Dit werk binne jou (3)

2022-07-30
Johannes 14:16 NLV

Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees.’ Die Griekse bron vir die woord ‘Raadgewer’ is ‘Parakletos,’ wat beteken ‘een wat langsaan jou kom’ om jou te versterk, te bemoedig en raad te gee. Hoe wonderlik is dit nie? Wanneer jy moedeloos, verward en magteloos voel, het jy ‘n wyse, deernisvolle, bekwame helper wat sal opdaag om jou te ondersteun en jou van dit wat jy nodig het, sal voorsien. In plaas daarvan om dus alleen daarmee te sukkel, leer om op Hom te leun, put krag uit sy mag uit en vertrou Hom om sy magtige werk in jou te doen.

Paulus sê ook vir ons: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie’ (Galasiërs 5:16 NLV). Die stryd tussen die Gees en die vlees is onophoudelik. Ons vleeslike natuur kan nooit deur menslike denke in bedwang gebring word nie; dit veroorsaak net mislukking en moedeloosheid. Wat is dan die antwoord? Die Heilige Gees sal vir jou sê waar om te gaan en wat om te doen.

Nog ‘n wonderlike voordeel wat die inwonende Heilige Gees vir jou meebring is: ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV). Om te bid en dan jou beste raaiskoot te neem, is nie God se manier nie. Die Heilige Gees se leiding – nie ons raaiskote nie – moet ons leefstyl bepaal. Die woord vir jou vandag is dus – onthou, dit werk binne jou.

Sielskos: Hand 24-26; Mark 1:1-8; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24