Lewe volgens die lewende Woord

2024-04-27
Psalm 119:100 NLV

Eugene Peterson, die skrywer van Die Boodskap, sê: ‘Die woorde wat op die bladsye van my Bybel gedruk is, getuig van die lewende en aktiewe openbaring van die God van skepping en redding, die God van liefde wat die Woord geword het, wat vlees geword het in Jesus. Ek beter dit nie vergeet nie. As ek in die lees van my Bybel voeling hiermee verloor, as ek versuim om na hierdie lewende Jesus te luister, my aan sy soewereiniteit te onderwerp en op sy liefde te reageer, word ek arrogant in my wete en onpersoonlik in my gedrag. ‘n Enorme hoeveelheid skade word in die naam van Christenskap aangerig deur mense wat nie hulle Bybel op die regte manier lees nie.’

Dis nie genoeg om daagliks die Bybel te lees nie, jy moet ook aanhoudend die beginsels daarvan uitoefen. Die Psalmdigter skryf: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad’ (Psalm 119:97-105 NLV).

Die Bybel word ‘n lewende Woord, wanneer jy besluit om elke dag volgens sy beginsels en voorskrifte te lewe.

Sielskos: Hand 20-21; Mark 5:1-10; Ps 144:1-8; Spr 11:10-11

Neem tyd om jou te verwonder en God te aanbid

2024-04-26
Genesis 1:31 NLV

Die eerste reaksie wat in die Skrif opgeteken is, is God se reaksie op sy eie skepping. Hy het aan die einde van elke dag teruggetree, gekyk na wat Hy gemaak het, en gesê: ‘Dit is goed.’ Op die sesde dag toe die skepping voltooi was, het Hy gesê dat dit goed in elke opsig is. Dis hoekom ons so geestelik voel wanneer ons na die sonsondergang oor die oseaan of die piek van ‘n majestueuse berg kyk.

Thomas Carlyle het gesê: ‘Aanbidding is die oortreffing van verwondering. Verwondering met geen beperking of maat nie; dis aanbidding.’ Dis om in verwondering voor die Skepper en sy skepping te staan. Dis om die skoonheid van die skepping in aanbidding van die Skepper te vertaal. Dis om God vir sy beeldskone sonsopkoms en skitterende sterre en unieke sneeuvlokkies te dank. Dis om krediet te gee waar krediet verskuldig is – aan die Skepper. Die Psalmdigter het dit in hierdie woorde vasgevang: ‘Die hemele verkondig die heerlikheid van God…’ (Psalm 19:1 NLV). Sulke verwondering is ook ‘n daad van aanbidding.

Een pastoor skryf: ‘Die sonsopkoms is so konsekwent dat ons dit as vanselfsprekend aanvaar, maar min dinge is so wonderbaarlik soos die hemelse dans wat daagliks plaasvind. Die aarde draai om sy as teen ‘n spoed van 1 000 myl per uur. Behalwe dat die aarde elke vier-en-twintig uur 360 grade om sy as draai, jaag dit ook deur die ruimte teen die ondenkbare spoed van 67 000 myl per uur. Jy het dalk geen groot planne vir vandag nie, maar jy sal 1,6 miljoen myl om die son aflê. Dis nogal ‘n prestasie!’ Neem dus die tyd om jouself te verwonder en God te aanbid.

Sielskos: Hand 18-19; Mark 4:35-41; Ps 7:10-17; Spr 11:7-9

Wees ‘n dissipel van Jesus

2024-04-25
Handelinge 11:26 AFR20

Het jy geweet dat die woord ‘dissipel’ 269 keer in die Nuwe Testament voorkom, terwyl die woord ‘Christen’ net drie keer genoem word? Die woord ‘Christen’ is die eerste keer gebruik om te beskryf wie hulle was – dissipels van Jesus Christus!

Dallas Willard gebruik die illustrasie van die outomobiel: ‘Die dissipel van Jesus is nie die luukse of swaardiensmodel van die Christen – stewig opgestop, blink, vaartbelyn en bemagtig vir die vinnige baan op die reguit en smal pad, nie. Hy of sy staan op die bladsye van die Nuwe Testament as die eerste vlak van basiese vervoer in die Koninkryk van God.’

Om ‘n Christen te word is ‘n oomblik se werk; dit gebeur wanneer jy jou vertroue in Christus plaas. Om egter ‘n dissipel te word is ‘n leeftyd se werk; dit verg dat jy jouself verloën en elke dag van jou lewe vir God se wil ja sê. Wat beteken dit om ‘n dissipel van Jesus te wees? Drie dinge:

1) Om na Hom te luister en te leer. Dit beteken dat jy die waarhede in die Skrif elke dag moet lees, bestudeer, memoriseer, verbaliseer en in jou lewe moet toepas.

2) Om Hom te volg waar Hy jou ook al lei. Dit mag dalk beteken dat jy jou planne moet verander, sommige van jou verhoudings moet prysgee en Hom toegang tot die dinge wat jy graag aan wil vashou, moet gee.

3) Om toegewyd aan Hom te wees. Een dag het Jesus vir Petrus gesê: ‘…het jy My lief, meer as hulle?..’ (Johannes 21:15 NLV). Let die woorde ‘meer as’ op. Om ‘n dissipel te wees beteken dat jy liewer vir Jesus as enigiemand of enigiets anders is. Dis die vervullendste en lonendste lewe wat jy kan leef!

