2026-07-19
1 Korintiërs 15:58 NLV
In die dae toe groot beesplase volop in Amerika was, is ‘n klein esel soms aan ‘n wilde perd vasgemaak en dan op die vlaktes losgelaat. Die wilde perd sou die esel kilometers ver sleep en hom soos ‘n sak voer rondgooi. Binne ‘n paar dae sou hulle egter terugkeer. Die klein esel sou eerste opgemerk word, waar hy terug plaas toe met sy onderdanige perd draf. Iewers op die vlaktes sou die perd uitgeput raak en homself van die esel probeer losmaak. Op daardie oomblik het die esel die meester van die twee geword. Die stadige, geduldige, onbelangrike dier het die leier van die vinniger, meer wispelturige en meer gewaardeerde een geword.
Wat het die verskil gemaak? Om ‘n standvastige doel te hê! Wat was die esel se doel? Om terug huis toe te gaan! Dus, maak nie saak hoeveel keer die perd baklei het, aan die tou getrek het en op sy rug beland en woedend geskop het nie, die esel het elke keer wat hy weer op sy voete gekom het, nog ‘n paar treë in die rigting van die plaas gegee. Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat die moeë en uitgeputte perd besluit om by hom in te val.
Een van die groot temas van die Skrif is om ‘n standvastige doelwit te hê. Samuel het vir die Israeliete gesê: ‘Julle moenie weggaan van Hom nie, want dan gaan julle na die afgode toe wat niks beteken nie en wat nie kan help en red nie’ (1 Samuel 12:21 ABA). Jesaja het geskryf: ‘…Ek het my gesig hard soos vuurklip gemaak. Ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie’ (Jesaja 50:7 NLV). Paulus het geskryf: ‘…staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk…’
Sielskos: Matt 5:10; 2 Kor 4:8-10; Rom 12:14
2026-07-18
Josua 5:13 NLV
Laat in Januarie 1956 het dr Martin Luther King Jr. ‘n dreigende telefoonoproep by sy huis ontvang. Dit was nie die eerste onheilspellende boodskap wat hy ontvang het nie. Op hierdie nag, terwyl sy kinders en sy vrou geslaap het, was die gewig van die Burgerregtebeweging vir hom te swaar. Hy het besluit dat die risiko te groot is. Hy het begin om ‘n uittreestrategie neer te skryf. Om middernag het hy sy kop by die kombuistafel gebuig en begin bid: ‘Ek is bang. Die mense kyk na my vir leierskap en as ek sonder krag en moed voor hulle staan, sal hulle ook wankel. Ek het die einde van my kragte bereik. Ek het niks oor nie. Ek het by die punt gekom waar ek dit nie alleen kan trotseer nie.’
King beskryf wat volgende met hom gebeur het, as volg: ‘Ek het die teenwoordigheid van die Goddelike ervaar soos ek Hom nog nooit tevore ervaar het nie. Dit het gevoel asof ek die stil versekering van ‘n innerlike stem kon hoor wat sê: ‘Staan op vir geregtigheid, staan op vir die waarheid; en God sal vir ewig aan jou sy wees.’ Toe hy ‘n ontsaglike uitdaging in die gesig gestaar het, het dr King sy fokus verskuif en hom na God gewend.
Die Bybel sê: ‘Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ‘n man voor hom sien staan met ‘n swaard in sy hand…’ Nadat Josua sy oë van Jerigo af opgelig het, het ‘n goddelike boodskapper voor hom met die oplossing vir sy probleem gestaan. Solank jy jou oë net op jou probleem hou, sal jy nie jou probleemoplosser sien nie. Jy moet opkyk. ‘Ek kyk op na die berge. Kom my hulp daarvandaan? Nee, my hulp kom van die Here…’ (Psalm 121:1-2 NLV).
Sielskos: 1 Tim 1-3; Matt 27:11-26; Ps 140; Spr 18:21-22
2026-07-17
Josua 6:2 NLV
Jerigo se mure was enorm. Hulle het veertig voet bo die grond die stad soos ‘n wapenuitrusting omhul. Hulle was ondeurdringbaar. Josua het nie Jerigo se mure afgebreek nie – God het. God sal dit vir jou ook doen. Jou Jerigo is jou vrees, woede, bitterheid of vooroordeel. Dit is ook jou onsekerheid oor die toekoms; jou skuldgevoelens oor die verlede en jou negatiwiteit, angs en geneigdheid om te kritiseer, oor te analiseer of te kompartementaliseer. Jou Jerigo is enige omstandigheid, houding of denkwyse wat jou van vreugde, vrede of rus weerhou.
Jerigo versper jou pad, dus moet sy mure val! ‘…oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee’ (Josua 1:11 AFR83). Die werkwoord wat as ‘in besit neem’ vertaal word, beteken ‘om vorige huurders uit te dryf en in hul plek te besit.’
Satan sal egter nie sonder ‘n geveg vertrek nie. Hy sal weerstand bied. Hy sal terugstoot. Hy sal egter nie wen nie. Hoekom nie? Omdat God reeds verklaar het dat jy die oorwinnaar is. “Die Here het vir Josua gesê: ‘Ek gee jou beheer oor Jerigo, sy koning en sy soldate.'” God het nie gesê: ‘Josua, neem die stad in,’ nie. God het gesê: ‘Josua, ontvang die stad wat Ek ingeneem het.’ Dieselfde kan van jou en jou uitdaging gesê word.
