‘Doen’ God se Woord

2021-04-27
Jakobus 1:25 NLV

Dr David Jeremiah vertel van ‘n welbekende kweekskoolprofessor wat ‘n somer lank in Jerusalem gestudeer het. In sy woonstelblok het daar ‘n ortodokse Joodse rabbi gewoon, saam met wie hy Hebreeus bestudeer het. Een dag het die professor gesit en luister hoe sy Joodse vriend die hele boek van Psalms, in Hebreeus opsê.

Dis nogal indrukwekkend, nie waar nie? God seën jou egter nie as jy net sy Woord lees, dit memoriseer of dit selfs woord vir woord kan opsê nie. God beloof slegs om diegene wat ‘doen’ wat sy Woord sê, te seën. Om jou Bybel te lees, sonder om daarvolgens op te tree, is soos om in ‘n goeie restaurant te sit en die spyskaart te eet, terwyl jy die maaltyd ignoreer. ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself.

Julle sal saamstem: As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (verse 22-25 NLV).

Die kennis van God se Woord is lewensbelangrik. Kennis van die Skrif kan egter geestelike trots in jou hart kweek, waarvolgens jy die Skrif toejuig, maar dit nie toepas nie. Die woord vir jou vandag is dus – ‘doen’ God se Woord!

Sielskos: Num 4:34-6:27; Mark 5:1-10; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26