Denke vir dromers
2018-08-23Genesis 37:5 NLV
Eerstens, is dromers gewillig om opofferings te maak. Wanneer God ‘n droom in jou hart plaas sal jy sekere opofferings moet maak, soos om korttermyn plesier vir langtermyn vervulling te ruil. Paulus het hierdie beginsel verstaan: ‘Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:23-24 NLV). Tweedens, word dromers nie altyd waardeer nie. ‘Een nag het Josef ‘n droom gehad. Hy het dit vir sy broers vertel, waarna hulle hom nog meer gehaat het.’ Sommige mense sal nie jou droom waardeer nie, omdat dit hulle aan die droom wat hulle nooit gehad het nie of wat hulle eenkant toe gestoot het, herinner. Hulle sal jou met elke logiese verskoning daarvan probeer laat afsien. Hoe moet jy reageer? Wees lief vir hulle, help hulle as jy kan, maar moenie deur diegene wat hulle droom opgegee het, beïnvloed word nie. Die skrywer John Mason sê, ‘As jy saam met God beweeg, sal jy gekritiseer word. Die enigste manier om kritiek te vermy is om niks te doen en niks te wees nie.’ Derdens, dromers is oorwinnaars. Josef se droom het hom in staat gestel om Potifar se vrou te weerstaan, sy familie se verraad, gevangenskap en ‘n klomp ander dinge wat hom kon laat opgee het, te oorkom. Om jou droom te ontdek, leer jouself ken: jou sterk- en swakpunte. Observeer waar God jou geplaas het, vra Hom raad en kyk uit vir geleenthede en ‘koninkrykskonneksies.’ Wanneer jy dit doen, sal Hy jou ‘n droom vir jou lewe gee en jou help om dit te vervul.
Sielskos: 2 Kro 16-18; Luk 16:1-18; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31