‘Diensknegte’ vir lewe

2023-04-27
Romeine 1:1 NLV

Dade praat harder as woorde. Dis wat jy doen, nie wat jy beweer jy is nie, wat tel. In die Skrif het die woord ‘dienskneg’ soms verwys na ‘n derdevlak-galeislaaf wat aan die roeispaan van ‘n Romeinse skip vasgeketting was. Dag en nag het hulle geroei op die maat van dromme en hetsy in ‘n geveg of in handelsdiens, het hulle verwag om vasgeketting aan daardie roeispaan te sterf. Wat ‘n aaklige beeld!

Paulus sê: ‘Nou wil ek baie ernstig vra, liewe broers en susters:.. gee… julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak’ (Romeine 12:1 NLV). Paulus het geen twyfel gehad oor wat God hom geroep het om te wees nie. Toe hy na homself as ‘n ‘dienskneg’ verwys het, het hy ‘n slaaf wat sy eienaar vir ses jaar lank getrou gedien het, beskryf.

Die wet van Moses het vereis dat ‘n slaaf in sy sewende jaar vrygelaat word. Indien hy egter teruggekom het nadat hy vrygelaat is en gesê het: ‘Meester, ek dien u nie omdat ek moet nie; ek dien u omdat ek wil,’ het sy eienaar hom dan geneem en vir hom ‘n gat in sy oor met ‘n els gemaak, wat gewys het dat hy vir ewig aan sy eienaar behoort (sien Eksodus 21:6).

Soms is dit nodig dat jy opkyk en sê: ‘Here, ek dien U nie omdat ek moet nie; ek dien U omdat ek lief is vir U. Maak ‘n gat in my oor. Merk my as U s’n. Maak my aan U vas sodat ek nooit aan iemand anders kan behoort nie.’

Wanneer jy dink aan alles wat Jesus al vir jou gedoen het, is dit regtig te veel om te vra?

Sielskos: Dan 8-10; Matt 4:18-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21