Gaan terug en wees onderdanig

2020-01-27
Genesis 16:9 NLV

Die Bybel sê: ‘…Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar weggeloop het. Die engel van die Here het haar by ‘n fontein in die woestyn op pad na Sur gekry. Die engel sê vir haar: ‘Hagar, diensmeisie van Sarai, waar kom jy vandaan? Waarheen gaan jy?’ ‘Ek loop weg van my meesteres,’ antwoord sy. Toe sê die engel van die Here vir haar: ‘Gaan terug na jou meesteres toe en wees aan haar onderdanig.’ Die engel van die Here sê ook: ‘Ek sal vir jou ‘n groot nageslag gee wat nie getel kan word nie’ (verse 6-10 NLV). Hagar het die engel gehoorsaam en toe haar seun Ismael gebore is, het God gesê: ‘Wat Ismael betref, Ek sal hom ook seën soos jy gevra het. Ek sal hom seën met ‘n ryke nageslag wat ‘n groot nasie sal word; twaalf heersers sal uit hom voortkom’ (Genesis 17:20 NLV). Die meeste van ons hou nie van die idee om onderdanig te wees nie; en God het vir Hagar daardie dag na ‘n moeilike plek teruggestuur. Toe sy egter gehoorsaam was, het Hy haar geseën. God, wat die einde van die begin ken en goeie dinge uit die slegte meebring, het jou beste belange op die hart. Selfs al is dit moeilik, sal Hy jou seën wanneer jy gehoorsaam is. Hy sal jou die genade en krag gee om dinge in jou lewe te bereik wat nie op ‘n ander manier moontlik sou wees nie. Deur te probeer om uit jou huidige situasie te ontsnap, mag jy dalk weghardloop van die les wat God jou wil leer en die belonings wat aan die ander kant daarvan wag. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Gaan terug en wees onderdanig.’

Sielskos: Jes 8-11; Matt 10:11-20; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10