Christus kom weer!
2023-04-302 Petrus 3:10 NLV
Moenie dat mense wat datums voorspel jou sinies oor Christus se spoedige wederkoms maak nie. Toe die stigter van ‘n groot kerkdenominasie in die pers die datum van Christus se wederkoms voorspel het, moes sy opvolgers in die openbaar erken dat hulle verkeerd was. Onthou jy die skrikaanjaers van Y2K? Hulle het dit ‘n wetenskaplike sekerheid verklaar dat die jaar 2000 die einde van die wêreld en die wederkoms van Christus sou meebring en het veroorsaak dat mense hul werk los, hul huise verkoop, kos opgaar en na die heuwels toe vlug. As gevolg van sulke verleenthede, verswyg of onderbeklemtoon baie predikers die waarheid van Christus se tweede koms. Ja, wanneer sommige mense die boodskap hoor, rol hulle hul oë en sê: ‘Nie alweer nie!’
Twyfel oor Christus se wederkoms is egter een van die tekens wat waarborg dat dit gaan gebeur. Die Bybel sê: ‘Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is. Hulle sal soos volg redeneer: ‘Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was’… Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief… Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God’ (2 Petrus 3:3-4, 9-10, 14 NLV).
Sielskos: Kol 1:9-23; 1 Sam 3