Die regte houding
2024-02-10Spreuke 23:7 AFR53
Wat onderskei die beste van die res? Het jy al ooit daaraan gedink? Wat onderskei ‘n goue medaljewenner van ‘n silwer medaljewenner by die Olimpiese Spele? Wat onderskei ‘n suksesvolle entrepreneur van iemand wat dit nie maak nie? Wat maak dit moontlik vir een persoon om na ‘n uitmergelende ongeluk te floreer, terwyl iemand anders opgee en sterf? Hulle houding! Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ Jou houding kan jou grootste bate of jou grootste las wees. Dit kan jou maak of breek. Dit kan jou ophef of jou neervel. Die regte houding mag jou dalk nie in staat stel om alles te doen nie, maar dit sal jou help om enigiets beter te doen as hoe jy dit met ‘n verkeerde houding sou doen.
Die gelukkigste mense in die lewe het nie die beste van alles nie; hulle probeer eenvouding om die beste van alles te maak. Hulle is soos ‘n persoon in ‘n afgeleë dorpie wat daagliks by die put gaan water haal en sê: ‘Elke keer as ek by hierdie put kom, loop ek weer met ‘n vol emmer weg,’ in plaas daarvan om te sê: ‘Ek kan nie glo ek moet elke dag na hierdie put toe terugkom om my emmer vol te maak nie!’
Jou houding het ‘n diepgaande invloed op jou benadering tot die lewe. Vra ‘n chirurg of ‘n pasiënt se houding saak maak wanneer hy of sy daardie persoon se lewe probeer red. Vra ‘n onderwyser of ‘n student se houding ‘n impak het op die toets wat hulle aflê. Jesus het gesê: ‘…Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur’ (Matteus 9:29 NLV). Geloof put soos ‘n magneet krag uit God se mag uit.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 12:38-50; Ps 134; Spr 4:5-13