Leer om strategies te dink (2)

2020-05-03
Spreuke 13:16 NLV

Deur die tyd te neem om kennis te versamel, sal jy gereed wees vir die geleenthede wat die lewe meebring. As jy nie voorbereid is nie, sal hulle jou verbygaan en na ander mense gaan. God het gesê: ‘My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…’ (Hosea 4:6 AFR53). Let op: 1) Strategiese denke berei jou vir die toekoms voor. Niemand van ons weet wat môre gaan meebring nie. ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV). Die enigste ding wat erger as die onsekerheid van die toekoms is, is wanneer jy geen plan en strategie vir jou lewe het nie. 2) Strategiese denke verminder die kans om foute te maak. Wanneer jy dit nie doen nie, is jy soos ‘n gholfspeler wat die bal slaan, sonder om eers die hou te mik. As jou hou met ‘n paar grade foutief is, kan dit jou bal honderde meters van die teiken af stuur. Strategiese denke bring jou aksies in lyn met jou doelwitte. Hoe meer in lyn jy met jou teiken is, hoe beter is die kanse dat jy in die regte rigting sal gaan. 3) Strategiese denke gee jou invloed by ander mense. Een direkteur het geskerts: ‘Ons maatskappy het ‘n korttermyplan en ‘n langtermynplan. Ons korttermyn plan is om lank genoeg staande te bly sodat ons by ons langtermynplan kan uitkom.’ Dis nie ‘n baie goeie strategie nie en tog is dit dikwels die posisie waarin ons onsself bevind. Die persoon met die plan is die persoon met die mag. Dit maak nie saak by watter aktiwiteit jy betrokke is nie, strategiese denke is noodsaaklik vir sukses. Praat met God daaroor.

Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18; Spr 16:7

Leer om strategies te dink (1)

2020-05-02
Efesiërs 5:15-16 NLV

Strategiese denke help jou om te beplan, meer effektief te word, jou sterkpunte uit te lig en om die reguitste pad om jou God-gegewe lewensopdrag te bereik, te vind. Daar is verskeie voordele aan strategiese denke. Hier is ‘n paar van hulle: 1) Strategiese denke vereenvoudig die ingewikkelde. Dit neem komplekse kwessies en langtermyn doelwitte wat moeilik is om aan te spreek en breek dit in hanteerbare dele op. Enigiets word eenvoudiger wanneer jy ‘n plan het! Die Bybel sê: ‘Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek’ (Spreuke 21:5 NLV). 2) Strategiese denke help jou om die regte vrae te vra. Kyk na die volgende vrae wat deur Bobb Biehl, die skrywer van Masterplanning, ontwikkel is: ‘Rigting: Wat moet ons volgende doen? Hoekom? Organisasie: Wie is verantwoordelik vir wat? Wie is verantwoordelik vir wie? Het ons die regte mense op die regte plekke? Kontant: Wat is ons geprojekteerde inkomste en uitgawes? Kan ons dit bekostig? Hoe kan ons dit bekostig? Evaluering: Bereik ons ons teikens? Oorhoofse evaluasie: Bereik ons die kwaliteit en eise wat ons van onsself verwag? Verfyning: Hoe kan ons meer effektief en doeltreffend wees?’ Hierdie mag dalk nie die enigste vrae wees wat jy aan die begin moet vra om ‘n strategiese plan te formuleer nie, maar dit is ‘n goeie beginpunt. Totdat jy die eerste tree neem, sal jy op een plek vasgevang bly. Totdat jy oor jou behoefte om dit perfek te doen kom, sal jy dit glad nie doen nie. ‘Wanneer moet ek daarmee begin?’ vra jy. Vandag!

Sielskos: Num 4:34-6:27; Mark 6:1-13; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Tomas se tweeling

2020-05-01
Johannes 20:24 ABA

Die Bybel sê: “Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom ‘Tweeling’ genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: ‘Ons het die Here gesien.’ Tomas het vir hulle gesê: ‘Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.’ ‘n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: ‘Ek gee vir julle my vrede!’ Toe sê Hy vir Tomas: ‘Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo’! Tomas het vir Jesus gesê: ‘U is my Here en my God!'” (verse 24-28 ABA). Die mense het vir Tomas ‘Tweeling’ genoem. Weet jy wie sy tweeling was? Jy! Wie jy ook al is wat vandag hierdie bladsy lees, jy is Tomas se tweeling. Dink daaroor: Hoe dikwels het jy aan God se liefde, sy goedheid, sy genade, sy getrouheid en sy beloftes getwyfel? Wat is dus die oplossing? ‘n Persoonlike ontmoeting met Jesus soos wat Tomas gehad het. Dit gebeur wanneer jy sy Woord lees en ‘n vers vir jou uitstaan en jou laat: ‘My Here en my God!’ uitroep. Dit gebeur wanneer jy soos die Psalmdigter bid: ‘Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam. Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie’ (Psalm 119:17-18 NLV).

Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 5:31-43; Ps 2; Spr 10:30-32

Waar is God wanneer jy seer het?

