Die wet van ligging
2020-07-23Genesis 2:8 NLV
Eers het God die tuin gemaak, toe het Hy die mens gemaak en hulle in die tuin geplaas. Dit word die ‘wet van ligging’ genoem. Jy sal sukses behaal wanneer jy is waar God wil hê jy moet wees. Het jy al ooit die pyn van ‘n onwrigte gewrig ervaar? Dis aaklig. Dis soos om ‘jou eie ding te doen’ in plaas daarvan om God se wil te doen. Jy kan die maklike pad of die moeilike pad kies; God gee vir jou daardie opsie. Jy sal egter misluk as jy die verkeerde pad kies. Jona is ‘n voorbeeld hiervan – hy het gekies om nie na Nineve te gaan en daar te gaan preek nie, omdat hy nie van die mense wat daar gebly het, gehou het nie. Die laaste ding wat hy wou doen was om hulle te help, dus het hy van sy Godgegewe opdrag in Nineve probeer weghardloop. Gevolglik het hy in ‘n storm ingehardloop, verlies en ellende vir almal aan boord van sy skip veroorsaak en uiteindelik die bodem getref voor hy opgeëindig het waar God wou hê hy moes wees. Leer by Jona. Moenie sy dwase, duur en onnodige fout herhaal nie. Wanneer jy op die regte plek kom, moenie dink dat jou taak maklik sal wees of dat jy oornag sukses sal behaal nie. Die Amerikaanse prediker en skrywer, Phillips Brooks, het gebid: ‘Here, ons vra nie vir ligter laste nie, maar vir sterker rûe.’ Toe Paulus vir verligting gebid het, het God vir hom gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Wanneer jy op die regte plek is en doen wat God wil hê jy moet doen, sal jy in omstandighede wat ander mense laat verkrummel, floreer, omdat jy God se genade het om dit te hanteer.
Sielskos: Hand 14-15; Luk 9:18-27; Ps 1; Spr 16:10-15