Die krag is in God se Woord

2020-03-21
2 Timoteus 3:16-17 NLV

Soos jy hierdie dagstukkie lees, moet jy onthou dat die krag nie in die skrywer se gedagtes of opmerkings lê nie, maar in die geskrewe Woord van God. Paulus sê vir ons: ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer…’ Dis met die goddelike sade van lewe bevrug en daardie sade sal binne-in jou opskiet, die vrug van die Gees produseer en God se beloftes in jou lewe tot stand bring. Sien hierdie dagstukkie as ‘n poort, eerder as ‘n doelwit. Sien dit as die klein boekie wat jou eetlus vir die Groot Boek aanwakker! Hou die Bybel byderhand wanneer jy elke dag se dagstuk lees en blaai na die teksverse waarna verwys word. Soos jy die Woorde van God elke dag in jou deponeer, sal wonderlike dinge in jou lewe begin gebeur. Die Psalmdigter skryf: ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses, of rondstaan op die pad van sondaars, of sit in die vergadering van spotters nie, maar vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (Psalm 1:1-3 NLV). Let op die woorde: ‘in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig.’ Soos jy jou gedagtes met die Skrif vernuwe, sal jou geloof groei, jou uitkyk verander en elke area in jou lewe sal ten goede begin verander. ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd in ons lewe is. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.’

Sielskos: Job 11-14; Matt 24:26-35; Ps 13; Spr 8:14-16