Gebruik jou God-gegewe gawe
2022-10-222 Timoteus 1:6 NLV
Ander mense mag dalk nie dink dat jy belangrik is nie, maar God doen. Sy opinie is die een wat die meeste tel. Onthou jy vir Dawid? Voor hy koning geword het, moes hy twee struikelblokke oorkom. Die eerste struikelblok was sy familie se onvermoë om sy potensiaal raak te sien. Toe Samuel, die profeet, vir ‘n koning onder Isai se seuns gesoek het, is Dawid nie eers oorweeg nie. Miskien omdat hy die jongste was, of omdat dit gelyk het of sy broers meer gekwalifiseerd was, of omdat sy pa die profeet wou probeer beïndruk. Die tweede struikelblok was Samuel se onvermoë om God se roeping op Dawid se lewe te herken. Toe Samuel die oudste broer, Eliab, wat ‘n generaal in die koning se leër was sien, het hy gesê: ‘…Dis sekerlik die Here se gesalfde!..’ (1 Samuel 16:6 NLV). God het egter vir Samuel – en die res van ons – met hierdie woorde tereggewys: ‘…Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV).
Dawid se probleem is ‘n algemene een. Baie van ons glo nie in onsself nie, omdat ons nie deur ons ouers erken en aangemoedig is nie. Miskien het jy die potensiaal om ‘n goeie musikant te wees, maar omdat niemand genoeg omgegee het om vir jou musieklesse te gee toe jy jonger was nie, het jy opgegee. Of jy mag dalk ‘n ontluikende entrepreneur wees wat vir jou ‘dwase idees’ oor hoe om besigheid te doen gekritiseer is, dus het jy die drome van jou jeug laat vaar.
Indien dit die geval is, is dit tyd om te begin bid dat God jou oë sal oopmaak en iemand in jou lewe sal plaas wat die vuur binne in jou sal bekragtig en aanblaas.
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 24:7