2026-08-12
2 Petrus 3:18 NLV
Hoe kan jy geestelik groei? Deur die volgende vyf dinge te doen:
1) Herontdek die Bybel. Jy sal nooit geestelik groei sonder om jou gedagtes in die Skrif te verdiep nie. Toe Jesus vir die duiwel gesê het: ‘…’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond’ (Matteus 4:4 NLV), het Hy ‘n vers uit Deuteronomium aangehaal wat Hy gememoriseer het. As Jesus die Skrif nodig gehad het, het jy dit ook nodig.
2) Hervat jou gebedslewe. Charles Spurgeon het gesê: ‘Net soos jy nie kan verwag dat ‘n plant sonder lug en water moet groei nie, so kan jy nie verwag dat jou hart sonder gebed en geloof moet groei nie.’ Wanneer jy begin bid dat God bonatuurlik in jou lewe moet optree, sal jy wonderwerke begin sien gebeur.
3) Skakel weer met God se mense. ‘Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot ‘n meer kragdadige beoefening van liefde en goeie dade… Kom ons moedig mekaar aan…’ (Hebreërs 10:24-25 NLV).
4) Weerstaan jou sondige gewoontes. ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Kies altyd God se ‘uitweg.’
5) Belê in ander. God het ‘n plek vir jou gereed gemaak om te dien en in mense te belê. Maak ‘n kwaliteitsbesluit dat jy nie net in die kerk gaan sit en die een preek na die ander gaan luister nie; maar dat jy gaan begin optree volgens wat jy geleer het.
Sielskos: 2 Kro 8-11; Mark 5:21-30; Ps 119:49-56; Spr 21:4-6
2026-08-11
Romeine 12:21 NLV
Tydens die Koreaanse Oorlog is ‘n Suid-Koreaanse burger deur die kommuniste in hegtenis geneem. Toe die jong kommunistiese leier uitvind dat hy die hoof van ‘n weeshuis is, het hy egter besluit om sy lewe te spaar. In plaas daarvan het hy beveel dat die man se seun tereggestel moet word. Die negentienjarige seun is in die teenwoordigheid van sy vader geskiet. Na die oorlog is die jong kommunistiese leier deur die Verenigde Nasies gevange geneem en ter dood veroordeel.
Voordat die vonnis egter voltrek kon word, het die Christen wie se seun doodgemaak is, vir die lewe van die moordenaar gepleit. ‘Gee hom vir my,’ het die man gevra, ‘en ek sal hom oplei.’ Hoe ongewoon dit ook al was, het die Verenigde Nasies sy versoek toegestaan en die vader het sy seun se moordenaar in sy eie huis ingeneem en vir hom gesorg. Deur aan die liefde van God blootgestel te word, het daardie jong kommunistiese leier ‘n Christen en uiteindelik die pastoor van ‘n kerk geword.
Is jy al seergemaak, verraai of onregverdig behandel? In plaas daarvan om in woede terug te veg, hanteer dit Skriftuurlik: ‘Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie… julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here’… Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:17, 19, 21 NLV).
Sielskos: 2 Kro 5-7; Mark 5:11-20; Ps 119:41-48; Spr 21:1-3
2026-08-10
Matteus 13:31 NLV
Jesus het gesê: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ‘n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak’ (verse 31-32 NLV). ‘n Mosterdsaad is slegs twee millimeter in deursnee en kom in drie primêre kleure voor: geel, swart en wit. Binne daardie merkwaardige saad is vitamien A, B6, B12, C, E en K. Dit is ook ‘n bron van kalsium, yster, magnesium, fosfor, kalium, natrium en sink. Dit het anti-inflammatoriese en anti-kanker eienskappe. Jesus het daarop gewys dat wanneer dit geplant word, dit groei om een van die grootste bome in die tuin te word, wat die voëls van die hemel seën deur hulle van ‘n tuiste te voorsien.
Paulus het geskryf: ‘God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei’ (2 Korintiërs 9:10 NLV). Aan wie gee God ‘saad’? Aan saaiers, nie aan opgaarders nie! Wat doen God met jou saad wanneer jy dit saai? Hy vermeerder dit! Die saad wat jy saai kan in die vorm van tyd, diens, wysheid, geld, deernis, ens. wees.
God belowe dat wanneer jy saai, jy sy seën sal oes. ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). God het vir jou saad gegee – saai dit!
Sielskos: 2 Kro 1-4; Mark 5:1-10; Ps 119:33-40; Spr 20:28-30
2026-08-09
Spreuke 12:22 NLV
Rosalie Elliot het die vierde rondte van ‘n nasionale spelkompetisie in Washington DC, gehaal. Die elfjarige van Suid-Carolina is gevra om die woord ‘avowal’ te spel. In haar sagte suidelike aksent het sy die woord gespel, maar die beoordelaars kon nie besluit of sy ‘n a of ‘n e as die voorlaaste letter gebruik het nie. Hulle het vir ‘n paar minute onder mekaar gedebatteer terwyl hulle na die opname geluister het, maar die aksent was te vaag om te ontsyfer. Uiteindelik het die hoofbeoordelaar die vraag aan die enigste persoon wat die antwoord geken het, gestel. ‘Was die letter ‘n a, of was dit ‘n e?’ het hy vir Rosalie gevra.