2020-04-30
Job 2:10 NLV

As jy vir God een vraag kon vra, wat sou jy vra? Toe George Barna hierdie vraag in ‘n nasionale opname gevra het, was die primêre reaksie: ‘Hoekom is daar pyn en lyding in hierdie wêreld?’ Die kort antwoord is: Christus se eerste koms was om ons van die straf van ons sondes te red; sy tweede koms sal wees om ons van die teenwoordigheid van sonde te red en die paradys te herstel. Op ‘n sekere stadium in jou lewe sal jy voor pyn en lyding te staan kom. Job was ‘n goeie en ‘n godvresende man; maar tog het al tien sy kinders tragies op dieselfde dag gesterf. ‘Sy vrou vra hom: ‘Hoekom hou jy aan om die Here te dien? Vloek God en sterf!’ Job het haar geantwoord: ‘…Ek het die goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?’ Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie’ (verse 9-10 NLV). Let twee dinge oor teenspoed op. Ons val óf uitmekaar, óf ons beweeg nader aan God. Tweedens is dit wat ons sê baie belangrik: ‘Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie.’ Ja, hy het diep gerou. Hy het baie vrae vir God gehad, waarvan baie onbeantwoord gebly het. Tog het hy die volgende gesê toe hy gepraat het: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar. Want ek het op sy paaie gebly en hom gevolg sonder om weg te draai. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het. Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar’ (Job 23:10-12 NLV).

Sielskos: Num 1-2; Mark 5:21-30; Ps 35; Spr 10:28-29

Doen slegs wat God wil hê jy moet doen

2020-04-29
Johannes 17:4 NLV

Meer as die helfte van diegene wat die bediening binnegaan, verlaat dit binne tien jaar as gevolg van stres en ontmoediging. Hoe kan jy dit vermy? Deur Christus se voorbeeld te volg. Hoe het Jesus dit gedoen? Hy sê vir ons: ‘…Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen… Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie…’ (Johannes 5:19-20; 30 NLV). Dit klink eenvoudig, nè? Eenvoudig – maar nie maklik nie. Mense sal jou probeer ompraat om goeie dinge te doen wat nie noodwendig God se hoogste prioriteit vir jou is nie. Jy kan jou lewe spandeer om die ‘goeie’ te doen en nooit by die ‘beste’ uitkom nie. Jesus het gesê: ‘Ek het… die werk voltooi wat U vir my gegee het om te doen.’ As God dit nie vir jou gee nie, moenie dit aanpak nie. Indien Hy dit vir jou gee, moenie dit sonder sy hulp aanpak nie. Staanhorlosies kom met twee instruksies: Moet dit eerstens nie laat afloop nie. Tweedens, moet dit nie te styf opwen nie. Hoekom het Jesus voor dagbreek opgestaan om te gaan bid en soms deurnag gebid? Sodat Hy nie te afgemat of te opgewen sou raak nie! Die Bybel sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here, Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Hy kan egter net jou kommer en sorge dra, wanneer jy dit vir Hom gee.

Sielskos: Jak 3-5; Mark 5:11-20; Ps 94:12-23; Spr 10:27

‘Ja, maar…’ mense

2020-04-28
1 Timoteus 6:4 NLV

Sommige mense loop al die goeie dinge in die lewe mis, omdat hulle te besig is om op die slegte te fokus. Hulle kyk die blomme in die tuin mis en wys die onkruid uit. Wie is hulle? Hulle is die ‘Ja, maar…’ mense. Om hulle te help en hulle reg te hanteer moet jy: 1) Kan onderskei. Besef dat hulle brawe maskers dikwels ‘n onderliggende onsekerheid verbloem. Dit laat hulle toe om die fokus van hulle eie vrese op die foute van ander mense af te skuif. 2) Kan aanvaar. Ons eerste reaksie is om moeilike mense te ignoreer en te isoleer. Dis ‘n fout. Moeilike mense wil dikwels geïgnoreer word en wanneer jy hulle vermy, verskaf jy emosionele afstand aan hulle om weg te kruip. Dit bevestig ook hulle oortuiging dat jy nie omgee nie en nie wil luister nie, omdat jy dink dat hulle verkeerd en jy reg is. 3) Geïnteresseerd wees. Wys dat jy regtig in hulle familie, hulle werk en hulle welstand belangstel. ‘Ja, maar…’ mense sukkel dikwels om liefde te gee en te ontvang; hulle is geneig om opinie en lojaliteit bo kommunikasie en rekonsiliasie te stel. 4) Vriendelik wees. Die Bybel sê: ‘Die liefde is geduldig en vriendelik… Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles… Die liefde sal nooit vergaan nie…’ (1 Korintiërs 13:4-8 NLV). Om ‘Ja, maar…’ mense te vermy werk nie; ook nie om met hulle te argumenteer of om te probeer dat hulle sin insien nie. Jy kan nie gewoontes van ‘n leeftyd in een of twee gesprekke verander nie. Met genoeg tyd, is liefde egter die een strategie wat egter nooit misluk nie.

Sielskos: Jak 1-2; Mark 5:1-10; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26