Die rede hoekom jy getoets word
2024-06-24Psalm 66:10 NLV
Het jy al ooit die regte ding probeer doen, net vir alles om verkeerd te loop? Toe Josef God geëer het deur vir Potifar se vrou nee te sê, het hy in die tronk beland. Daar het hy vir ‘n medegevangene gesê: ‘Want ek is ontvoer uit my geboorteland… Nou is ek in die tronk sonder dat ek iets verkeerds gedoen het’ (Genesis 40:15 NLV).
As dit is hoe jy vandag voel, het God nie sy rug op jou gedraai nie. Sy planne vir jou lewe het nie ontspoor nie. ‘Die Here… sal nie bedaar nie totdat Hy gedoen en bereik het wat Hy beplan het…’ (Jeremia 30:24 NLV). Jy mag dalk verward wees, maar God is nie. Hy gebruik elke oomblik van hierdie seisoen en elke deel van hierdie ervaring om jou voor te berei. ‘Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag’ (Psalm 105:18-19 DB).
Onthou jy hoe jy oor jou skooltoetse gevoel het? Dit het destyds soos vervolging gevoel, maar as jy terugkyk besef jy dat dit voorbereiding was. Dit het jou tot ‘n hoër graad bevorder. Dit het jou toegerus om in die regte lewe te leef. Die Psalmdigter het geskryf: ‘U het ons beproef, o God, soos silwer ons gesuiwer. U het ons met ‘n net gevang, ‘n sware las op ons geplaas. U het mense oor ons laat ry, ons deur vuur en vloed laat gaan, en tog gebring waar daar oorvloed is ‘(Psalm 66:10-12 NLV). God sal mense, pyn en probleme gebruik om jou te toets. Hoekom? Sodat Hy jou kan bring na die plek ‘waar daar oorvloed is.’
Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 2:1-7; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3