2026-08-18
Jeremia 17:14 NLV
Dr A. B. Simpson, stigter van die Christian and Missionary Alliance, is deur swak gesondheid geteister. Twee senuwee-ineenstortings en ‘n hartkwaal het daartoe gelei dat ‘n dokter hom – op agt-en-dertigjarige ouderdom – meegedeel het dat hy nie veertig sou word nie. Die diagnose was nie vir Simpson ‘n verrassing nie. Dit was vir hom ‘n foltering om te preek; selfs die klim van ‘n effense hoogte het hom asemloos gelaat.
In desperaatheid het hy hom na sy Bybel gewend om uit te vind wat Jesus oor siekte sê en hy het oortuig geraak dat Jesus hom wou genees. Kort daarna het hy ‘n entjie in die platteland gaan stap. Toe hy by ‘n dennebos kom, het hy op ‘n stomp gaan sit om te rus en te bid. Hy het Christus gevra om sy fisiese lewe te seën sodat hy sy lewenstaak kon voltooi.
Hy het later gesê: ‘Elke vesel in my het getintel van die bewustheid van God se teenwoordigheid. Van daardie oomblik af het ek letterlik ‘n nuwe hart gehad.’ Hy het in die volgende drie jaar 3 000 preke gelewer en soms twintig vergaderings per week bygewoon. Hy het ‘n produktiewe skrywer geword wie se boeke steeds die wêreld seën. Hy is uiteindelik oorlede – op die ouderdom van ses-en-sewentig.
In die Bybel het Jeremia gebid: ‘Here, U alleen kan my gesond maak…’ Dawid het gesê: ‘Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk…’ (Psalm 30:3-4 NLV). Jesaja het gesê: ‘…U het my gesondheid teruggegee en my toegelaat om te lewe!’ (Jesaja 38:16 NLV). Bid dus en glo God vir genesing.
Sielskos: 2 Kro 25-28; Mark 6:45-56; Ps 119:89-96; Spr 21:20-23
2026-08-17
1 Korintiërs 3:9 AFR83
Sodra jy die feit aanvaar dat jy vir jou eie sukses saad saai wanneer jy ander mense ondersteun, sal ‘n gees van samewerking jou norm word. Neem die geval van Paulus en Apollos. Sommige van die Christene in Korinte het gevoel dat hulle kant moes kies oor watter een om te volg – ten spyte van die feit dat hulle dieselfde evangelie verkondig het. Paulus het hulle aangespreek oor hul vleeslike gesindhede. ‘As een van julle sê: ‘Ek is vir Paulus,’ en ‘n ander: ‘Ek is vir Apollos,’ is julle dan nie nog wêrelds nie? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei… Ons is medewerkers in diens van God… (1 Korintiërs 3:4-9 AFR83).
Sommige predikante maak neerhalende opmerkings oor ander bedieninge in ‘n poging om iemand anders se lig te verdoof sodat hul eie lig helderder kan skyn. Dit skrik beide gelowiges en ongelowiges af. Paulus se primêre doelwit was om die evangelie te versprei en hy wou seker maak dat geen predikant verhinder word om dit te doen nie. In sy brief aan Titus het hy gelowiges aangemoedig om Apollos hul volle ondersteuning te gee: ‘Doen jou uiterste bes om… Apollos met hulle reis te help…’ (Titus 3:13 NLV). So ‘n versoek kan slegs uit ‘n geruste hart kom.
Die woord vir jou vandag is dus: jy moet ‘n gees van samewerking hê.
Sielskos: 2 Kro 22-24; Mark 6:30-44; Ps 119:81-88; Spr 21:17-19
2026-08-16
Lukas 17:21 NLV
God se koningsheerskappy is toekomstig, ewig en hemels. Wanneer Christus terugkeer om sy koninkryk op aarde te vestig, sal die volgende profesie vervul word: ‘…Die koninklike heerskappy oor die wêreld behoort nou aan ons Here en sy Christus, en Hy sal as koning heers vir altyd’ (Openbaring 11:15 NLV). Wat ‘n glorieryke dag sal dit nie vir al God se verloste kinders wees nie. Tot dit egter plaasvind, sê Jesus: ‘…die koningsheerskappy van God is hier by julle.’ Dit beteken dat jy as ‘n wedergebore gelowige wat in hierdie wêreld leef, geroep is om te demonstreer wat dit beteken om onder die heerskappy van die Koning van konings en die Here van heersers te leef.
Winston Churchill het geskerts: ‘Democracy is the worst form of government, except for all those other forms that have been tried.’ Alle menslike regerings is gebrekkig en uiteindelik bestem om te misluk, omdat dit uit gebrekkige mense bestaan. Dus, as burgers van die koninkryk van God, word ons geroep om die ‘lig’ te wees wat die duisternis verlig en onkunde verdryf, en die ‘sout’ te wees wat die lewens van diegene met wie ons in aanraking kom, geurig maak, reinig, genees en verryk (sien Matteus 5:13-14).
Ons word geroep om die beginsels van God se koninkryk op die markplein van die lewe uit te oefen. Of jy nou in die onderwys, vervoer, medisyne, politiek, landbou, verkope, of vervaardiging werk, jy word geroep om die voordele van ‘n lewe onder die heerskappy van Christus en deur die leiding van sy inwonende Heilige Gees, te demonstreer. ‘…Die koninklike heerskappy oor die wêreld behoort nou aan ons Here en sy Christus…’ Wanneer Christus terugkeer, sal hierdie belofte ten volle vervul word. Tot dan, het Jesus gesê: ‘…Gaan doen besigheid daarmee totdat ek terugkom’ (Lukas 19:13 NLV).