Jy vra: ‘Wat staan my dus te doen?’ 1) Ontvang jou oorwinning deur geloof, net soos jy jou verlossing ontvang het. 2) Spreek oorwinning uit. Maak seker dat jou woorde met God se woorde ooreenstem. 3) Wandel in jou oorwinning, een dag op ‘n slag.
Sielskos: Nah 1-3; Matt 27:1-10; Ps 133; Spr 18:17-20
2026-07-16
Psalm 119:103 NLV
In die antieke Joodse kultuur het formele onderwys op sesjarige ouderdom begin. Joodse seuns het by die plaaslike sinagogeskool genaamd bet sefer ingeskryf, wat ‘huis van die boek’ beteken. Teen die tyd dat hulle vier jaar later hul skoolloopbaan voltooi het, het hulle die hele Tora gememoriseer – elke punt en komma van Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium is deur memorisering en herhaling op hul serebrale korteks gegraveer. Daar gaan ons verskoning dat ons sukkel om dinge te onthou!
Volgens tradisie sou die rabbi die studente se leie waarop hulle skryf, die eerste dag van die klas met heuning bedek. Dan sou die rabbi sy klas opdrag gee om die heuning van hul leie af te lek terwyl hulle Psalm 119:103 (NLV) voordra: ‘Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond.’ Dit was die eerste en miskien belangrikste les in hul hele opvoeding. Die rabbi wou hê sy studente moes op die Woord van God verlief raak. Hy wou hê hulle moes proe en sien dat die Woord goed is (sien Psalm 34:9).
Jeremia het ook so gedink: ‘Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God’ (Jeremia 15:16 AFR83). Dawid het gesê: ‘Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige’ (Psalm 119:130 NLV). Salomo het gesê: ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV).
Wanneer jy ‘n smaak vir God se Woord ontwikkel, sal die Heilige Gees, wat die outeur van die Woord is, twee dinge vir jou doen. Eerstens sal Hy dit aan jou openbaar. Tweedens sal Hy jou daaraan herinner.
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Matt 26:57-75; Ps 123; Spr 18:13-16
2026-07-15
Josua 3:10 NLV
Dit was geen geringe taak om die Jordaanrivier, wat op plekke tot ‘n myl breed was, oor te steek nie. Veral nie met ‘n miljoen mense wat jou volg nie! God het gesê: ‘…jy [moet] gereedmaak om my volk deur die Jordaanrivier te lei…’ (Josua 1:2 NLV). Dink jy hulle was bang? Sou jy gewees het? ‘Die priesters wat die ark dra, het… hulle voete in die vlak water [ge]sit…’ (Josua 3:15 NLV). Dit was ‘n klein treetjie, maar God kan die kleinste treetjie van geloof in die magtigste wonderwerk omskep.
Toe die priesters se voete die water raak, het die water begin opdam asof iemand die kraan toegedraai het. Vervolgens lees ons: ‘…Almal van Israel het deur die droë bedding gegaan…’ (vers 17 NLV). Deur hierdie wonderwerk te verrig, wou God hê Israel moet weet: ‘…Vandag gaan julle weet dat die lewende God hier tussen julle is…’ Israel het hierdie werklikheid besef toe hulle op droë grond gestaan en na die Jordaan teruggekyk het.
Ons besef hierdie werklikheid wanneer ons op die voltooide werk van Christus staan en na die kruis terugkyk. Laat die kruis jou oortuig. Wees seker van God se getrouheid. Die Psalmdigter beskryf ‘n persoon van geloof as volg: ‘…hy is gerus, hy vertrou op die Here’ (Psalm 112:7).
Die lewe het baie onbeantwoorde vrae, maar jy hoef nie aan God se belofte om jou te verlos, te twyfel nie. ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:32 NLV). Rus in jou verlossing. Die verlede is verby. Jou toekoms blink.
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Matt 26:47-56; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12
2026-07-14
Jesaja 41:10 NLV
Dr George Washington Carver het rassevooroordeel oorkom en ‘n opvoedkundige, wetenskaplike en uitvinder geword wat deur die Amerikaanse Kongres vereer is. Hy was ook ‘n volgeling van Christus. Hy het die volgende oor gebed gesê: ‘My gebede is meer van ‘n lewenswyse as enigiets anders. Ek vra die Groot Skepper stilweg, daagliks en dikwels, verskeie keer per dag vir toestemming om met Hom te praat. Ek vra Hom om vir my wysheid, begrip en liggaamlike krag te gee om sy wil te doen; ek vra en ontvang dus heeltyd.’
Carver het baie uitvindings in die wêreld uitgestuur en was veral bekend vir uitvindings wat met grondboontjies te doen gehad het. Hy het op die waarheid van die volgende Skrifgedeeltes gestaan: ‘Ek sal voor jou uitgaan en berge gelyk maak…’ (Jesaja 45:2 NLV). ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel…’ (Jeremia 33:3 NLV). ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV).
Gee besondere aandag aan Carver se woorde: ‘Ek vra en ontvang dus heeltyd.’ Gebed was nie sy laaste uitweg nie, maar sy eerste keuse. Vir hom was dit meer as ‘n godsdienstige ritueel; dit was ‘n wyse om voortdurend met die God wat hy liefgehad het te kommunikeer, deur soms te praat en soms te luister, maar ten alle tye sensitief en bewus van die teenwoordigheid van God te wees. Daaglikse gebed behoort dieselfde vir jou te beteken.
Sielskos: Obad; Mal 1-4; Matt 26:36-46; Ps 118:10-18; Spr 18:7-9