2026-04-10
Romeine 12:2 NLV
Jy is geskape om lief te hê, maar jy het geleer om te vrees! Die neurologiese roetes in jou brein evalueer bewustelik toksiese gedagtes en wanneer jy kies om die situasie aan God oor te gee, onderwerp jy jou nie aan vrees nie, maar tree in liefde op. Liefde is sterker as vrees! ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie’ (1 Johannes 4:18 NLV).
As ‘n verloste kind van God is jy vir liefde bedraad, wat beteken dat liefde jou normale lewensuitkyk moet wees. Ongeag die manier waarop jy in die verlede gekies het om te reageer, kan pynlike, toksiese gedagtes vernuwe word. Selfs toksiese gevoelens wat jy so lank gekoester het en waarmee jy so vertroud is dat jy dink dis normaal, kan vernuwe word. Jy kan hulle as gevolg van jou brein se neuroplastisiteit analiseer en herbedraad. Dit is wat Paulus bedoel het: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’
Sal hierdie ‘vernuwing’ oornag gebeur? Nee. Die wetenskap toon dat jy iets ten minste sewe keer moet oefen en gebruik voordat dit deel van jou word. Soos jy aanhou om dit te doen, sal God se Gees met jou werk en uiteindelik sal jy hierdie wonderlike liefdesbedrading van die brein kan gebruik om jou rede en emosies te balanseer. Wanneer jy dit doen, sal jy ‘n reuse-sprong neem om al jou gedagtes onder beheer te kry, wat dan jou emosies onder beheer sal bring (sien 2 Korintiërs 10:5).
Sielskos: Jer 45-48; Luk 24:45-53; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10
2026-04-09
Efesiërs 5:15-16 NLV
As jy nou wyse besluite neem, sal jy ‘n beter toekoms hê. As jy nou jou tyd mors, sal jy later spyt wees. Daarom moet jy die regte ding doen wanneer jy die geleentheid het om dit te doen. Paulus het geskryf: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV).
God is in staat om groot dinge te doen soos sy krag deur jou werk. Dit gaan dus nie net daaroor dat God dinge vir jou doen nie; Hy wil ook dinge deur jou doen. Hou op wens dat omstandighede in jou lewe verander en begin aksie neem! Bid en bestudeer God se Woord. Soos Hy dan tot jou hart spreek, tree in geloof op en doen wat Hy jou lei om te doen. God het jou geskep om doelbewus te leef! Hy het jou nie net geroep om besig te wees nie – Hy het jou ook geroep om goeie vrugte te dra (sien Johannes 15:16 NLV).
Dit is maklik om in die besige lewe vasgevang te word. Jy moet egter ook tyd neem om na te dink oor hoe jy jou tyd bestee! Voor jy gaan slaap, dink na oor die dinge waarmee jy jou dag gevul het: watter dinge het God se plan en doel vervul en watter dinge was ‘n afleiding? Vra God om die dinge wat moet verander en hoe jy beter keuses kan maak, wat met sy wysheid ooreenstem, aan jou te openbaar. Steun dan op Hom vir die krag wat jy nodig het om daardie veranderinge te maak. As jy dit doen, sal jy vervuld, vreedsaam en opgewonde wees oor hoe God in jou lewe werk.
Sielskos: Jer 41-44; Luk 24:36-44; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7
2026-04-08
Johannes 1:41-42 NLV
Wat het Billy Graham en die Campus Crusade for Christ-stigter Bill Bright en die Young Life-stigter Jim Rayburn en die Navigators-stigter Dawson Trotman in gemeen? ‘n Sondagskoolonderwyseres genaamd Henrietta Mears. Toe Henrietta agt-en-dertig jaar oud was, het sy van Minnesota na ‘n ontluikende dorp genaamd Hollywood, Kalifornië, verhuis. Sy het Sondagskool by die Eerste Presbiteriaanse Kerk aangebied en uiteindelik ‘n verstommende 6500 studente gehad. Vir vier dekades lank het sy haar getrou aan haar passie om ‘n Sondagskool te bou, gewy. Sy het ook ‘n uitgewery genaamd Gospel Light en ‘n suksesvolle konferensiesentrum genaamd Forest Home begin. Daarbenewens het sy ‘n boek, What the Bible Is All About, geskryf wat meer as drie miljoen eksemplare verkoop het.
Dit is onmoontlik om te skat hoeveel miljoene mense die evangelie deur hierdie vrou en die Christelike leiers wat sy vir God gementor en gevorm het, aangehoor het. Kyk na die bediening van net een van haar studente, Bill Bright. Hy het Campus Crusade for Christ begin, wat volgens die laaste telling 20 000 voltydse personeel plus 663 000 opgeleide vrywilligers in 181 lande het. Grootliks danksy The Jesus Film-projek, het Bill Bright se organisasie meer as 3,4 miljard mense met die evangelie bereik – die helfte van die wêreldbevolking.
