Die waarheid oor geld
2020-09-27Spreuke 23:4 NLV
Meer geld kan jou meer geleenthede gee om goed in die wêreld te doen. Jesus het gesê: ‘Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom’ (Matteus 24:14 NLV). Om hierdie opdrag te vervul sal geld kos – en baie daarvan. Geld self sal jou egter nie gelukkig maak of veilig laat voel nie. Salomo, een van die wêreld se rykste mans, skryf: ‘Moenie jou afsloof om ryk te word nie. Wees verstandig genoeg om binne perke te bly. As jy nog na jou rykdom kyk, is dit eensklaps weg soos ‘n voël wat wegvlieg in die lug’ (Spreuke 23:4-5 NLV). Toe een van die wêreld se rykste mans onlangs oorlede is, het ‘n verslaggewer een van sy familielede gevra: ‘Hoeveel het hy nagelaat?’ Die familielid het geantwoord: ‘Alles wat hy gehad het!’ Maak nie saak hoeveel geld jy maak, spaar, belê of hou nie, uiteindelik gaan jou geld jou verlaat, of jy gaan jou geld verlaat. Iemand het een keer wys opgemerk dat die mens sewe ouderdomme het. Eerstens, sien ‘n kind die aarde. Tweedens, wil hy die aarde hê. Derdens, werk hy om die aarde te kry. Vierdens, besluit hy hy sal met die helfte daarvan tevrede wees. Vyfdens, besluit hy dat hy met minder as helfte tevrede sal wees. Sesdens, is hy tevrede om ‘n stukkie grond so groot soos ‘n graf te kan hê. Sewende, kry hy dit! Daar is baie dinge waarsonder jy kan lewe – en groot rykdom is een daarvan. Jy kan egter nie sonder vrede met God, ‘n familie gevul met liefde, ‘n lewenslange vriendskap met jou kinders en ‘n lewe wat ter ere van God geleef is, ‘n goeie lewe maak nie.
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14