Gaan na die regte bron toe

2023-04-01
1 Samuel 27:1 NLV

Die Bybel sê: “Dawid dink toe by homself: ‘Eendag sal Saul my nog doodmaak. Dis beter dat ek vlug en by die Filistyne gaan woon…'” (vers 1 NLV). In die verlede, het Dawid die Here se raad gevra (sien 1 Samuel 23:2, 4). Hy het ook raad by ervare, bewese raadgewers gekry. Hierdie keer is hy egter deur sy vrese gelei en het na ‘n vyandige gebied oorgeloop. Dit het hom ‘n tydelike gevoel van verligting gegee.

Salomo het gesê: ‘Dit lyk dalk vir iemand of hy die regte ding doen; agterna kom dit uit dat dit na die dood gelei het. Lag kan hartseer wegsteek; as die vrolikheid verby is, bly die verdriet nog agter. ‘n Agterbakse mens kry sy verdiende loon. ‘n Goeie mens pluk die vrugte van sy goedheid. ‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee’ (Spreuke 14:12-15 NLV).

Uiteindelik het die Filistyne Dawid verwerp omdat hulle hom nie kon vertrou nie. Hulle het gesê: ‘…Stuur hom terug na die plek wat jy tot sy beskikking gestel het!.. Hy kan nie saam met ons in die geveg gaan nie. Wat sal gebeur as hy teen ons draai?..’ (1 Samuel 29:4 NLV).

Wees versigtig wanneer jy ‘n geestelike insinking beleef, want die besluite wat jy maak kan langdurige gevolge hê. Ons kan die volgende uit Dawid se situasie leer: 1) In plaas daarvan om na jou vrese te luister, luister na God. Terwyl hy tussen die puinhope van sy lewe gestaan het, het Dawid, ‘…by die Here sy God krag ontvang’ (1 Samuel 30:6 NLV), en jy sal ook. 2) Soek wyse raadgewers. Dis die laaste ding wat jy in jou ellende sal wil doen, maar ‘…dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV).

Sielskos: Fil 1-4; Luk 22:54-62; Ps 31:14-24; Spr 9:1-3