Die Fariseër en die prostituut

2022-03-12
Lukas 7:47 NLV

Een dag was Jesus besig om by die huis van ‘n Fariseër te eet, toe ‘n prostituut binnekom. ‘…Toe het sy sy voete bly soen en aromatiese olie daaraan gesmeer. Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak…’ (verse 38-39 NLV).

Simon die Fariseër was egter verkeerd. Dit was nie dat Jesus nie geweet het nie, dis net dat Hy nie omgegee het nie! Daardie dag het Hy haar sondes vergewe en haar verlos, herstel en herlei. Hierdie verhaal bevestig wat ons reeds weet; Jesus het gekom om sondaars op die straat en skynheiliges in die kerk te red. Niemand is buite sy genade se bereik nie.

Met dit ingedagte, onthou die volgende: 1) Moet nooit vergeet waarvan God jou gered het nie! Let op wat Jesus vir Simon die Fariseër gesê het: ‘…Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!’ (vers 47 NLV). Toe hy die sondes van sy verlede onthou het, het Dawid geskryf: ‘…Hy het afgebuig… en my opgetel… uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan… Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou’ (Psalm 40:2-4 NLV).

2) Onthou dat Jesus nie na jou verlede kyk nie, maar na jou toekoms. Die skare het die vrou as onkruid gesien, maar Jesus het haar as ‘n roos gesien en vir haar water gegee. As jy vandag vergifnis nodig het, kom na Jesus toe. Wanneer Hy jou dan vergewe, stort jou hart in lof voor Hom uit.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23