Die breekproses (2)
2024-02-18Psalm 51:19 NLV
Gebrokenheid lei tot seën. Om ‘n dubbele deel van Elia se gees te ontvang, moes Elisa, wat ‘n boer was, sy jukke opkap en twee van sy osse slag. Om haar liefde vir Jesus te demonstreer, moes Maria haar kosbare olie oor Hom uitgiet. Om die Midianiete te oorwin, moes Gideon se driehonderd soldate hulle erdepotte breek, hulle fakkels laat skyn en hulself ‘n teiken maak. Die waarheid is dat God elkeen van ons in verskillende areas breek om ons te kan gebruik. Watter areas? Slegte gewoontes. Hardkoppigheid. Opgeblaaste ego’s. Bose gedagtes. Verlammende vrese. Geheime vooroordele. Misplaaste ambisies. Die lys is eindeloos. As jy na die ooste toe kyk, sal jy nie wes beweeg nie, dus sal God jou omdraai.
Soms verg dit dissipline. Dis jy, nie God nie, wat die lengte en omvang van daardie dissipline bepaal. ‘Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:11 NLV). As jy ‘n ouer is, sal jy verstaan. Een kind sal in trane uitbars, terwyl ‘n ander kind jou sal teenstaan. God sal doen wat ook al nodig is om jou uit jou selfgenoegsaamheid te breek!
Paulus skryf: ‘Mag God self… julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar tot wanneer ons Here Jesus Christus terugkom’ (1 Tessalonisense 5:23 NLV). Let op dat jou liggaam laaste in die transformasieproses kom. As ‘n wedergebore gees wat in ‘n onwedergebore liggaam leef, sal jy altyd teen die vlees veg. Wat is die geheim tot oorwinning? Gebrokenheid en oorgawe!
Sielskos: Eks 20:14; Spr 6:23-35; Matt 5:27-30; 1 Kor 6:9-20