Doen die tiende toets
2022-07-09Maleagi 3:10 NLV
Gangaram Mahes het in New York as die ‘Serial Eater’ bekend geword. Hierdie immigrant van Guyana was mal oor elegante restaurante, maar het nie die geld gehad om daarvoor te betaal nie. In plaas daarvan om sy eetlus te onderdruk, het hy eenvoudig by ‘n restaurant ingestap en die heerlikste maaltyd, beste drank en duurste nagereg op die spyskaart bestel. Hy het dan na hartelus geëet en gedrink en wanneer die rekening gekom het, het hy eenvoudig vir die kelner gesê dat hy nie in staat is om die rekening te betaal nie. Die polisie daag dan op en arresteer hom en hy ontvang ten minste ‘n paar dae se gratis etes in die tronk.
Raai wat: Ons kerke is vol mense wat die melk van God se seën drink, die biefstuk van God se goedheid eet, aan die nagereg van God se liefde smul – en nie eers vir Hom ‘n ‘fooitjie’ van tien persent gee nie. Moenie een van hierdie mense wees nie!
Wanneer jy vir God die eerste 10 persent van jou inkomste gee, tree ‘n Goddelike dinamiek in. God seën die 90 persent wat jy oor het, wat dan baie verder as jou 100 persent sonder sy seën, gaan.
Beteken dit dat God meer geld vir jou teruggee as wat jy vir Hom gegee het? Nie noodwendig nie, maar Hy beloof wel om jou meer as wat jy ooit kan droom, te seën. Dit mag dalk deur goeie gesondheid, of guns by jou baas, of leiding in jou lewe, of beskerming vir jou en jou geliefdes, wees.
God sê: ‘…Bring al die tiendes… Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ Toe, doen die tiende toets.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 24:36-51; Ps 122; Spr 15:10-14