Gebede wat nie werk nie
2020-04-27Psalm 35:13 NLV
Misplaaste gebede. Sommige mense maak die gebed voor ete ‘n geleentheid om hulle frustrasies in die publiek te lug. Ander mense bons hulle gebede van God af in die hoop dat dit die persoon oorkant die tafel sal tref – die een wat hulle vir Christus probeer wen. Moenie dit doen nie. Jesus het gesê: ‘Wanneer julle bid, dan moet julle nie soos die skynheilige mense bid nie… Hulle doen dit sodat die mense hulle kan sien…’ (Matteus 6:5 ABA). Veroordelende gebede. In een kerk het ‘n kinderlose egpaar vir ‘n baba gebid. Die gebedsgroep het sommer besluit dat die man nie ‘goddelik’ genoeg was om ‘n pa te wees nie, dus het hulle gebid dat God hom moet verander. As God net aan perfekte ouers kinders gegee het, sou die mensdom uitgesterf het! Die Bybel sê: ‘…Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is’ (Daniël 9:18 NLV). Kworum-gebaseerde gebede. Jy dink daar is ‘n beter kans dat jou gebede beantwoord word wanneer jy ‘n klomp mense betrek, soos om ‘n kworum in ‘n vergadering te hê. Die geloof waarmee jy bid, nie die aantal mense nie, is egter wat vir God saak maak. Jesus het gesê: ‘…Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV). Wanneer jy egter voor ‘n situasie te staan kom wat te groot is om alleen te hanteer, is dit wys om na iemand wat God waarlik ken en wat in ooreenstemming met jou kan bid, uit te reik. ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Het jy gebedsvennote na wie jy kan uitreik? Is jy ‘n gebedsvennoot vir iemand anders?
Sielskos: Dan 11-12; Mark 4:26-41; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23