Sielskos: Eks 15:26; Ps 103:1-5; 1 Pet 2:24
2026-08-15
1 Kronieke 29:14 NLV
Baie van die helde in die Bybel was welgestelde individue. ‘Abram was baie ryk aan lewende hawe, silwer en goud’ (Genesis 13:2 NLV). Koning Dawid ‘…is op ‘n ryp ouderdom dood nadat hy ‘n lang lewe, rykdom en eer geniet het…’ (1 Kronieke 29:28 NLV). Barnabas, ‘n welgestelde grondeienaar, het die uitbreiding van die vroeë kerk moontlik gemaak toe hy ‘n stuk grond verkoop en die geld aan die apostels gegee het (sien Handelinge 4:36-37). Daar is niks met rykdom op sigself verkeerd nie. Die dinge wat egter saak maak, is:
1) Hoe jy dit kry. ‘Kom nou, julle ryk mense, huil en treur oor al die swaar wat vir julle voorlê… Die betaling wat julle teruggehou het van die mense wat oes, is baie duidelike getuienis teen julle…’ (Jakobus 5:1, 4 NLV). Die God wat aanteken en beloon, let ook op hoe jy sake doen.
2) Hoe jy dit gee. Dawid het gesê: ‘…Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!’ Wanneer God dus vir jou sê om te gee, probeer om hierdie twee dinge te onthou: a) Hy vra vir ‘n gedeelte van dit wat reeds aan Hom behoort. Jy besit dit nie; jy bestuur dit net vir Hom. b) Jy oes altyd wat jy saai. ‘…Wat mense saai sal hulle ook maai!’ (Galasiërs 6:7 NLV). In God se ekonomie maai jy meer as wat jy saai. Wanneer jy ‘n enkele mieliepit plant, oes jy ‘n mielierank met honderde mieliepitte. Gee dus en God sal aan jou teruggee.
Sielskos: 2 Kro 19-21; Mark 6:14-29; Ps 119:73-80; Spr 21:14-16
2026-08-14
Jesaja 6:8 NLV
Een van die geskiedenis se grootste rampe het in 1271 plaasgevind. Daardie jaar het Niccolo en Matteo Polo, die vader en oom van Marco Polo, Kublai Khan besoek wat op daardie stadium as die wêreldheerser beskou is – met gesag oor die hele China, Indië en die hele Ooste. Kublai Khan was aangetrokke tot die verhaal van Christus soos Niccolo en Matteo dit aan hom oorvertel het. Hy het vir hulle gesê: ‘Julle moet na julle hoëpriester gaan en hom namens my sê om vir my honderd manne te stuur wat vaardig in julle godsdiens is, en ek sal gedoop word. Wanneer ek gedoop is, sal al my baronne en groot manne gedoop word en hulle onderdane sal ook gedoop word. So sal daar meer Christene hier wees as in julle deel van die wêreld.’
Verbasend genoeg is daar egter niks gedoen in reaksie op Kublai Khan se versoek nie. Eers na dertig jaar is ‘n handjievol sendelinge gestuur. Dit was te min, te laat! Christelike leiers in die Weste het blykbaar nie die visie gehad om te sien hoe die Ooste vir Christus gewen kon word nie. Dis verstommend om te dink aan die maniere waarop die wêreld vandag anders sou kon wees as die dertiende-eeuse China, Indië en die ander gebiede van Asië, Christelik geword het. Nou is dit egter ons verantwoordelikheid!
Jy vra: ‘Wat kan ek doen? Ek is net een persoon.’ Jy kan drie dinge doen: 1) ‘Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien’ (Matteus 9:38 NLV). 2) Gee, sodat die ongereddes met die evangelie bereik kan word (sien 2 Korintiërs 9:7). 3) As God jou roep, gaan! “…Ek het geantwoord: ‘Here, ek sal gaan! Stuur my!'”
Sielskos: 2 Kro 16-18; Mark 6:1-13; Ps 119:65-72; Spr 21:10-13
2026-08-13
Psalm 62:6 AFR53
Ons almal het verwagtinge van ander mense. Baie keer is ons dalk nie heeltemal bewus van ons verwagtinge nie, of ons druk dit nie duidelik uit nie, of ons erken nie dat dit onrealisties is nie. Daarom kan dit ons baie frustreer. Mislukte verwagtinge sal altyd stres veroorsaak. Ongelukkig is sommige van die skadelikste verwagtinge dié wat ons van onsself het. ‘Ek behoort drie kinders groot te maak, elke aand aandete op die tafel te hê, tien uur per dag te werk en perfek te lyk wanneer my man deur die deur stap.’
Maak ‘n lys van jou belangrikste verwagtinge. Begin met die belangrikste mense in jou lewe en maak dan ‘n lys van jou belangrikste verwagtinge van elke persoon. Probeer objektief wees of dit realisties is of nie. Maak seker dat jy die oorsprong of kernrede vir ‘n verwagting verstaan. Het jy hierdie verwagtinge duidelik gemaak? Indien nie, hoekom nie? Vrees jy verwerping? Wat is die ergste wat kan gebeur? Is jy bereid om oor sommige van jou verwagtinge te onderhandel? Daar kan gevalle wees waar jy sekere verwagtinge moet uitskakel om jou eie vrede te bewaar.
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!’ Dit beteken dat jy dalk minder van mense en meer van God sal moet verwag. Moenie jouself blootstel om in frustrasie te lewe nie. Bring jou verwagtinge voor God en laat Hy hulle beoordeel. Laat Hy die onrealistiese uitskakel en jou die moed gee om dié wat gekommunikeer moet word, uit te druk. Vertrou God om die harte van diegene wat betrokke is, te beïnvloed sodat jou verwagtinge nie ‘n bron van frustrasie vir jou of hulle word nie.
Sielskos: 2 Kro 12-15; Mark 5:31-43; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9