Dis hoe dit werk!

2020-01-19
Genesis 4:4-5 NLV

Kain het die grond bewerk, die saad geplant, die oes bymekaar gemaak en aan God die vrugte van sy harde werk geoffer. Hy het gedink dat God beïndruk sou wees en dat Hy verplig sou voel om hom te seën. Dis egter nie hoe dit werk nie! Abel, aan die ander kant, het vir God gesê: ‘Ek het niks gedoen nie. U het die lam wat ek offer geskep. Ek gee net aan U terug wat u s’n is en vra U om dit te seën.’ En God het dit gedoen! Jy kan baie van ‘n persoon leer oor die wyse hoe hulle God benader. Sommige van ons maak asof God ons iets skuld. Ander van ons is so beïndruk met ons geestelike status en prestasies dat ons Hom met verhewe woorde en hoogdrawende frases benader. Dit beïndruk God egter nie! ‘…Die Here het Abel en sy offer aanvaar…’ Abel het nie, soos sy broer, krediet vir enigiets gesoek nie. Hy wou gehad het dat God al die glorie ontvang. Dis die tipe offer wat God se hart roer en sy rykste seëning op ons lewens uitnooi. Wat offer jy dus vandag aan God? Jou prestasies? Jou hoë stand in die geloofsgemeenskap? Jou selfvertroue? Jou vlak emosies? As dit die geval is, moenie die moeite doen nie! Die enigste ding wat Hy van jou vra, is om nederig jou hart vir Hom oop te maak en Hom toe te laat om jou in Jesus se beeld te omskep. Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets wonderliks. Hy sal jou offer ontvang en respekteer, jou seën en jou toerus om ander te seën, wanneer jy jou eie selfbelang ontken en aan God ‘n aanvaarbare offer bring. Dis hoe dit werk!

Sielskos: Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168