2026-07-13
Prediker 4:12 NLV
Salomo het geskryf: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.’ Met ander woorde, wees ‘n spanspeler. In Deuteronomium 32:30 lees ons van een persoon wat 1 000 mense laat vlug het en twee persone wat 10 000 mense op die vlug laat slaan het. Dit beteken dat twee persone wat saamwerk, tien keer effektiewer is as een enkele persoon. Spanne skep sinergie. Die beste verduideliking van sinergie is dat ‘n hand effektiewer is as vyf vingers wat onafhanklik van mekaar werk.
Toe die pers vir Edmund Hillary vra wat sy sleutel tot sukses is nadat hy die eerste persoon was om die piek van Mount Everest te bereik, was sy reaksie inspirerend: ‘Ons grootste sterkpunt in 1953 op Everest was ons baie sterk spangees. Individueel, as bergklimmers, was ons nie besonder kundige mense nie. Ons was bekwame klimmers, maar ons het saamgewerk en ons was vasbeslote dat iemand bo moes uitkom. Ons almal wou natuurlik daardie persoon wees om dit te doen, maar dit was selfs belangriker dat iemand in die groep die kruin moet bereik. Deesdae is hierdie spangees nie meer so algemeen nie. Daar is baie meer prima donnas in die moderne klimgemeenskap, mense wat oor groot vaardighede en groot individualisme beskik, maar wat dalk nie so entoesiasties saamwerk soos ons nie.’
Die waarheid is dat geen individu so slim en sterk is soos wanneer ons almal as ‘n groep saamwerk nie. Dr John Maxwell stel dit as volg: ‘Teamwork makes the dream work.’ Wees dus bereid om jou persoonlike agenda vir die tipe sukses wat slegs deur ‘n span bereik kan word, op te offer.
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Matt 26:26-35; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6
2026-07-12
Psalm 5:4 NLV
Hoe begin jy jou dag met God? As jy nie ‘n ‘oggendmens’ is nie, moenie druk op jouself plaas om heel eerste in die oggend ‘n lang tyd te bestee om die Skrif te lees en te bid nie. In plaas daarvan om jouself in die oggend te dwing om ‘n lang stiltetyd te hou, probeer – so vroeg moontlik nadat jy wakker geword het – om net ‘n paar minute alleen met God te bestee. Doen dan die volgende drie dinge:
Eerstens, erken jou afhanklikheid aan God.
Tweedens, vertel Hom van jou bekommernisse vir die dag.
Derdens, nooi God uit om die dag saam met jou deur te bring.
Die Psalmdigter het gesê: ‘Here, in die oggend sal U my stem hoor. Soggens bring ek my versoeke vol verwagting na U toe.’ Toe het hy bygevoeg: ‘Voor dagbreek roep ek om hulp, en plaas my hoop op u woord’ (Psalm 119:147 NLV).
Hoe kan jy dan jou dag met God begin? Moenie probeer om baie nuwe dinge uit te probeer en te doen nie. Doen net die dinge wat jy normaalweg doen – maar doen dit saam met God. Ons praat dikwels daaroor om die oomblik te omarm en die dag aan te gryp. Ons is egter nie veronderstel om oomblikke te omarm en dae aan te gryp nie, ons is veronderstel om God te omarm en aan te gryp. Oomblikke is nie altyd goed nie, maar God is nooit enigiets anders as goed nie. ‘Loof die Here, want Hy is goed!..’ (Psalm 118:1 NLV).
Herinner jouself daaraan dat God vandag by jou is en dat Hy goed teenoor jou en vir jou sal wees.
Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18
2026-07-11
Jakobus 5:11 NLV
Jakobus het geskryf: ‘Liewe broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het, as ‘n voorbeeld van geduld in swaarkry. Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ‘n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde’ (Jakobus 5:10-11 NLV). Hier word ons herinner om terug te kyk en bemoedig te word deur diegene wat ons vooraf gegaan het terwyl ons wag vir die Here se wederkoms.
Kyk na Hosea: Sy vrou het hom verlaat, maar hy het getrou volhard en God het hul huwelik herstel (sien Hosea 3:1-3). Kyk na Daniël: Hy is in ‘n leeukuil gegooi omdat hy standvastig in sy geloof gestaan het, maar God het hom verlos en bevorder (sien Daniël 6:1-28). Kyk na Jeremia: Hy is gearresteer, daarvan beskuldig dat hy ‘n verraaier is en in ‘n put gegooi om te sterf (sien Jeremia 37-38). Hy het egter opgekyk en God het hom verlos.
Dan is daar die lys van die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word! Diegene van ons wat deur familielede verwerp is, kan na Abel terugkyk (vers 4). Diegene wat misverstaan word, kan na Noag terugkyk (vers 7). Diegene wat ‘n krisis van geloof ervaar en voel of hulle teen die onmoontlike te staan kom, kan na Abraham terugkyk (vers 8-10). As jy misbruik of mishandel is, kan jy na Josef terugkyk (vers 22). Diegene wat met struikelblokke in die lewe gekonfronteer word, kan na Josua terugkyk (vers 30). Diegene wat ‘n sondige verlede wil oorkom, kan na Ragab terugkyk (vers 31).
