Gee aan God al die eer
2023-04-14Psalm 44:4 NLV
Het jy gehoor van die padda wat nie water kon kry nie, dus het hy twee voëls gevra om hom na ‘n dam daar naby te neem? Hy het hulle oortuig om elkeen die punt van ‘n stokkie in hulle bekke te neem, terwyl hy die middel van die stokkie vasbyt, sodat hulle sodoende met hom tot by die dam kon vlieg. Dit was nogals ‘n vreemde verskynsel: twee voëls, een stokkie, met ‘n padda in die middel. Hulle het goed gevorder, totdat ‘n koei in die veld opgekyk het en gevra het: ‘Wie se idee was dit?’ Die padda kon dit nie weerstaan nie. Trots het oor omsigtigheid geseëvier en terwyl hy na die aarde toe geval het, het hy geskree: ‘Dit was my ideeeee…!’
Moenie dieselfde fout maak nie. ‘Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val’ (Spreuke 16:18 NLV).
Hoekom is jy goed met dit wat jy doen? Vir jou eie gemak? Om vir jou aftrede te spaar? Om jou selfvertroue te versterk? Nee, dis alles bonusse, maar nie die hoofrede nie. Jy is goed met dit wat jy doen – om God se onthalwe. Dit gaan oor Hom, nie oor jou nie! Lees hierdie woorde en oordink dit in jou hart: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk’ (1 Kronieke 29:12 NLV).
Nadat hy al Israel se oorwinnings, seëninge en suksesse onthou het, herinner Dawid ons: ‘Hulle het nie die land met die swaard verower, of die oorwinning deur eie krag behaal nie. Maar deur u krag was hulle suksesvol, deur u teenwoordigheid en u goedheid’ (Psalm 44:4 NLV). Hou in gedagte dat die seëninge wat jy elke dag ervaar, slegs joune is omdat God jou begunstig. Dis die waarheid!
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Luk 24:45-53; Ps 25:16-22; Spr 10:3