2026-07-25
Galasiërs 6:9 NLV
Die Heilige Gees gee ons wysheid bo ons kennis, mag bo ons krag, en gawes bo ons vermoëns. Met sy hulp word ons beter as ons beste poging en beter as ons beste gedagte. Ons word die beste weergawe van onsself. Natuurlik neem dit ‘n leeftyd. Daarom het Paulus geskryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie sal ons op die regte tyd oes.’
Dit is moeilik om ‘n boer voor te stel wat ‘n landery vol koring plant en dan verbaas is dat dit nie mielies oplewer nie. Hoekom? Omdat jy maai wat jy saai. Tog lyk sommige van ons geskok wanneer die saad van sonde hul oes oplewer. Wat plant jy dus? Liefde of haat? Vreugde of ondankbaarheid? Geduld of ongeduld? Selfbeheersing of selfbevrediging? Die wet van saai en maai kan jou breek of jou maak – mits jy aanhou om die regte saad te saai. Wil jy ‘n oorvloedige oes hê? Dan het jy meer van die Heilige Gees nodig.
Die Heilige Gees kan jou egter nie vul as jy vol van jouself is nie. Die voorvereiste om dus meer van die Heilige Gees te hê, is om eerlik, nederig en honger vir sy leiding te wees. Galasiërs 5:22-23 gee ‘n lys van die nege vrugte wat die Heilige Gees in ons lewe voortbring. As jy meer van die Heilige Gees wil hê, beteken dit dat jy letterlik meer liefde, meer vreugde, meer vrede, meer geduld, meer vriendelikheid, meer goedheid, meer getrouheid, meer sagmoedigheid en meer selfbeheersing wil hê (sien Galasiërs 5:22-23). Die goeie nuus is dat jy soveel van die Heilige Gees kan hê as wat jy wil.
Sielskos: Esra 6-8; Matt 28:11-20; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17
2026-07-24
Johannes 14:26 NLV
Jesus het gesê: ‘…wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom… sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet neem, het jy ‘…geestelike wysheid en insig…’ (Efesiërs 1:17 NLV), nodig. Wanneer jy in ‘n moeilike situasie is en onseker is oor wat om te sê: ‘…Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat’ (Markus 13:11 NLV).
Wanneer jy dit moeilik vind om liefde te betoon? ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde…’ (Galasiërs 5:22 NLV). Dieselfde geld vir elke vrug van die Gees. Moet jy ‘n verslawing oorkom? ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (verse 22-23 NLV). Selfbeheersing is eintlik ‘n oksimoron, want dit kom nie van jouself af nie. Dis die Gees wat dit voorsien, dus is dit eintlik Geesbeheersing. Jy het meer van die Heilige Gees nodig.
Die Gees van God wil jou nie net vul nie; Hy wil jou ook uitdaag en jou kapasiteit vergroot. As jy voel of jou lewe vandag in chaos en wanorde is, is die Gees van God – net soos Hy aan die begin van die skepping was toe Hy lig uit die duisternis, orde uit chaos en skoonheid uit niks voortgebring het (sien Genesis 1:1-3), steeds daar. Maak nie saak watter vraag jy het nie, die Heilige Gees is die antwoord. Maak nie saak watter probleem jy in die gesig staar nie, die Heilige Gees is die oplossing. Jy het soveel as moontlik van Hom nodig, dus moet jy soveel as moontlik van jouself aan Hom oorgee.
Sielskos: Esra 3-5; Matt 28:1-10; Ps 42:1-5; Spr 19:12-14
2026-07-23
Josua 1:9 NLV
Toe God vir Josua gesê het: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees…’ het die woord ‘wees’ eintlik beteken dat Josua dapper moet ‘word.’ Dapperheid is ‘n eienskap waaraan jy moet werk. Josua was reeds in die Beloofde Land. Hy het geweet dat daar sewe nasies was wat verower moes word. Hy was deeglik bewus van die probleme wat hy sou moes trotseer. Dus het God gesê:
1) ‘Nee, moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is ‘n groot en ontsagwekkende God’ (Deuteronomium 7:21 NLV). Die taak wat jy op die punt staan om aan te pak, lyk dalk meer soos ‘n slagveld as ‘n piekniek, maar God sal by jou wees. Hy sal jou oplossings vir die probleme en krag vir die gevegte gee.
2) ‘Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf…’ (Deuteronomium 7:22 NLV). God sal voor jou uitgaan en alles reël. Hy sal jou help om die regte kontakte te maak en jou van die nodige hulpbronne voorsien.
3) ‘Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf. Jy sal hulle nie sommer almal eensklaps kan verdryf nie…’ (vers 22 NLV). God werk aan een area op ‘n slag in ons. Die lewe is nie een groot stryd nie; dis ‘n reeks klein, daaglikse gevegte wat nodig is om die vyande wat in jou pad staan, te verslaan.
Drie-en-twintig hoofstukke later sê God steeds vir Israel om dapper te wees. Dapperheid is soos suurstof; jy kan nie daarsonder oorleef nie. Dis nie die afwesigheid van vrees nie; dis die oorwinning daarvan. Dapperheid beteken om in vrees op te tree, totdat jy jou vrees oorwin.
