Dra jy vrugte vir God?

2022-07-16
Johannes 15:16 NLV

Het jy al ooit gewonder hoe sommige mense in staat is om so baie te bereik? Wat maak hulle so produktief? Verbeel jouself jy is aan die einde van jou lewe. Wat sal dit neem sodat jy kan sê: ‘Ek het ‘n produktiewe lewe gelei. Ek het dit bereik wat ek myself voorgeneem het om te doen’? Wat dink jy is ‘n produktiewe lewe? Nog belangriker, weet jy wat God se definisie van ‘n produktiewe lewe is? Kom ons kyk na wat dit beteken om ‘n Christen te wees wat vrugte dra.

Die woord ‘vrug’ kom ses-en-sestig keer in die Nuwe Testament voor. Daar word na drie tipes vrugte verwys: die tipe wat ons eet – vye en druiwe; biologiese vrugte – babas; en geestelike vrugte – ‘n Christelike karakter. Die Bybel definieer hierdie geestelike vrugte as nege dinge: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (sien Galasiërs 5:22-23).

Dit is die tipe vrugte wat God in jou lewe wil produseer. Dis hoe Hy ‘n produktiewe lewe definieer. Jesus het gesê: ‘Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is’ (Johannes 15:8 NLV). Die bewys dat jy ‘n dissipel van Jesus is, is dat jy geestelike vrugte produseer. Miskien is jy ‘n goeie ‘vrugte-inspekteur’ wanneer jy die lewens van ander mense ondersoek. Watter vrugte is egter besig om in jou lewe te groei? Is jy besig om meer vleeslik of meer soos Christus te word?

Om te weet hoe vrugtevol jy is, moet jy dit wat in jou lewe groei, ondersoek. As jy hou van dit wat jy sien, hou so aan. As jy egter nie daarvan hou nie, gaan op jou knieë en bid: ‘Vader, help my om vrugte wat U verheerlik, te produseer.’

Sielskos: Joël 1-3; Matt 26:26-35; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32