Christus kan jou vry maak

2024-09-05
Psalm 101:3 AFR53

Pornografie is besig om die wêreld oor te neem en laat gebroke families in sy pad agter. Baie kerkgangers wat probeer om daarvan weg te breek voel geïsoleer en hulpeloos. Een studie het bevind dat 68 persent van manlike kerkgangers pornografie op ‘n gereelde basis kyk. Wanneer jy daarna kyk, word kragtige neurotransmitters soos dopamien vrygestel wat jou aan die beelde waarna jy kyk, bind. Sommige kerke hanteer hierdie kwessie as ‘n streng morele een, sonder om te besef dat dit ook ‘n breinprobleem is. Ons raai mans aan om harder te probeer, meer te bid en die Here liewer te hê. Dit is belangrik. Maar wanneer jy egter die vlees met die krag van die vlees beveg, veg jy op die ou einde teen jouself. Wat is dan die antwoord?

Jou denkpatrone moet vernuwe word, wat ‘n proses is. Wanneer jou brein op die verkeerde manier opgelei is, moet dit op die regte manier opgelei word. Dit verg ‘n radikale toewyding daaraan, soos om pornografie uit jou lewe te verwyder en jouself soms aan ‘n geestelik volwasse vriend aanspreeklik te hou, na wie jy in tye waarin jy getoets word kan draai. Bo alles, verg dit om jou gedagtes met God se Woord te herprogrammeer.

Paulus skryf: ‘Nou wil ek julle baie ernstig vra…: As julle dink aan alles wat God in sy groot ontferming vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe….’ (Romeine 12:1-2 NLV). Jy hoef nie in slawerny aan pornografie te leef nie. Christus kan jou vry maak.

Sielskos: Jos 11-13; Luk 19:41-48; Ps 111; Spr 23:4-6