Sielskos: Esra 1-2; Matt 27:57-66; Ps 1; Spr 19:9-11
2026-07-22
1 Johannes 4:18 NLV
Navorsing toon dat denke wat op liefde gefokus is die norm is, terwyl denke wat op vrees gefokus is aangeleer word. Dit is egter nie nuus as jy na die Skrif kyk nie: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’
Die afgelope paar dekades het wetenskaplikes die anatomie en fisiologie van liefde en vrees nagevors. Dit is twee verskillende stelsels en op enige bewuste oomblik sal ons of in die een, of in die ander funksioneer. Wetenskap wys dat wanneer ons in liefde begin funksioneer, ons negatiewe, toksiese gedagtes begin afleer. Ons kan negatiewe vrees afleer – dit is nie deel van ons aangebore natuurlike funksionering nie.
Onlangse neurowetenskaplike navorsing toon dat sommige van die chemikalieë wat die brein vrystel wanneer ons in liefde funksioneer oksitosien insluit, wat letterlik die negatiewe toksiese gedagtes laat wegsmelt sodat herbedrading van nuwe, nie-toksiese stroombane kan plaasvind. Hierdie chemikalieë word ook afgeskei wanneer ons ander vertrou, met hulle verbindings aanknoop en na hulle uitreik. Dus, om te kies om in liefde te funksioneer kan letterlik die vrees uitdryf.
Navorsing toon ook dat wanneer ons goeie dinge doen en in liefde uitreik, endorfiene en serotonien vrygestel word. Dit ontgif ons breine en verhoog ons motivering en wysheid, wat ons help om die lewe meer suksesvol te hanteer. Ons sien die diepgaande gevolge van die keuse tussen liefde en vrees in die Skrif: ‘Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek… Mag jy die lewe kies…’ (Deuteronomium 30:19 NLV). Prediker 7:29 (NLV) sê: ‘…God het die mense goed en opreg gemaak, maar hulle het allerlei slimmighede gesoek.’
Die keuse is joune: wandel in vrees, of wandel in liefde.
Sielskos: Sef 1-3; Matt 27:45-56; Ps 65; Spr 19:5-8
2026-07-21
Hebreërs 12:1 NLV
In Maart 1987 het Eamon Coughlan in die kwalifiserende uitdunne by die Wêreld Binnenshuise Baankampioenskappe in Indianapolis gehardloop. Hy was die heersende wêreldrekordhouer van die 1500 meter item en was die gunsteling om die wedren te wen. Ongelukkig, met twee en ‘n half rondtes oor, het hy gestruikel en hard geval. Hy het egter opgestaan en met groot moeite daarin geslaag om die voorste naellopers in te haal. Met twintig meter oor was hy in die derde plek, wat goed genoeg sou wees om vir die finale wedloop te kwalifiseer.
Toe maak Coughlan egter ‘n fatale fout – hy kyk oor sy skouer na agter. Omdat hy niemand naby hom gesien het nie, het hy sy inspanning effens verslap. Wat hy egter nie opgemerk het nie, was dat ‘n ander naelloper hard aan die ander kant van hom aangestorm gekom het. Hierdie naelloper het hom ‘n meter voor die wenstreep verbygesteek en hom uit die eindrondte uitgeskakel. Coughlan se inspanning was uiteindelik om slegs een rede waardeloos: Hy het sy oë vir ‘n oomblik van die wenstreep afgehaal en op die deelnemers agter hom gefokus.
Die skrywer van die boek Hebreërs het gesê: ‘…kom ons stroop alles wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê’. Dinge wat regmatig is, kan soms jou spoed vertraag. ‘Sonde’ verwys na iets wat jy weet verkeerd is en jou die wedloop kan kos. Lê dus albei af en ‘…Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (verse 1-2 NLV).
Sielskos: 2 Tim 1-4; Matt 27:33-44; Ps 14; Spr 19:1-4
2026-07-20
Efesiërs 3:20 NLV
Pastoor Heidi Scanlon sê: ‘God het seëninge vir ons in kategorieë wat ons nie eers weet bestaan nie.’ Dit beteken dat God iets uit niks kan skep. Hy kan onverwags uit die niet verskyn en net wanneer jy Hom die nodigste het, jou iets gee waaraan jy nie eers gedink het nie. God sê: ‘My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie… Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes’ (Jesaja 55:8-9 NLV).
Jy vra: ‘As God seëninge het wat ek my nie eers kan indink nie, hoe kan ek daarvoor vra?’ Dis waar die Heilige Gees, wat in jou woon, jou help: ‘…die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op… in harmonie met God se wil vir die gelowiges…’ (Romeine 8:26-27 NLV). Omdat dit wat die Heilige Gees bid in ooreenstemming met God se wil is, word jy met wysheid wat bo jou kennis is, met krag wat bo jou krag is, en met guns wat bo jou vermoë is, geseën.
Paulus het dit so gestel: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. Die kerk wat aan Christus Jesus verbind is, moet Hom prys deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen’ (Efesiërs 3:20-21 NLV).
Jy moet egter steeds jou plig doen, want God kan nie nalatigheid seën nie. Wanneer jy egter weet dat jy jou deel getrou gedoen het en God gehoorsaam het, kan jy Hom vertrou vir seëninge waaraan jy nie eers kan dink nie.
Sielskos: 1 Tim 4-6; Matt 27:27-32; Ps 146; Spr 18:23-24