Die verhaal van jou Bybel

2023-03-14
1 Petrus 1:25 NLV

Daar was nie een Engelse kopie van die Bybel in die veertiende eeu nie! Dit was slegs in Latyn, die taal van die geestelikes, beskikbaar en was aan die podiums van die katedrale vasgeketting. Toe het ‘n prominente professor in teologie aan die Oxford Universiteit gesĂȘ: ‘Dis nie reg nie. Mense moet die Bybel in hulle eie taal kan lees.’ Kerkleiers het hom as ‘n ketter en ‘n instrument van die duiwel gebrandmerk.

Soos Noag wat spykers in die ark geslaan het terwyl mense hom gespot en geminag het, so het John Wycliffe begin om die Skrif te vertaal terwyl ‘n vloed van vervolging rondom hom ontstaan het. Toe hy uiteindelik sy vertaling van die Skrif voltooi het, het hy die volgende op die binneblad van die eerste kopie van die Engelse Skrif geskryf: ‘Hierdie Bybel is vertaal en sal ‘n regering van die mense, deur die mense en vir die mense, moontlik maak.’ Vyfhonderd jaar later het president Abraham Lincoln hierdie verklaring vir sy beroemde toespraak by Gettysburg geleen.

Dertig jaar nadat Wycliffe gesterf het, is hy weer as ‘n ketter verklaar. Gevolglik is sy liggaam opgegrawe, sy bene is tot stof verbrand en sy as is in ‘n rivier gegooi. ‘n Hedendaagse historikus beskryf die toneel as volg: ‘Thus this brook hath conveyed his ashes into (the river) Avon, Avon into Severn, Severn into the narrow seas, they into the ocean. And thus ashes… are the emblem of his doctrine… now… dispersed the world over.’

Daarom skryf Petrus: “‘Maar die woord van die Here hou vir ewig.’ En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.”

Sielskos: Est 1-4; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-27