Sielskos: Hand 16-17; Mark 4:30-34; Ps 7:1-9; Spr 11:3-6

Maak ‘n impak

2024-04-24
Hebreërs 12:1-2 NLV

Die mans en vrouens wat die grootste impak op die wêreld gemaak het, was diegene wat totaal gefokus en toegewyd aan hulle visie was. John Wesley, die stigter van die Metodiste kerk, het een keer gesê: ‘As ek driehonderd manne gehad het wat niks anders as God gevrees het nie, niks anders as sonde gehaat het nie en vasbeslote was om niks anders behalwe van Jesus Christus en Hom wat gekruisig is te weet nie, sou ek die wêreld aan die brand kon steek.’ Jonathan Edwards, wie se bediening die Groot Herlewing in Amerika veroorsaak het, het die volgende sy lewensleuse gemaak: ‘Voorneme Een: Ek sal vir God lewe. Voorneme Twee: As niemand anders dit doen nie, sal ek steeds.’

C.T. Studd, een van Engeland se grootste atlete, het die wêreld geskok toe hy roem en rykdom prysgegee het om ‘n sendeling in China te wees. ‘As Jesus Christus God is en vir my gesterf het, dan kan geen opoffering te groot vir my wees om vir Hom te maak nie,’ het hy verduidelik. Die sendeling Jim Elliot, wat as martelaar in Suid-Amerika gesterf het, het gesê: ‘Die persoon wat gee wat hy nie kan behou nie, om dit te verkry wat hy nie kan verloor nie, is geen dwaas nie.’

Die dag toe jy gebore is, het God ‘n baan vir jou gehad om op te hardloop. Om egter te wen, moet jy ontslae raak van: 1) enigiets wat jou afrem, en 2) enigiets wat jou laat struikel. ‘…Kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus…’ (verse 1-2 NLV).

Sielskos: Hand 14-15; Mark 4:21-29; Ps 16; Spr 11:1-2

Moeg om ‘in nederlaag’ te lewe?

2024-04-23
Johannes 15:3 NLV

God se Woord is soos ‘n voorskrif van jou dokter. Jy hoef nie te verstaan hoe die medikasie werk nie – jy moet dit net getrou aanhou neem. Iets wonderbaarliks gebeur wanneer jy gereeld God se Woord inneem. Versoeking begin sy krag verloor en oorwinning begin sy plek inneem. Elke keer wat ‘n Skrifgedeelte oopgaan en vir jou ‘n realiteit word, verhoog jou begeerte na God se Woord. Dit beteken egter dat jy jou Bybel moet lees selfs wanneer jy nie lus het nie, of dink dat jy nie tyd daarvoor het nie, of voel dat jy nie veel daaruit kry nie.

Die Bybel sê: ‘Reën en sneeu kom uit die hemel, en dit gaan nie daarheen terug nie. Dit maak die aarde nat om die plante te laat bot en vrugte te laat dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:10-11 NLV).

Wanneer jy die Bybel lees, sal dit jou van sonde weerhou en wanneer jy sondig, sal dit jou van God se Woord weerhou. Na sy owerspel met Batseba, het Dawid geskryf: ‘Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie’ (Psalm 119:11 NLV). Jesus het gesê: ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het.’ Is jy moeg daarvoor om in nederlaag te lewe? Reinig dan jou gedagtes elke dag met God se Woord. Laat dit oor jou vloei totdat elke oorblyfsel van sonde en vleeslikheid weggewas is.

Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32

God weet wat die beste vir jou is

2024-04-22
Spreuke 19:21 NLV

Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat die duiwel in die detail is. Vir ‘n verloste kind van God, is Hy egter in die detail! Wanneer jy jou hart op iets sit en dit gebeur nie, is dit menslik om teleurgesteld te voel. Jy moet die volgende in sulke oomblikke in gedagte hou:

1) Jy werk altyd met beperkte informasie. Jy mag dalk weet wat die eindresultaat is wat jy begeer, maar God weet wat die beste vir jou is en beplan daarvolgens. ‘Ek is God… Ek maak die einde bekend vanaf die begin… Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:9-10 NLV).

2) Om buite God se wil te probeer werk, is soos om ‘n gat met ‘n vurk deur ‘n soliede muur te probeer grawe. Jy grawe jouself in ‘n tronk in wanneer jy daarop aandring om te kry wat jy wil hê. Wil jy regtig ‘n plan uitvoer wat God nie goedgekeur het nie? Kan jy op Hom staatmaak om te weet wat die beste vir jou is? ‘Die Here die Almagtige het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?’ (Jesaja 14:27 NLV).

Dis beter om tydelik teleurgesteld te wees as om met iets wat jy nie kan hanteer nie, op te eindig. Israel se verhaal is as volg: ‘Uit die vyand se mag het Hy hulle gered… Toe eers het Israel sy beloftes geglo en het hulle sy lof besing. Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie… In die wildernis het hulle God se geduld beproef. Hy het gegee wat hulle gevra het, maar ook ‘n ongeneeslike siekte’ (Psalm 106:10, 12-15 NLV). Vertrou op God en Hy sal vir jou die beste gee.

Sielskos: Hand 10-11; Mark 4:1-9; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29