Die sewe seuns van Skeva (2)
2021-10-231 Johannes 4:4 NLV
Ons leer twee belangrike dinge by die sewe seuns van Skeva: 1) Satan weet wie jy is. Die bose gees in hierdie man het met die seuns van Skeva gepraat en gesê: ‘…Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie is júlle?’ (Handelinge 19:15 NLV). Vraag: Het jy die tipe verhouding met God wat veroorsaak dat Satan jou naam ken en erken dat jy ‘n krag is om mee rekening te hou? Miskien dink jy heeltyd aan jou eie ontoereikenheid, jy dink dat jy nie goed genoeg vir die werk is nie. Verstaan mooi: dis nie vir jou wat die vyand bang is nie – dis vir God se Gees wat binne-in jou woon waarvoor hy bang is!
2) Wanneer die ‘dag van onheil’ aanbreek, sal jy ontdek of jy dit het wat nodig is. Paulus het gesê: ‘Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Die bose gees het die swakhede in die sewe seuns van Skeva herken en hulle van hulle valse voorwendsels gestroop.
Jy sal net oorleef as jou geloof opreg is, omdat jy eendag saam met God sal moet stap wanneer jy nie kan verstaan of verduidelik waarheen Hy jou neem nie. Jou tegnieke en talente sal jou nie daardeur bring nie. Jy gaan op sy Woord moet staan wanneer dit lyk asof dinge nie vir jou uitwerk nie. Dis dan wanneer jy sal ontdek dis nie: ‘…met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV).
Sielskos: Sef 1-3; Joh 6:1-24; Ps 85; Spr 24:11-14