Dis nie te klein vir God nie
2024-06-142 Konings 6:6 NLV
2 Konings 6 vertel die verhaal van ‘n profeet wat besig was om naby ‘n rivier ‘n boom af te kap toe sy byl in die rivier val. Hy het toe vir Elisa gesê: ‘…Ag Meneer!… Dit is ‘n geleende byl!’ (vers 5 NLV). Hy het gedink die byl was vir ewig verlore. Hy het geen verwagting gehad om ooit die byl terug te kry nie. Hy het vir Elisa gewys waar dit ingeval het. Toe het Elisa ‘n stok afgekap en dit in die water gegooi en iets het gebeur wat nog nooit vantevore of sedertdien gebeur het nie: ‘…Die byl het boontoe gekom en gedryf.’ Dit was nie ‘n lewe-of-dood situasie nie. Ja, die byl was geleen. Ja, dit het verdwyn. As dit egter die ergste ding is wat jy al ooit moes deurmaak, het jy ‘n redelike beskermde lewe gelei.
Jy kan dit in dieselfde kategorie as Jesus wat die water in wyn by die bruilof verander het, plaas. Hoekom jou eerste wonderwerk mors om ‘n bruid en bruidegom te help wat nie genoeg wyn vir hulle onthaal gehad het nie? Dit openbaar iets van God. Hy bemoei Hom met die klein dingetjies, soos bruilofsonthale en geleende byle. Niks is te groot vir ons God nie en niks is ook vir Hom te klein nie. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). As dit vir jou saakmaak, maak dit vir jou liefdevolle hemelse Vader saak. ‘Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:6 NLV). Let die woorde: ‘in alles wat jy doen,’ op. God wil hê dat jy vandag elke detail van jou lewe met Hom moet deel.
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10