2026-03-23
Matteus 5:5 NLV
Om ‘sag van hart’ te wees, beteken nie om ‘n deurmat, besluiteloos, skugter, angstig of ruggraatloos te wees nie. Dit beteken nie dat jy soos ‘n verloorder of ‘n lafhartige swakkeling optree nie. Sagmoedigheid is beheerste mag.
Die Bybel sê dat Moses sagmoedig was, meer as enigiemand anders op daardie stadium op aarde (sien Numeri 12:3). Tog was hy bereid om farao teen te staan, om ‘n klaende volk deur die woestyn te lei en ‘n berg wat rook en bewe te klim om die Almagtige God persoonlik te ontmoet. Jesus het Homself as ‘…sag en nederig van hart…’ (Matteus 11:29 NLV), beskryf. Tog was Hy die dapperste man wat ooit geleef het.
Wat het Moses en Jesus sagmoedig gemaak? Hulle het beheerste mag gehad. Spreuke 16:32 (AFR83) beskryf hierdie soort mag as volg: “‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.” Spreuke 25:28 (NLV) beskryf die teenoorgestelde van iemand wat sagmoedig is: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’
Die sagmoediges is diegene wat die mag het om seer te maak, maar kies om dit nie te doen nie. Hulle het kennis om iemand se reputasie te vernietig, maar gebruik dit nie. Hulle het rede om te haat, maar weier om daarop te reageer. Sagmoedigheid is bloot krag wat ingespan en gebruik word om goed te doen.
Diegene wat sagmoedig is, wandel in God se seën. Die sagmoediges volhard totdat die goeie die kwaad oorwin, antwoorde gevind word en versoening vervreemding oorwin. Die sagmoediges slaap snags goed – want hulle vertrou op die Here!
Sielskos: Hos 11-14; Luk 20:1-19; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2026-03-22
Matteus 5:4 AFR53
Jesus praat nie noodwendig hier oor die verlies van ‘n geliefde nie, maar dat diegene wat oor hul sondes treur, God se vertroosting sal ontvang. Wanneer jy oor jou sondes en die probleme wat hulle vir jouself en ander meegebring het treur, plaas jy jouself in ‘n posisie om God se vergifnis te ontvang. Ware bekering fokus nie op die self nie. Dit is nie morbied of wanhopig nie; dit spruit nie uit valse nederigheid of selfbejammering nie. Dit is om openlik, duidelik en eenvoudig te erken dat jy God se genade nodig het.
Solank as wat jy jou in jou sondes verlustig, probeer om dit te regverdig of ander daarvoor blameer, kan jy nie vergewe word nie. Dit is slegs wanneer jy bid: ‘Ek bely dat ek teen U gesondig het in my gedagtes, my woorde en my dade,’ dat jy jouself in ‘n posisie plaas om van jou sonde gereinig te word. Die Bybel sê: ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alle verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:8-9 NLV).
Daarin lê ons troos! Dit is God se vergifnis wat ware vreugde en troos in ons siele voortbring. Dit is God se vergifnis wat ons diep innerlike wonde genees en wat ons intimiteit met ons hemelse Vader herstel. Dawid het gesê: ‘Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:5 NLV).
Sielskos: Eks 17:1-7; Jes 44:3; Joh 7:37-41
2026-03-21
Matteus 5:3 AFR53
Wat beteken dit werklik om ‘arm van gees’ te wees? Dit het niks met finansies of status te doen nie. Dit beteken dat jy van jou eie geestelike armoede bewus word – dat jy sonder God niks is nie, niks het nie en niks van belang of ewige voordeel kan doen nie. Om arm van gees te wees, beteken dat jy weet dat jou eiegeregtigheid soos vuil klere is en jou selfgedrewe prestasies ten beste kortstondig en vlietend is (sien Jesaja 64:6). Om arm van gees te wees, beteken dat jy weet dat jy God nodig het.
Hoekom sal dit jou dan seën en salig maak? Omdat jy ontvanklik is om God se gratis geskenk van verlossing te ontvang en die Heilige Gees toe te laat om in jou lewe te werk. Jy is bereid om jouself te verootmoedig en te bid: ‘Here Jesus, ek het U nodig. Ek aanvaar U as my Verlosser. Ek wil my lewe aan u wil oorgee en dinge op u manier tot eer van u Naam doen.’
As jy arm van gees is, is jy bereid om jouself geestelik bankrot te verklaar. Wanneer jy dit doen, lê jy jou trots van gees, jou trots van wil, jou trots van intellek en jou trots van hart aan die voete van Jesus neer. As jy arm van gees is, stel jy jouself vir God se reddende barmhartigheid en genade oop. Gevolglik kan jy God se koninkryk binnegaan en al sy voordele en seëninge geniet.
‘Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele’ beteken dat jy opreg kan bid: ‘Here, ek erken my totale afhanklikheid aan U.’
Sielskos: Hos 6-10; Luk 19:41-48; Ps 13; Spr 8:14-16
2026-03-20
Jeremia 29:13 NLV
In ‘n ou boek genaamd Prevailing Prayer, word John Wesley se gebedslewe só beskryf: ‘Gewoonlik en as ‘n reël het John Wesley se gewone gebed twee ure per dag in beslag geneem. Soms het hy sy vriende en familie bymekaar gemaak en die hele nag, of totdat die krag van God duidelik geword het, gebid. Niks is as te groot of te klein beskou om na die Here te bring nie. Een keer het John Wesley tydens sy preekbeurt so erg pyn gehad dat hy nie verder kon praat nie. ‘Ek weet wat die geneesmiddel is,’ het hy gesê en onmiddellik neergekniel. Binne oomblikke was die pyn weg.
