Doen wat God jou geroep het om te doen
2021-05-26Johannes 17:4 NLV
Josef se broers het sy droom verafsku, dus het hulle hom in ‘n put gegooi. Jesus se familie het nie sy roeping verstaan nie; op ‘n stadium het hulle gedink Hy is mal. Tog, toe hy die einde van sy lewe bereik het, kon hy sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen.’ As jy wag tot almal verstaan en met jou saamstem, sal jy nooit doen wat God jou geroep het om te doen nie.
In die laaste deel van die negentiende eeu, toe die Metodiste ‘n kerklike konferensie gehou het, het een leier opgestaan en sy visie vir beide die kerk en die groter samelewing gedeel. Hy het sy mede-predikante vertel hoe hy geglo het dat mense eendag van plek tot plek sou vlieg, eerder as om met perde te reis. Dit was ‘n konsep wat heeltemal te vreemd vir baie in die gehoor was. Een man, biskop Wright, het opgestaan en vurig geprotesteer: ‘Dwaalleer! Vlug is slegs vir die engele bedoel!’ Hy het verder gegaan deur te sê dat indien God wou gehad het dat mense moes vlieg, Hy vir hulle vlerke sou gegee het. Duidelik was die biskop nie in staat om in te sien wat die spreker voorspel het nie. Toe hy klaar geprotesteer het, het hy sy twee seuns, Orville en Wilbur, geroep en die ouditorium verlaat. Dis reg – sy seuns was die beroemde Orville en Wilbur Wright! Verskeie jare later, op 17 Desember 1903, het hulle reggekry wat hulle pa as onmoontlik verklaar het; hulle het die eerste menslike vlug onderneem.
Baie mense verkies die gemak van die verlede bo die risiko’s van die toekoms. As jy hulle ondersteuning en goedkeuring nodig het, sal jy nooit doen wat God jou geroep het om te doen nie.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 11:27-33; Ps 128; Spr 12:10-11