God kan die vloek in ‘n seën verander

2026-10-09
Deuteronomium 23:5 NLV

Paulus het vir die Korintiërs gesê: ‘Om hierdie rede gee ons nie moed op nie… Ons swaarkry… bewerk vir ons ‘n heerlikheid…’ (2 Korintiërs 4:16-17 NLV). Jim Stovall het bewys dat dit waar is. Op sewentienjarige ouderdom het sy dokter vir hom gesê dat hy besig is om sy sig te verloor en dat daar niks gedoen kan word om dit om te keer nie. Eerder as om in sak en as te gaan sit, het hy ‘n universiteitsgraad bekom en ook privaat by ‘n baie suksesvolle entrepreneur gestudeer. Sy doelwit was om vir homself ‘n besigheid te bou, selfs al was hy blind, sodat hy sy eie loopbaan en lewe kon bestuur.

Alhoewel hy homself vir blindheid voorberei het, het hy verpletter gevoel toe die dag aanbreek dat hy nie meer kon sien nie. In sy boek, ‘You Don’t Have to Be Blind to See’, het hy geskryf: ‘Al wat ek wou doen, was om in my sitkamer te sit en na musiek te luister.’ Jim het egter diep in sy geloof gedelf en gesê: ‘God het my innerlike oë vir ‘n nuwe idee oopgemaak.’

Hy het ‘n hoogs ongewone veld vir ‘n blinde persoon betree – televisie! Hy het die Narrative Television Network (NTN) gestig om gesiggestremde mense te help. NTN voeg ‘beskrywende vertellings’ by klankbane, sodat luisteraars ‘n program of film kan visualiseer en dit meer kan geniet. NTN saai na meer as 20 miljoen huishouding uit en verbasend genoeg kan sowat 60 persent van hulle gehoor sien. Vir sy werk het Jim televisie se hoogste eerbewys, die Emmy-toekenning, na slegs een seisoen op die lug ontvang! Die woord vir vandag is dus: God kan jou probleem vir jou bewerk en ‘n ‘…vloek in ‘n seën verander…’

Sielskos: Eks 13-15; Joh 3:1-8; Ps 23; Spr 26:10-12

Oorwinning is ‘n ‘inside job’

2026-10-08
2 Korintiërs 4:16 NLV

In 1928 is ‘n gelukkige, ambisieuse jong verpleegstudent met tuberkulose gediagnoseer. Destyds het so ‘n diagnose dikwels ‘n doodsvonnis beteken. Haar familie het haar vir ‘n paar maande na ‘n sanitorium gestuur in die hoop dat sy genees sou word. Sy was egter bestem om vir die volgende een-en-twintig jaar in die bed te bly! Baie mense sou moed opgegee het, maar nie Isabel Smith nie. Sy was ‘n paar keer op die drumpel van die dood, maar haar geloof het sterk gebly en sy het nooit opgehou om positief en met ywer te leef nie. Sy het gulsig gelees, briewe geskryf, aardrykskunde bestudeer en ander pasiënte leer lees en skryf.

Terwyl sy siek was, het sy ‘n vriendelike, sagte man ontmoet wat ook ‘n pasiënt by die sanatorium was. Sy het daarvan gedroom om met hom te trou en in ‘n klein huisie aan die voet van die berge te bly. Op haar laagste het haar droom haar aan die gang gehou. Sy is in 1948 getroud. Sy het toe ‘n boek met die titel ‘Wish I Might’ geskryf, wat in 1955 gepubliseer is. Die boek het gehandel oor ‘al die goeie dinge wat die lewe my gebring het’, en sy het genoeg geld daaruit verdien om die bergtoevlugsoord waarvan sy gedroom het, te koop.

‘n Tragiese lewe? Glad nie! Isabel Smith het alles bereik wat sy wou, alhoewel die kanse teen haar oorweldigend was. Selfs toe sy plat op haar rug in die bed gelê het, het sy nooit ophou groei, leer, droom en gee nie. ‘…Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.’ Oorwinning is ‘n ‘inside job.’

Sielskos: Eks 10-12; Joh 2:12-25; Ps 131; Spr 26:7-9

Die beloning vir visie en harde werk

2026-10-07
Spreuke 13:4 NLV

In die herfs van 1894 het Guglielmo hom in sy kamer op die derde verdieping afgesonder. Die hele somer terwyl hy met vakansie was, het hy boeke gelees en notaboeke met kronkelende diagramme vol geskryf. Nou het die tyd vir hom aangebreek om te werk. Elke dag het hy vroeg opgestaan. Hy het heeldag en tot laat in die nag gewerk, soveel so dat sy moeder bekommerd oor hom begin raak het. Hy was nog nooit ‘n sterk persoon nie, maar nou het hy verskriklik maer geword en sy oë was dikwels glaserig van moegheid.

Uiteindelik het die dag aangebreek om sy werk ten toon te stel. Hy het die gesin na sy kamer genooi en deur ‘n knoppie te druk, het hy daarin geslaag om ‘n klokkie op die eerste verdieping te laat lui! Sy ma was beïndruk, maar nie sy pa nie. Hy het geen nut daarin gesien om ‘n sein oor so kort afstand te kan stuur nie. Dus het Guglielmo aanhou werk.

Bietjie vir bietjie het hy veranderinge aangebring totdat hy ‘n sein van een heuwel na die volgende en dan selfs verder as die heuwel kon stuur. Uiteindelik is sy uitvinding vervolmaak – deels danksy visie en inspirasie, maar meestal danksy deursettingsvermoë. Guglielmo Marconi is uiteindelik as die uitvinder van draadlose telegrafie, die voorloper van die radio, beskou. Hy het nie net ‘n Nobelprys vir fisika ontvang nie, maar ook ‘n setel in die Italiaanse senaat verwerf.

