Droomdoders (4)
2019-01-10Numeri 14:24 NLV
Kaleb was werklik merkwaardig. Hy het nie ‘n plan vir aftrede of ‘n rystoel gehad nie! Op vyf-en-tagtig het hy daarvan gedroom om sy eie berg in die Beloofde Land te besit. Selfs toe hy sien dat daar reuse op die berg bly, het dit hom nie afgeskrik nie. Toe die mense rondom hom die reuse sien en die aftog wou blaas, het Kaleb gesê, ‘…Moenie bang wees vir die mense van die land nie. Hulle is ons slagoffers. Hulle het geen beskerming nie. Die Here is met ons. Moenie bang wees nie!’ (vers 9 NLV). Soos jy in geloof groei, sal jy die aanslae van die Vyand kan teenstaan en sodoende sterker word. Jy kies óf om in die agtergrond weg te smelt, óf om uit te staan! God het gesê: ‘My dienaar Kaleb het egter ‘n ander gesindheid teenoor My gewys. Hy het by My bly staan. Ek sal hom in die land laat kom wat hy gaan verken het. Sy nageslag sal die land besit.’ Let op, Kaleb het ‘n ‘ander gesindheid’ gehad, wat ons by nog ‘n droomdoder bring wat jy moet oorkom: Gebrek aan selfvertroue. Drome is broos. Hulle verkeer die meeste in gevaar wanneer hulle vir jou nuut is, wanneer die mense vir wie jy lief is en respekteer dit nie goedkeur nie en wanneer jy nie ‘n rekord van sukses het waarop jy kan terugval en wat vir jou selfvertroue gee nie. Dis op hierdie punt wat jy God moet ken en ‘n verhouding met Hom moet hê. ‘…Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). God kan jou wys hoe om geleenthede te vind, te gebruik en wins uit hulle te slaan, selfs in die slegste van omstandighede.
Sielskos: Jes 30-33; Luk 2:8-20; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2