Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (2)

2023-01-04
Hebreërs 11:6 NLV

Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV).

Twaalf spioene het die Beloofde Land gaan verken, maar net twee het teruggekom en gesê: ‘…Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat’ (Numeri 13:30 NLV). God het dit aan hulle beloof, maar die oorgrote meerderheid het gedink dat dit nie gedoen kan word nie.

Mense wat dink: ‘Dis moontlik,’ skep nie net vooruitskouende, optimistiese prentjies van die toekoms in hul eie gedagtes nie, maar ook in die gedagtes van ander. Die teenoorgestelde is ook waar. Sam Ewing het gesê: ‘Niks is so ‘n groot verleentheid as om te kyk hoe iemand iets doen wat jy gesê het nie gedoen kan word nie.’

Hoe benader jy die lewe? Wanneer jy voor die onbekende, die ongedane of die onbeproefde te staan kom, fokus jy op al die dinge wat verkeerd kan gaan, of op al die dinge wat reg kan gaan? Die ballistiese vuurpyl baanbreker, Wernher von Braun, het gesê: ‘Ek het geleer om die woord ‘onmoontlik’ met die grootste omsigtigheid te gebruik.’ Jy vra: ‘Wie was hy?’ Die wetenskaplike wat dit moontlik gemaak het vir die eerste man om op die maan te loop!

John Andrew Holmes het gesê: ‘Moet nooit vir ‘n jongmens sê dat iets nie gedoen kan word nie. God het dalk eeue gewag vir iemand wat onkundig genoeg oor die onmoontlike is om daardie einste ding te doen.’ As jy iets wil bereik, laat jouself toe om te glo dat dit moontlik is – en vertrou op God vir jou sukses daarin.

Sielskos: Jes 4-7; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9