2026-08-06
Psalm 119:25 AFR53
Die Bybel is bedoel om oor gebid, gemediteer en uitgeleef te word. Die sleutel daartoe is die lewendmaking van die Heilige Gees. ‘Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak’ (Romeine 8:11 DB).
In hierdie geval verwys ‘lewendmaking’ na ons liggaamlike opstanding uit die dood. Die Heilige Gees maak ons egter op meer as een manier lewend. Soms is dit ‘n Godgegewe idee wat deur ons sinapse vuur. Soms is dit ‘n aansporing om in geloof op te tree, in te tree of uit te tree. Soms is dit ‘n woord van wysheid in ‘n moeilike situasie. Die woord ‘lewendmaking’ kan na verskillende dinge verwys. Kom ons kyk na drie daarvan:
1) Om lewend te maak, beteken om te kataliseer. Dink aan ‘n chemiese reaksie. Hebreërs 4:12 sê dat die Woord vol lewenskrag en energie is. Dieselfde Gees wat die skrywers van die Skrif geïnspireer het, inspireer jou ook terwyl jy dit lees. Wanneer die Lewende Woord deur geloof gekataliseer word, vind ‘n bonatuurlike reaksie plaas wat sonde vergewe, vrees verlig, siekte genees, idees inspireer en drome laat waar word.
2) Om lewend te maak beteken om eienaarskap oor te dra. Deur geloof neem ons eienaarskap van die Woord en die Woord neem eienaarskap van ons. Wanneer die Woord lewend gemaak word, beklink dit die ooreenkoms.
3) Om lewend te maak beteken ook om swanger te raak. Wanneer die Woord verwek word, bevrug dit jou met moontlikhede, verander dit jou begeertes, roei dit jou vrese uit en vorm dit Christus se denke in jou.
Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Mark 4:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21
2026-08-05
Josua 5:14 NLV
Die Bybel sê: ‘Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ‘n man voor hom sien staan met ‘n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: ‘Is jy ons vriend of ons vyand?’ ‘Nie een nie,’ sê die man, ‘ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.’ Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: ‘Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?’ Die leëraanvoerder van die Here se mag sê toe vir Josua: ‘Trek uit jou skoene. Jy staan op ‘n heilige plek.’ Josua het so gemaak’ (verse 13-15 NLV).
Die boodskap hier is onmiskenbaar: Jerigo mag dalk sy mure hê, maar jy, Josua, het meer. Jy het God. Hy is by jou. Is dit nie presies wat jy nodig het nie – om te weet dat God naby is, dat jy nooit alleen is nie en dat die Here jou in jou donkerste uur, in jou diepste vrae, nooit sal verlaat nie?
Dawid het gesê: ‘Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming… Ek prys die Here wat my insig gee… Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof en rus in veiligheid’ (Psalm 16:5-9 NLV).
Staan jy voor ‘n uitdaging van Jerigo-proporsies? Doen dan wat Josua gedoen het: ‘En toe Josua by Jerigo was, slaan hy sy oë op en kyk… daar staan ‘n man teenoor hom met sy ontblote swaard in sy hand…’ (Josua 5:13 KAB23). Jy het lank genoeg na die probleem gekyk. Slaan nou jou oë op na die probleemoplosser – Jesus!
Sielskos: 1 Kro 16-18; Mark 3:20-35; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18
2026-08-04
Romeine 8:14 NLV
As jy ‘n verloste kind van God is, woon die Heilige Gees in jou. Hy sal jou na God se seëninge vir jou eie lewe en na geleenthede om ander te seën, lei. In sommige gevalle kan jou vermoë en bereidwilligheid om die goed bedoelde raad van ander te ignoreer en deur God se Gees gelei te word, ‘n wêreld se verskil vir iemand in nood maak.
Admiraal Sir Thomas Williams was in bevel van ‘n skip wat gereeld die Atlantiese Oseaan oorgesteek het. Sy roete het hom in sig van Ascension-eiland, wat grootliks onbewoon was, gebring. Dit was op ‘n keer skaars sigbaar op die horison toe sir Thomas ‘n groot drang gevoel het om sy skip daarheen te stuur. Hoe nader hy aan die eiland gekom het, hoe groter het die dringendheid wat hy gevoel het, geword.
Toe hy die bevel gee om na die eiland te vaar, het sy luitenant-offisier hom respekvol daarop gewys dat so ‘n verandering van koers hulle reis baie sou vertraag. Tog het die admiraal vasberade gebly. Die innerlike drang, wat hy as God se leiding herken het, was baie sterk. Toe die skip die eiland nader, het sy bemanning ‘n wit vlag gewaar. ‘Dit moet ‘n teken wees!’ het Williams afgelei.
Inderdaad, op die strand het hulle sestien mans, wat baie dae tevore skipbreuk gely het, gekry. Hulle was honger en het amper moed opgegee. Sestien lewens is daardie dag gered omdat ‘n man na die stem van die Heilige Gees in hom geluister en dit gehoorsaam het. Jy kan dit ook doen. ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.’
Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Mark 3:1-19; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14
2026-08-03
Spreuke 31:18 KAB
Kom ons kyk na vier bevrydende waarhede in hierdie Skrifgedeelte: 1) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Sy soek nie bevestiging of goedkeuring van haar handelsware nie. Wanneer jy onseker is oor dit wat jy het en dit nie waardeer nie, kan ander mense jou dalk oortuig dat dit nie veel werd is nie. Hierdie vrou, soos ons almal, verlang na aanvaarding en bevestiging, maar sy sal dit nie soek of haarself verwyt as sy dit nie kry nie.
2) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Sy verstaan en waardeer dit wat sy na die tafel toe bring. Sy sal nie aan die waarde daarvan twyfel nie; sy sal dit ook nie nodig vind om oor die kwaliteit van haar handelsware te spog nie. Sy sal nie haar neus in trots optrek nie en sy sal ook nie haar oë in valse nederigheid neerslaan nie. Sy het eenvoudig ‘n gebalanseerde en gesonde siening van haar ware.
3) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Hier is iemand wat nie deur die goedere van ander handelaars geïntimideer word of onnodig daaroor bekommerd is nie. Gevolglik bestee sy nie haar energie om te vergelyk en mee te ding nie.
4) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Sy haak nie vas in die verlede en dink aan die goeie goedere wat sy voorheen gehad het nie. Sy wag ook nie tot haar koopware perfek is voor sy haar doelwit begin nastreef nie. Sy tree eenvoudig in geloof op, nadat sy die beste gedoen het wat sy kon. Haar koopware is goed; môre is in God se hande. Angs het geen plek in haar lewe nie.
Die woord vir jou vandag is dus – wat jy het, is goed!
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Mark 2:23-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10
2026-08-02
Eksodus 33:14 NLV
Nicholas Herman was ‘n kok in ‘n klooster. Hy was bekommerd of hy werklik gered was of nie. Eendag, terwyl hy na ‘n boom gekyk het, het hy die waarheid van die Psalmdigter se woorde besef – dat dit in iets anders en dieper as homself gewortel moes wees (sien Psalm 1:1-3). Daardie dag het hy besluit om sy lewe ‘n eksperiment te maak in wat hy ‘n ‘voortdurende stille, geheime gesprek van die siel met God,’ genoem het.
Hy is vandag onder die nuwe naam wat sy vriende hom gegee het, bekend: Broer Lawrence. Hy het sy hele lewe lank onbekend gebly en die res van sy dae in die kloosterkombuis deurgebring. Die mense rondom hom het egter gevind dat riviere van lewende water uit hom gevloei het, wat hulle laat begeer het om God ook te ken soos hy Hom geken het. ‘Die goeie broer het God oral gevind,’ het een van hulle geskryf, ‘net soveel wanneer hy gekook het, as wat hy saam met die gemeenskap gebid het.’
Nadat Broer Lawrence gesterf het, het sy vriende ‘n boek van sy briewe en gesprekke saamgestel. Dit word Die Beoefening van God se Teenwoordigheid genoem en word as een van die mees geleesde boeke van die afgelope vier eeue beskou. Hierdie kok se boek het baie gewilde kontemporêre romanskrywers oortref, en sy boek is steeds op topverkoperlyste.
Broer Lawrence het gesê: ‘Die heiligste en noodsaaklikste praktyk in ons geestelike lewe is die teenwoordigheid van God. Dit beteken om voortdurend bevrediging in sy goddelike geselskap te vind, nederig en liefdevol met Hom in alle seisoene, in elke oomblik te praat, sonder om die gesprek op enige manier te beperk.’
Sielskos: Spr 24:17; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36
2026-08-01
Jakobus 5:7 NLV
Wanneer ons aan Christus se wederkoms dink, ontstaan daar vyf vrae:
1) Wat behels die Here se koms? Dit is die vervulling van sy belofte: ‘In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers… Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is’ (Johannes 14:2-3 NLV).
2) Wie se koms is dit? Christus s’n! Toe Hy terug na die hemel opgevaar het, het ‘n engel aangekondig: ‘…Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het’ (Handelinge 1:11 NLV).
3) Waarom kom Jesus terug? Sy eerste koms was as die lydende dienaar wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Sy tweede koms is om ‘n tyd van vrede op aarde en ‘n ewigheid in sy teenwoordigheid in te lui.
4) Waar sal sy koms plaasvind? ‘Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ‘n bevel gee wat soos ‘n trompet van God klink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees’ (1 Tessalonisense 4:16-17 NLV).
5) Wanneer kom Hy? Jesus het gesê: ‘Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader’ (Matteus 24:36 NLV). As jy wys is, sal jy elke dag leef asof Christus enige oomblik kan terugkeer – want Hy kan!
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Mark 2:13-22; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6