2026-04-04
Johannes 19:30 NLV
In die Ou Testamentiese tye het jy vergifnis van God ontvang deur ‘n offerlam na die altaar toe te bring, waar ‘n priester die bloed daarvan sou vergiet en dit as versoening sou aanbied. Die eerste persoon in die Skrif wat dit gedoen het, was Kain se broer, Abel (sien Genesis 4:4). Toe Salomo sy manjifieke tempel ingewy het, het hy honderd-en-twintigduisend skape en twee-en-twintigduisend osse as ‘n offer vir die hele volk gebring. Die offervuur in die tabernakel in die Ou Testament is nie toegelaat om dood te gaan nie; dit moes aan die brand gehou word. Daar word geskat dat daar tydens die Paasfees amper honderdduisend lammers geoffer is, wat die Kidronstroom letterlik rooi gekleur het.
Nie een milliliter van die bloed wat vergiet is, kon egter vir ons versoening van ons sondes bring nie. Ons moes wag vir ‘n lam wie se offer alle offers sou beëindig, ‘n priester wie se voltooide werk eens en vir altyd vir ons sonde versoening sou bring. Dit is wat gebeur het toe Jesus uitgeroep het: ‘Dit is volbring.’ In Hebreeus beteken die frase: ‘Volledig betaal.’ Op daardie oomblik het die gordyn in die tempel wat die mense van God geskei het, van bo tot onder geskeur.
Gevolglik kan ons nou enige tyd by die plek ingaan, waar slegs die hoëpriester een dag per jaar in die teenwoordigheid van God kon ingaan, met die wete dat ons geliefd, aanvaar en deur die bloed van Christus as regverdig beskou sal word. Met dit in gedagte: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV).
Sielskos: Jer 28-30; Luk 23:50-56; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9
2026-04-03
Romeine 5:20 NLV
Net oomblikke voor Hy sy laaste asem uitgeblaas het, het Jesus van die kruis af uitgeroep: ‘Tetelestai!’ Dit word vertaal as: ‘Dit is volbring.’ Dit is dieselfde woord wat in die Nuwe Testamentiese tyd op kwitansies geskryf is, wat aangedui het dat ‘n skuld ten volle betaal is. Jesus se dood aan die kruis was die finale paaiement om vir die sonde te betaal. Die volle skuld van elke sondaar wat na Hom toe vir verlossing kom, is ten volle by Golgota betaal.
Paulus het geskryf: ‘…Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword.’ Die genadebank is nooit gesluit nie en daar is nooit onvoldoende fondse nie. In ‘n breukdeel van ‘n sekonde nadat ons ons sonde bely het, vind ‘n wonderbaarlike transaksie plaas. Al ons sonde word na Christus se rekening oorgeplaas en ten volle betaal.
Daar vind egter ook ‘n tweede oordrag plaas. Al Christus se geregtigheid word ook na ons rekening toe oorgedra! Paulus het dit as volg verduidelik: ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie… God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:19, 21 NLV).
Om ‘in Christus’ te wees, beteken dat ons in sy geregtigheid, eerder as ons eie, geklee is. Dus, wanneer ons voor God staan, hoef ons nie rekenskap van ons sonde te gee nie, want dit is reeds aan die kruis verreken. Die Vader sal die geregtigheid van sy Seun wat aan ons rekening oorgedra is, sien.
Sielskos: Jes 53; Luk 23:26-49; Ps 22
2026-04-02
Matteus 9:38 NLV
Toe Martin Luther die werk begin het wat tot die Groot Hervorming gelei het, het sy vriend Myconius gesê: ‘Ek kan die beste help net waar ek is. Ek sal hier bly en bid terwyl jy jouself inspan.’ Een nag het Myconius egter gedroom en gehoor hoe Jesus vir hom sê: ‘Volg My.’ Jesus het hom na ‘n bergtop gelei en ooswaarts gewys. Myconius het gekyk en ‘n vlakte gesien wat met duisende en duisende skape besaai was en een man wat probeer het om hulle aan te keer. Myconius het die man as sy vriend, Martin Luther, herken. Die Verlosser het toe weswaarts gewys en Myconius het ‘n groot mielieland gesien, met slegs een werker wat die land moes oes. Die eensame arbeider was duidelik uitgeput, maar hy het volgehou. Myconius het die werker as Martin Luther herken.
‘Dit is nie genoeg dat ek net bid nie,’ het hy gesê toe hy wakker word. ‘Die skape moet opgepas word en die mielieland moet geoes word. Hier is ek; stuur my.’ Hy het dadelik na Luther gaan soek en aangebied om vrywillig, in watter hoedanigheid Luther ook al verlang, te dien.
Die Bybel sê: “Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid… Daarop sê Hy vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die werkers wat dit moet insamel, is so bitter min. Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien.'”
Die enigste ‘gebedsversoek’ wat Jesus ooit gemaak het, was vir werkers om die oes in te samel. Hy roep jou om een van hulle te wees.
Sielskos: Jer 25-27; Luk 23:1-25; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6
2026-04-01
Job 32:8 NLV
Elihu het skielik in Job 32 sy stem laat hoor. Dit is duidelik dat hy die hele tyd teenwoordig was, maar hy het stilgebly omdat hy geglo het dat Elifas, Bildad en Sofar ouer en wyser as hy was. ‘…Ek is nog jonk, en julle is al oud. Daarom was ek bang. Ek wou nie waag om te sê wat ek dink nie’ (Job 32:6 NLV).
