Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (3)
2023-01-05Genesis 37:9 NLV
Josef het twee drome gehad, waarvan die tweede een groter as die eerste een was. Sy eerste droom was ‘n landery vol gerwe; die tweede droom was ‘n hemelruim vol sterre. Die woord vir jou vandag is dus: Droom een maat groter! Henry Curtis het gesê: ‘Maak jou planne so fantasties as wat jy wil, want oor vyf-en-twintig jaar van nou af sal dit middelmatig lyk. Maak jou planne tien keer so groot as wat jy eers beplan het en vyf-en-twintig jaar van nou af sal jy wonder hoekom jy dit nie vyftig keer so groot gemaak het nie.’
Daar is net een manier om aan te hou groei: stel jou doelwit een tree verder as dit waarmee jy gemaklik is. Dit sal jou forseer om aan te hou groei! Dit sal jou ook instel om God vir groter dinge te glo. Die meeste mense wil hê hul lewens moet aanhou verbeter, maar tog waardeer hulle terselfdertyd vrede en stabiliteit. Hulle vergeet dat jy nie kan verbeter en steeds dieselfde bly nie. Groei beteken verandering en dit beteken dat jy die status quo moet uitdaag. Daar sal altyd mense rondom jou wees wat wil hê dat jy jou droom moet opgee en die status quo moet aanvaar. Wees lief vir hulle, maar moenie deur hulle gelei word nie.
Soos jy God vir groter dinge begin glo en ander mense probeer om koue water op jou idees te gooi, moet jy onthou dat op hierdie oomblik, terwyl jy hierdie bladsy lees, ander mense regoor die wêreld besig is om medisyne teen kanker uit te vind, nuwe energiebronne te ontwikkel, mense wat honger is te voed, mense se lewenskwaliteit te verbeter en hele nasies vir Christus te wen. Hulle daag die status quo uit – jy moet ook.
Sielskos: Jes 8-11; Luk 1:26-38; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16