As jy wil hê wat suksesvolle mense het, moet jy bereid wees om te doen wat suksesvolle mense doen. 99 persent van hul sukses is egter aan visie en harde werk te danke. ‘Luiaards begeer baie dinge, maar hulle kry dit nie. Mense wat hard werk, het meer as wat hulle kan begeer.’

Sielskos: Eks 7-9; Joh 2:1-11; Ps 29;Spr 26:4-6

God kan jou genees (5)

2026-10-06
Psalm 107:20 NLV

Hier is ‘n gebed vir genesing en volgehoue goeie gesondheid: ‘Vader, die krag van u Woord is die bron van my genesing en volgehoue goeie gesondheid. Dit verklaar dat U my van alle vernietiging verlos het. Ek het dalk in die verlede besluite geneem wat swak gesondheid in my lewe veroorsaak het, maar U het my in Christus vergewe, en U verlos my voortdurend van alle siekte, pyn, swakheid en kwale. U Woord sê: ‘As die Here jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie’ (Psalm 91:9-10 NLV).

U is my toevlug en my skuilplek. Daar is geen siekte in u teenwoordigheid nie en aangesien ek in U bly, kan siekte nie in my lewe bly nie. Ek word beskerm omdat ek in Christus is. U Woord sê: ‘…laat die swakkes sê: Ek is sterk’ (Joël 3:10 KAB23). Daarom noem ek myself sterk, selfs wanneer ek swak voel. Here, u Woord sê U sal my lewe met goeie dinge vul, sodat my jeug vernuwe word (sien Psalm 103:5).

U is my bron van volkome tevredenheid en ek glo dat my jeug en krag hernu word. Gevolglik verouder ek goedgunstiglik in Christus. Here, u Woord sê dat ek U kan aanroep en dat U my sal antwoord. U sal by my wees in nood; U sal my verlos en my eer herstel. U sal vir my ‘n lang lewe gee en my u verlossing wys (sien Psalm 91:15-16). Daarom staan ek op u Woord en verklaar deur geloof: ‘Ek sal nie sterf nie, maar lewe, en van die Here se werke vertel’ (Psalm 118:17 NLV).’

Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:43-51; Ps 92; Spr 26:1-3

God kan jou genees (4)

2026-10-05
Matteus 13:23 NLV

Net omdat jy nog nie resultate gesien het nie, beteken nie dat jou gebed nie verhoor word nie. Die Woord van God is ‘n saad; dit het tyd nodig om vrugte te dra. Vra God vir die genade om aan dit wat jy glo uit sy Woord vas te hou, terwyl dit wortel skiet en groei. Ongeag die situasie, is dit altyd ‘n goeie tyd om dankbaar te wees.

Satan wil hê dat jy op jou omstandighede en wat onveranderd lyk, moet fokus, in plaas daarvan om God te dank vir die deel van jou lewe wat beter geword het. Terwyl jy in geloof staan en die Woord toelaat om binne-in jou te werk, moet jy aanhou om oor die beloftes van God wat oor genesing handel, te mediteer. God se Woord werk wanneer jy dit in jou hart plant. Hou aan om daardie saad nat te gooi deur God se beloftes oor jou lewe te spreek.

God het gesê: ‘Reën en sneeu kom uit die hemel, en dit gaan nie daarheen terug nie. Dit maak die aarde nat om die plante te laat bot en vrugte te laat dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. Net so is dit met die woord wat uit my mond kom. Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:10-11 NLV).

Hou jou geloof sterk en staan vas op God se Woord: ‘Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes’ (Psalm 27:13 NLV).

Sielskos: Eks 1-3; Joh 1:29-42; Ps 63; Spr 25:26-28

God kan jou genees (3)

2026-10-04
Galasiërs 6:9 NLV

Genesing kan op verskillende maniere plaasvind. Soms verrig God ‘n wonderwerk en genees iemand onmiddellik. Ander kere genees Hy iemand progressief. Wanneer ons na die Skrif kyk en die vele wonderwerke wat Jesus verrig het, is dit maklik om te dink dat Hy mense altyd op dieselfde manier genees het. By nadere ondersoek sien ons egter dat Hy in baie gevalle nie twee keer dieselfde opgetree het nie.

1) In Matteus 9:29 het Jesus twee blinde mans genees deur bloot aan hulle oë te raak. 2) In Markus 10:52 het Hy die blinde Bartimeus genees deur met hom te praat, eerder as om hom aan te raak. 3) In Markus 8:22-25 het Hy speeksel aan ‘n blinde man se oë gesmeer en hom twee keer die hande opgelê voordat hy heeltemal genees was. Jesus was nie aan een metode om mense te genees gebonde nie – maar Hy was altyd bereid om hulle te genees. Ongeag die metode, het die ontvangers konsekwent geloof in sy vermoë om te genees en bereidwilligheid om sy krag namens hulle vry te stel, getoon.

Dieselfde is vandag ook waar! As jy vir genesing gebid het en niks gebeur onmiddellik nie, beteken dit nie dat jou geloof wankel nie. Dit beteken ook nie dat God kwaad is vir jou of dat Hy wil hê jy moet ly nie. Dit beteken net dat dit tyd is om God te dank dat jy in sy belofte kan glo en dat jy dag vir dag progressief beter word: ‘…Deur sý verwonding is julle genees!’ (1 Petrus 2:24 NLV). Dit beteken om te glo dat dit wat reeds in die geestelike ryk bereik is, uiteindelik in die fisiese ryk sal manifesteer. Vanuit God se perspektief is jou genesing reeds gekoop en betaal.

Sielskos: Jos 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16