Nadat hy die lang en betekenislose argumente van Job se drie ouer vriende aangehoor het, het Elihu skielik die moed gekry om te praat: ‘Dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die asem wat van die Almagtige kom. Maar soms het bejaardes nie begrip nie… Luister daarom na my mening. Ek sal julle sê wat ek dink’ (Job 32:8-10 NLV). Hy het toe vir die volgende ses hoofstukke onophoudelik gepraat. Hy het homself nie meer as minderwaardig teenoor die ander beskou nie.
Gevoelens van minderwaardigheid duik op wanneer jy jouself met ander vergelyk. Jy kan ook na die ander uiterste gaan en met ‘n gevoel van meerderwaardigheid opeindig. Daarom moet jy nooit jouself met ander mense vergelyk nie.
Het jy al ooit so onvoldoende gevoel dat jy eerder stilgebly het en geweier het om te praat, al het jy ‘n waardevolle gedagte of idee gehad? Jy moet besef dat dit nie jou vermoë is wat jou sukses bepaal nie, maar ‘die asem wat van die Almagtige kom,’ wat jou insig gee. Die geheim tot sukses is om daagliks op God se krag te steun om jou in staat te stel om daardie sukses te bereik. Wanneer jy van hierdie waarheid oortuig is, sal jy nuwe vlakke van risiko en verantwoordelikheid kan aanpak, sonder om mislukking te vrees.
Sielskos: Deut 16:1-8; Luk 22:39-71; Matt 26:17-28
2026-03-31
Matteus 6:10 NLV
Elke keer wanneer jy konflik met iemand het, maar na hulle toe gaan en versoening en vergifnis vra – breek God se koninkryk in hierdie wêreld aan. Elke keer wanneer jy geld aan iemand wat honger of haweloos of arm is gee – breek die koninkryk in hierdie wêreld aan. Elke keer wat iemand ‘n verslawing met God se hulp probeer oorkom en bereid is om hulp by ‘n liefdevolle gemeenskap te kry – breek die koninkryk in hierdie wêreld aan. Elke keer as ‘n ouer wat aan sy of haar werk verslaaf is besluit om op te hou om hul werk te verafgod, hul lewe te herrangskik en die gesin wat aan hulle toevertrou is, te begin liefhê en versorg – breek die koninkryk in die hierdie wêreld aan. Elke keer wat jy iemand insluit wat eensaam is, elke keer as jy iemand aanmoedig wat ontmoedig is, elke keer wat jy iemand wat van die pad afdwaal uitdaag en elke keer wanneer jy die behoeftiges dien – breek die koninkryk van God in hierdie wêreld aan.
Jesus het ons geleer om te bid: ‘Laat u koningsheerskappy spoedig kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.’ Let op dat Hy nie vir ons gesê het om te bid: ‘Kry my hier uit sodat ek na God se koninkryk kan gaan!’ nie. Sy gebed was: ‘Laat die hemelse dinge aarde toe kom. Laat dinge hier onder, in my lewe, verloop soos hulle daar bo in die hemel verloop.’
Die antwoord op hierdie gebed begin by jou persoonlik: jou liggaam, jou verstand, jou denkwyses, ens. Dan versprei dit na jou werkplek, jou familie, jou buurt, jou kerk en jou invloedsfeer. Dit alles begin deur jouself hierdie vraag af te vra: ‘Waar wil ek God se teenwoordigheid en krag in my wêreld sien aanbreek?
Sielskos: Jer 22-24; Luk 22:1-38; Ps 6; Spr 8:34-36
2026-03-30
1 Kronieke 29:14 NLV
Toe die volk van Israel offers gebring het om die tempel te bou, het Dawid gesê: ‘…Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here… Rykdom en eer kom van U alleen… Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!’ (verse 11-12, 14 NLV).
Stel jou vir ‘n oomblik voor dat jy daarvoor verantwoordelik is om iemand anders se geld weg te gee. Jy mag dit nie spandeer nie; jy mag net besluit waarheen dit moet gaan. ‘n Mens sal dit geniet om so ‘n filantroop te wees! Wie sou dit nie geniet om ‘n lewenslyn te wees vir diegene wat dit werklik nodig het nie? Sou jy nie ‘n bietjie rustiger slaap as jy weet dat jy ‘n verskil in die wêreld gemaak het nie?
Dit is die situasie waarin jy jou as rentmeester oor dit wat God aan jou toevertrou het, bevind. Aan jou is iemand anders se geld en die geleentheid om te besluit waarheen dit moet gaan, gegee. Die enigste iets wat tussen jou en ongebreidelde vreugde staan, is om daardie werklikheid te omhels en jouself in die werk van God se koninkryk op aarde te stort.
‘n Boer koop nie saad om dit te eet of te bêre nie. Hy besluit waar om dit te plant. Eers nadat die saad onherroeplik in die grond geplant is, word ‘n oes teruggegee. Dit is hoe vreugde verwesenlik word. Net anderkant die vrees wat jou vrygewigheid demp, wag ‘n oes van vreugde. Daarom het Paulus geskryf: ‘…munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk’ (2 Korintiërs 8:7 NLV).
Sielskos: Jer 18-21; Luk 21:34-38; Ps 31; Spr 8:32-33