dit te konfronteer, en f) kry genoegsame rus. Dawid het gesê: ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Gee vandag jou bekommernisse aan God oor!

Sielskos: Num 8-10; Matt 10:11-20; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20