Teen hierdie tyd, omring deur die ander jong deelnemers wat onder mekaar gefluister het, het Rosalie die korrekte spelling van die woord geken. Tog het sy sonder aarseling geantwoord dat sy die woord verkeerd gespel het en van die verhoog af geloop. Die hele gehoor, insluitend sowat vyftig koerantverslaggewers, het opgestaan en haar toegejuig. Dit was ‘n trotse oomblik vir haar ouers. Selfs in die nederlaag was sy ‘n oorwinnaar. Daar is inderdaad meer oor Rosalie Elliot as oor die kind wat die kompetisie op die ou einde gewen het, geskryf!
As ‘n verloste kind van God, vereis jou hemelse Vader eerlikheid in woord en daad. ‘Die waarheid hou vir altyd; die leuen kom gou aan die lig’ (Spreuke 12:19 NLV). ‘Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy leefstyl soos klere uitgetrek’ (Kolossense 3:9 NLV). ‘Gevolglik moet julle ophou leuens vertel en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam’ (Efesiërs 4:25 NLV).
Sielskos: Gen 22:14; Ps 37:25; Joh 3:16-17
2026-08-08
Spreuke 19:11 NLV
Woede maak baie van ons bang, omdat ons al daardeur skade gely het. Woede kan egter ‘n bewys wees dat ‘n persoon vir iemand of iets omgee. Wanneer julle woede afskakel, elimineer dit julle passie, intimiteit en liefde. Hier is twee maniere om woede vir jou te laat werk:
1) Rig jou woede op die regte teiken. Jou eggenoot is nie die vyand nie; Satan is. Hy kom ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig’ (Johannes 10:10 NLV). Hy is die een wat probeer om ‘n wig tussen julle in te dryf. Verskuif bewustelik jou fokus van jou eggenoot na die probleem toe. Word byvoorbeeld kwaad vir jou gebrek aan finansies, nie vir jou eggenoot se besteding nie. Word kwaad vir eise wat julle in verskillende rigtings trek, nie vir jou eggenoot wat laat by die werk bly nie. Word kwaad vir die beperkings op intimiteit, nie vir jou eggenoot wat nee vir seks sê nie. Plaas die probleem apart van jou en jou eggenoot. Sien julleself as ‘n span wat die probleem saam beveg. Val die probleem aan, nie mekaar nie.
2) Identifiseer die oorsprong. Vind die pyn wat die woede veroorsaak. Soek daarna in jou en jou eggenoot se harte. Watter behoefte word nie vervul nie? Watter wond is blootgelê? Watter skaamte of vrees word opgewek? Wanneer jy die pyn identifiseer, sal jy myle nader aan die oplossing wees. Wees egter versigtig! Deur kwesbaar te wees, kan julle mekaar soms seermaak; erken dit en vergewe mekaar vinnig wanneer dit gebeur. Om by mekaar betrokke te bly wanneer julle kwesbaar is, sal die vlak van julle intimiteit soos niks anders kan nie, verhoog.
Omarm dus woede as God se geskenk en leer hoe om dit vir jou te laat werk.
Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Mark 4:26-41; Ps 119:25-32; Spr 20:25-27
2026-08-07
Jakobus 1:19 NLV
Jy kan woede gebruik om die band en intimiteit tussen jou en jou eggenoot te verdiep. ‘n Mens doen dit as volg:
1) Erken die woede. ‘n Persoon wat deur woede beheer word, is nie veilig, gesond of wys nie. ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied’ (Spreuke 25:28 NLV). As jy en jou eggenoot kan leer om woede te beheer, in plaas daarvan om deur dit beheer te word, kan dit van onskatbare waarde wees. Vind ‘n manier om julle gevoelens te erken. As jy sukkel om jou woede te beheer, neem eers ‘n tree terug en word kalm. Kom dan terug en hanteer die probleem.
2) Moenie weghardloop nie. As jy werklik in gevaar is, moet jy na veiligheid vlug. As jy egter nie in gevaar is nie, sal jy julle beide se gevoelens bevestig deur te bly en die probleem met jou eggenoot te bespreek. Dis die enigste manier om ‘n oplossing te kry. Besluit om julle kwessies te hanteer wanneer julle kwaad raak.
Julle moet dalk ‘n tyd afspreek om dit te doen as julle nie dadelik kan nie, maar moenie te lank wag nie. Probeer ten minste om die probleem aan te spreek voor julle daardie aand gaan slaap. Julle mag dalk nie ‘n oplossing vir die hele probleem vind nie, maar kom ooreen om die situasie te ontlont voor die dag verby is. ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV). Indien nodig, maak ‘n tyd vas om die probleem aan te spreek. Julle verdien dit albei, en julle huwelik is dit werd.
Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Mark 4:13-25; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24