Die woord vir jou vandag is dus: Kyk terug en word bemoedig.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Matt 26:14-25; Ps 109:16-31; Spr 18:1-3
2026-07-10
1 Korintiërs 11:24 NLV
Hier is drie redes waarom jy nagmaal moet gebruik:
1) Om jou bewus van die grootheid van God se genade te maak. Niemand gaan ooit in die hemel aankom en sê: ‘Kyk wat het ek en Jesus bereik!’ nie. As jy een sent van jou sondeskuld betaal het, sou dit jou ‘n mede-verlosser met Christus gemaak het. Wat ‘n bespotting van die kruis! (sien Efesiërs 2:8-9). Die gesangeskrywer Horatio Spafford het geskryf: ‘My sin, oh the bliss of this glorious thought. My sin, not in part but the whole, is nailed to the cross, and I bear it no more. Praise the Lord, praise the Lord, O my soul!’
2) Om jou sensitief vir sonde te hou. ‘Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink. Want as julle sommer so op ‘n onbedagsame manier van die brood eet en uit die beker drink, drink en eet julle ‘n oordeel oor julleself’ (1 Korintiërs 11:28-29 NLV). Jy vra: ‘As ek sondig en nagmaal gebruik, beteken dit dat ek myself dan verdoem?’ Nee, die manier waarop jy God nader, is wat belangrik is. Jy hoef nie die nagmaalbeker te vermy nie; maar jy moet jou sondes bely en dan met dankbaarheid drink.
3) Om jou op Christus se wederkoms gefokus te hou. ‘…Ek [sal] nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koningkryk van God’ (Markus 14:25 NLV). Elke nagmaaldiens bring jou een stap nader aan die grootste nagmaaldiens van almal: die bruilofsmaal van die Lam in die hemel (sien Openbaring 19:7). Beplan jy om daar te wees?
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Matt 26:1-13; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28
2026-07-09
Romeine 8:5 NLV
Neurowetenskaplikes noem dat elke klank, elke ervaring, elke bewuste gedagte en elke onbewustelike droom opgeneem en op ons eksterne hardeskyf, die serebrale korteks, gegraveer word. Vergelyk dit nou met die volgende Skrifgedeelte: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:5 NLV). Jesus Christus se gesindheid is die Woord van God. Jesus is immers ‘die Woord’ (sien Johannes 1:1).
Wanneer jy bid, mediteer, of die Skrif memoriseer, graveer jy Jesus op jou brein. Neurologies gesproke maak jy nuwe neuroverbindings en herlei oues. Stadig maar seker word jou brein herbedraad en vernuwe. Dink so daaraan – jy laai God se woorde en gedagtes op jou hardeskyf af. Mettertyd word jou hardeskyf dan deur God se woorde en gedagtes opgegradeer, totdat Christus se gesindheid in jou gedagtes begin vorm.
Mark Batterson sê dat hy die Bybel as volg lees: ‘Ek lees totdat ek ‘n vers teëkom wat my aandag trek en laat huiwer. Dis dikwels iets waaroor ek moet dink of bid. Soms is dit die oortuiging van die Heilige Gees en moet ek eers ‘n gesprek met God hê voor ek kan voortgaan. Wanneer ek by so ‘n vers kom, doen ek drie dinge: Eerstens onderstreep of omkring ek die vers in my Bybel. Tweedens skryf ek dit met die hand in my joernaal neer. Derdens skryf ek gedagtes, belydenisse en idees wat daarmee geassosieer word, neer. Wanneer ek voel dat die Heilige Gees afsluiting bring, beweeg ek aan na die volgende vers.’
Dit is drie goeie idees wat ook vir jou sal werk.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Matt 25:31-46; Ps 79; Spr 17:24-26
2026-07-08
Kolossense 1:13 NLV
Jimmy Wayne het nooit sy pa geken nie en sy ma het meer tyd in die tronk as daarbuite deurgebring. Toe Jimmy twaalf was, is sy ma uit die tronk vrygelaat en het sy ‘n verhouding met ‘n berugte moeilikheidmaker aangeknoop. Sy ma en haar nuwe kêrel het vir Jimmy in hul kar gelaai en vir ‘n hele jaar lank was daardie kar hulle tuiste. Toe, eendag, het hulle hom by ‘n busstasie afgelaai en weggery. Hy het geen huis, geen toekoms en geen geld gehad nie.
Terwyl hy deur ‘n buurt rondgedwaal het, het hy ‘n ouer man wat houtwerk in sy motorhuis doen, gewaar. Hy het die bejaarde man genader en gevra of hy vir hom werk het. Hy het nie net ‘n werk vir Jimmy Wayne gegee nie, maar hom ook ingeneem om by hom en sy vrou te woon. Om in ‘n huis te woon het vir Jimmy soos die hemel gevoel. Tog, ten spyte van hul vriendelikheid en gasvryheid, het hy geweier om sy sak uit te pak. Vir vier dae het sy plastieksak vol klere op die vloer gelê, gereed om gegryp te word wanneer die man en vrou van plan verander. Hulle het Jimmy egter uiteindelik oortuig om hulle te vertrou om vir hom te sorg.
Miskien bevraagteken jy jou plek in God se familie of sy liefde vir jou. Wat as Hy van plan verander? God het daardie vraag aan die kruis beantwoord. Toe Jesus gesterf het, is daar vir altyd in jou guns besluit. ‘Hy het ons gered uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun.’ Wat het op die ou einde van Jimmy Wayne geword? Hy het sy plek in sy aangenome familie ingeneem, ‘n opvoeding ontvang en ‘n country-sanger en liedjieskrywer geword.
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Matt 25:14-30; Ps 137; Spr 17:22-23