Die belangrikheid van goeie werke

2024-06-20
1 Johannes 3:18 NLV

Die woord ‘liefde’ is nie net ‘n selfstandige naamwoord nie, maar ook ‘n werkwoord. Dit word nie net gedemonstreer deur wat jy sê nie, maar ook deur wat jy doen. In ‘n klein Joodse dorpie in Rusland is daar ‘n rabbi wat na bewering vir ‘n paar uur elke Vrydagoggend nie te vinde was nie. Sy volgelinge beweer dat hy gedurende hierdie tyd opgaan hemel toe om met God te praat.

‘n Vreemdeling het in die dorp ingetrek en was skepties oor al hierdie dinge, daarom het hy besluit om uit te vind wat werklik op Vrydagoggende gebeur. Hy het gesien hoe die rabbi die oggend opstaan, sy gebede doen en toe gewone klere aantrek. Die rabbi het ‘n byl gegryp en in die woud gegaan en vuurmaakhout gekap, wat hy na ‘n hut aan die buitewyke van die dorpie geneem het waar ‘n ou vrou en haar siek seun gewoon het. Hy het vir hulle genoeg hout vir ‘n week gelos en toe teruggesluip huis toe. Nadat hy die rabbi se gedrag self waargeneem het, het die nuweling sy dissipel geword.

Jy kan nie jou verlossing verdien deur goeie werke te doen nie, maar as jy werklik gered is, sal jou optrede en gesindhede bewys dat jy werklik verlossing ontvang het. Paulus het die volgende twee Skrifgedeeltes aan Titus geskryf: ‘Wat jou betref, jy moet in alles wat jy sê en doen ‘n voorbeeld stel van hoe ‘n Christen behoort te leef. Doen goed aan ander mense’ (Titus 2:7 DB). ‘…Ek wil hê jy moet vir die mense wat in God glo, duidelik sê dat hulle hard moet probeer om goeie dinge te doen. Al hierdie dinge is mooi en goed vir die mense’ (Titus 3:8 ABA).

Sielskos: Eseg 43-45; Luk 1:39-56; Ps 139:1-6; Spr 15:25-27