Wesley het van hierdie oomblik waartydens hy so pyn en koors gehad het dat hy nie kon praat nie, gesê: ‘Ek het Jesus hardop aangeroep om my geloof te vermeerder. Terwyl ek gepraat het, het my pyn verdwyn, my koors het my verlaat en my liggaamlike krag het teruggekeer.’ Wesley het die wêreld met die vuur van sy ywer aangegryp, omdat hy die hemel met die vuur van sy gebede aangegryp het. Sy gebede het mense se gewete aangegryp, omdat dit hulle toegang tot God gegee het.’
Waarom het Wesley elke dag twee ure in gebed deurgebring?
1) Omdat hy gebed as ‘n krag wat hom reinig en korrigeer gesien het. In een van sy gebede het hy gesê: ‘Vul tog alles wat ontbreek, herstel wat in my verkeerd is en vervolmaak my innerlike wese.’
2) Omdat hy geweet het dat God se wil die enigste plan en doel is waaraan God verbind is. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister’ (1 Johannes 5:14 NLV).
Sielskos: Hos 1-5; Luk 19:22-40; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13
2026-03-19
Romeine 5:20 NLV
The Scarlet Letter is die verhaal van ‘n vrou wat betrap is dat sy owerspel gepleeg het en ‘n skarlakenrooi ‘A’ op haar rok moes dra as ‘n simbool van haar skande. Ons doen dieselfde, nie waar nie? Ons etiketteer mense op grond van ‘n fout. Dit is egter nie hoe God ons sien nie. Hy neem die grafklere van sonde weg en bedek ons met klere van verlossing (sien Jesaja 61:10). Hy gee vir elkeen van ons ‘n nuwe naam, ‘n nuwe identiteit en ‘n nuwe bestemming.
Daar is ‘n verhaal in die Bybel wat met Hawthorne se The Scarlet Letter ooreenstem. ‘n Vrou is op heterdaad betrap waar sy owerspel pleeg. Die godsdienstige skare was gereed om haar te stenig toe Jesus ingegryp het. Hy het vir die skare gesê: ‘…Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi’ (Johannes 8:7 NLV). Een vir een het die skare hul klippe laat val en weggeloop. Toe sê Jesus vir die vrou: ‘… Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (vers 11 NLV).
Wanneer jy van iemand se mislukking hoor, moet jy John Bradford se bekende gesegde onthou: ‘But for the grace of God, there go I.’ Wees lief vir mense wanneer hulle dit die minste verwag en dit die minste verdien. Dis hoe jy iemand se lewe verander. Dis wat Jesus met hierdie vrou gedoen het. Toe die Fariseërs mense afgeskryf het, het Hy hulle aanvaar. Toe almal anders hulle die deur gewys het, het Jesus aan hulle genade betoon. Een daad van genade kan die ergste oomblik in iemand se lewe in ‘n beslissende oomblik verander. Jy kan daardie agent van genade wees.
Sielskos: Op 19-22; Luk 19:1-21; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2026-03-18
2 Korintiërs 3:18 AFR20
Vanaf 2007 het die REVEAL-navorsingsprojek die gemeentelede van meer as ‘n duisend kerke ondervra. Hulle wou die persentasie kerkgangers wat werklik deur hul geloof gedryf word om God en ander mense met hul hele hart lief te hê, bepaal. Raai hoeveel het aan hierdie kwalifikasies voldoen? Elf persent! Byna nege uit tien gelowiges het nie die graad gehaal nie.
Dink so daaraan: As slegs elf persent van ‘n skool se matrikulante slaag, as ‘n hospitaal slegs elf persent van sy pasiënte genees, as ‘n sportspan slegs elf persent van sy wedstryde wen, as ‘n bouer slegs elf persent van sy projekte voltooi, sou dinge nie moes verander nie? Ongeveer 2,2 miljard mense op ons planeet noem hulself Christene. Dit is ongeveer ‘n kwart van die wêreldbevolking. As REVEAL se opname enige aanduiding is, is daar ongeveer twee miljard van daardie Christene wat nie hul Christenskap ten volle uitleef nie.
Wat sou gebeur as hulle besluit om voluit vir Christus te begin leef? Hoeveel vreugde sou ontketen word? Hoeveel wysheid sou gedeel word? Hoeveel huwelike sou gered word? Hoeveel oorloë sou voorkom word? Hoeveel hongersnood sou verdwyn? Wat sou dit verg om deel van die elf persent te word – meer deernis, meer oortuiging, meer moed? Watter houdings sou jy moet laat vaar – gierigheid, skuldgevoelens, negatiwiteit, ‘n kritiese gees?
Hier is die goeie nuus: Jy kan dit doen. Met God se hulp kan jy die gaping tussen die persoon wat jy is en die persoon wat jy wil wees, oorbrug. Jou ‘heerlikheid’ kan steeds toeneem.
Sielskos: Op 15-18; Luk 18:18-43; Ps 19; Spr 8:6-7