Die antwoord is: dankbaarheid
2021-10-29Psalm 116:12 NLV
Die sekerste manier om jou kind se vooruitsigte op ‘n gelukkige lewe te verwoes, is om aan elke gril en nuk van hom toe te gee, vir hom te leer dat die wêreld hom iets skuld, ‘n sin van geregtigheid by hom te kweek en hom onder geen omstandighede hard te laat werk en die bevrediging wat met dissipline, opoffering en goeie werk gepaardgaan, te laat ervaar nie.
In die klassieke boek, Little Women, vertel mev March die volgende verhaal aan haar dogters: ‘Eens op ‘n keer was daar vier meisies wat genoeg gehad het om te drink, te eet en aan te trek, baie gemak en plesier, vriendelike vriende en ouers gehad het, maar tog was hulle nie tevrede nie. Hierdie meisies het aanhoudend gesê: ‘As ons maar net dit gehad het,’ of ‘As ons maar net dat kon doen.’ Toe het hulle ‘n ou vrou gevra watter towerspreuk hulle kon gebruik wat hulle gelukkig kon maak. Sy het vir hulle gesê: ‘Wanneer jy ontevrede voel, dink aan al jou seëninge en wees dankbaar daarvoor.’ Hulle het haar raad uitprobeer en was gou verras om te sien hoe welaf hulle is.
Een meisie het ontdek dat geld nie hartseer uit ryk mense se huise kon hou nie; ‘n ander een het ontdek dat sy baie gelukkiger met haar jeugdigheid, gesondheid en opgewektheid was as ‘n sekere angstige, swak ou dame wat nie die lewe kon geniet nie; ‘n derde meisie het gevind dat, so onaangenaam soos wat dit was om aandete te moet maak, dit nog erger was om daarvoor te moet bedel. Dus het hulle besluit om op te hou kla en die seëninge wat hulle reeds in besit gehad het, te geniet.’
Die vraag is: ‘Hoe kan ek die Here vergeld vir al sy goeie dade aan my?’ Die antwoord is: Dankbaarheid!
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 7:14-24; Ps 104:19-26; Spr 24:28