Gebed voorsien ons van God se oogpunt
2024-01-19Kolossense 4:2 NLV
Die woord ‘waaksaam’ verwys na die Ou Testamentiese gebruik om op ‘n stadsmuur te sit en wag te hou. Hierdie manne was die eerste mense wat gewapende magte of reisende handelaars sien aankom het. Hulle het die optimale uitkykpunt gehad. Hulle het gesien wat niemand anders kon sien nie. Hulle het alles vroeër as almal anders gesien.
Dit is presies wat gebeur wanneer ons bid. Ons sien wat niemand anders sien nie en ons sien dit vroeër as ander mense. Hoekom? Omdat gebed ons van God se oogpunt voorsien; dit verhoog ons bewustheid en gee ons ‘n sesde sintuig wat ons in staat stel om geestelike realiteite te kan waarneem.
In hulle bekende boek, Geeks and Geezers, maak die besigheidskenners Warren Bennis en Robert Thomas ‘n interessante opmerking oor wat suksesvolle leiers in elke veld in gemeen het. Bennis en Thomas noem hulle eersteklas waarnemers. ‘Wanneer jy ‘n eersteklas waarnemer is, stel dit jou in staat om talent te ontdek, geleenthede te identifiseer en struikelblokke te vermy. Leiers wat oor en oor sukses behaal begryp konteks meesterlik. Dis een van daardie karaktereienskappe, soos smaak, wat moeilik is om te ontleed. Die vermoë om ‘n reeks faktore te oorweeg, sommige so subtiel soos hoe verskillende groepe mense ‘n gebaar sal interpreteer, is een van die kenmerke van ‘n ware leier.’
Gebed verander ons in eersteklas waarnemers. Dit help ons om te sien wat God wil hê ons moet waarneem. Hoe meer jy bid, hoe meer neem jy waar. Hoe minder jy bid, hoe minder neem jy waar. Dis so eenvoudig soos dit. Hier is ‘n Bybelse formule vir sukses in enige area van die lewe: ‘Hou aan om te bid. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.’
Sielskos: Dan 3-4; Matt 7:1-14; Ps 84; Spr 2:16-19