Doen slegs wat God wil hê jy moet doen

2020-04-29
Johannes 17:4 NLV

Meer as die helfte van diegene wat die bediening binnegaan, verlaat dit binne tien jaar as gevolg van stres en ontmoediging. Hoe kan jy dit vermy? Deur Christus se voorbeeld te volg. Hoe het Jesus dit gedoen? Hy sê vir ons: ‘…Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen… Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie…’ (Johannes 5:19-20; 30 NLV). Dit klink eenvoudig, nè? Eenvoudig – maar nie maklik nie. Mense sal jou probeer ompraat om goeie dinge te doen wat nie noodwendig God se hoogste prioriteit vir jou is nie. Jy kan jou lewe spandeer om die ‘goeie’ te doen en nooit by die ‘beste’ uitkom nie. Jesus het gesê: ‘Ek het… die werk voltooi wat U vir my gegee het om te doen.’ As God dit nie vir jou gee nie, moenie dit aanpak nie. Indien Hy dit vir jou gee, moenie dit sonder sy hulp aanpak nie. Staanhorlosies kom met twee instruksies: Moet dit eerstens nie laat afloop nie. Tweedens, moet dit nie te styf opwen nie. Hoekom het Jesus voor dagbreek opgestaan om te gaan bid en soms deurnag gebid? Sodat Hy nie te afgemat of te opgewen sou raak nie! Die Bybel sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here, Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Hy kan egter net jou kommer en sorge dra, wanneer jy dit vir Hom gee.

Sielskos: Jak 3-5; Mark 5:11-20; Ps 94:12-23; Spr 10:27