Jy mag dalk nie soveel mense beïnvloed nie, maar jy mag dalk een persoon beïnvloed, wat uiteindelik baie ander beïnvloed. Andreas, een van die twaalf dissipels, het dit gedoen. Hy het sy broer Simon Petrus na Jesus gebring en Simon Petrus het uiteindelik ‘n menigte mense na Jesus gelei. Jy kan ‘n verskil maak. Al wat jy moet doen is om jouself vir God beskikbaar te stel.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Luk 24:25-35; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3
2026-04-07
Spreuke 6:2-3 AFR20
In 1755 het ‘n drie-en-twintigjarige kolonel van die weermag ‘n beledigende opmerking as deel van een van sy politieke veldtogtoesprake gemaak. Dit was op ‘n humeurige man, genaamd Payne, gemik, wat gereageer het deur die kolonel met ‘n stok te slaan. Soldate het die kolonel te hulp gesnel en dit het gelyk of ‘n volskaalse geveg op die punt was om uit te breek. Die voornemende politikus het egter opgestaan, homself afgestof, die soldate weggestuur en die toneel stilweg verlaat.
Die volgende oggend het die kolonel aan Payne geskryf en sy teenwoordigheid by ‘n plaaslike taverne versoek. Payne het ingestem, maar hy het gewonder watter eise die kolonel sou stel – miskien ‘n verskoning of selfs ‘n tweegeveg. Tot Payne se verbasing het die kolonel hom met ‘n verskoning begroet, vergifnis vir sy neerhalende opmerkings gevra en ‘n handdruk aangebied. Ander mense mag dalk die gebaar as polities gemotiveerd afgemaak het, maar kolonel George Washington het dit ter wille van sy innerlike vrede nodig geag, terwyl hy met sy politieke veldtog op pad om Amerika se eerste president te word, voortgegaan het.
Jesus het gesê: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer. Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom…’ (Matteus 5:23-25 NLV). Salomo het gesê: ‘as jy in ‘n strik getrap het deur die woorde van jou mond… doen dan dit… Gaan – verneder jouself!’ (Spreuke 6:2-3 AFR20). Die woord vir jou vandag is: Word nederig en probeer om dit reg te maak.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Luk 24:19-24; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2026-04-06
Efesiërs 4:23 NLV
Ons is drieledige wesens: gees, siel en liggaam. Wanneer ons Jesus Here van ons lewe maak, word ons van die geestelike dood genees. Daar is egter steeds twee areas wat Christus se genesende aanraking nodig het: ons siele (verstand, emosies en wil) en ons fisiese liggame. God se Woord leer ons dat ons fisiese gesondheid en geestesgesondheid onherroeplik met mekaar verbind is. ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy’ (Spreuke 23:7 AFR53). Wat ons van onsself dink, is wat ons word. Ongesonde denke lei tot ‘n ongesonde lewe.
Johannes het geskryf: ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes 1:2 NLV). Enige area waarin ons siel ongesond is – of dit nou ‘n lae selfbeeld, negatiewe gedagtes of vernietigende gewoontes is – kan deur God se Woord genees word.
Die meerderheid van Satan se aanvalle begin in ons verstand. Hy gebruik verkeerde gedagtes en indrukke om ons van God se beste weg te lei. Die enigste manier om hierdie aanvalle teen te werk, is om op God se Woord te staan en toe te laat dat sy gesonde gedagtes ons daaglikse denke deurdring. Gedagtes van vrees kan met gedagtes van geloof vervang word. Gedagtes van gebrek kan met gedagtes van voorsiening vervang word. Gedagtes van mislukking en depressie kan met gedagtes van sukses en vreugde vervang word.
Hoe kan ons dit regkry? Paulus gee ons die antwoord: ‘Julle moet op ‘n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is’ (Efesiërs 4:23-24 NLV).
Sielskos: Jer 31-32; Luk 24:13-18; Ps 32; Spr 9:10-16
2026-04-05
Matteus 28:6 NLV
Eendag sal jou hart ‘n laaste pols gee en jou longe ‘n laaste asemteug uitblaas. Tensy Christus alreeds teruggekeer het, sal jy sterf. Die Psalmdigter het gevra: ‘Watter mens kan lewe sonder om die dood te sien? Wie kan homself red uit die mag van die doderyk?’ (Psalm 89:49 NLV). Jonk en oud, goed en sleg, ryk en arm; geen mens word daarvan vrygestel nie. ‘Niemand het die mag om die wind te beheer nie. Net so kan mense nie bepaal wanneer hulle doodgaan nie…’ (Prediker 8:8 NLV).
Die wyses, die rykes, die armes – niemand kan daarvoor weghardloop of die dood uitoorlê nie. Ons almal sal sterf. ‘Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf…’ (Hebreërs 9:27 NLV). Oefen soveel as wat jy wil. Eet net gesonde kos en drink handevol vitamienes. Bly uit die son en weg van alkohol en van dwelms af. Doen jou bes om aan die lewe te bly en jy sal steeds sterf.
Die dood lyk soos ‘n doodloopstraat, totdat ons Jesus se opstandingsverhaal lees: ‘Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het… En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels… Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien… Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan… om die boodskap aan sy dissipels te gaan gee… Die elf dissipels het toe na Galilea toe gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid…’ (Matteus 28:6-17 NLV).
Vir die verloste kind van God is die dood nie die einde nie, maar die begin van ‘n glorieryke lewe in die hemel wat geen einde sal hê nie.
Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12