2026-04-16
Johannes 8:32 NLV
As jy ‘n rekenaar gebruik, weet jy wat die ‘save’ knoppie is. Om ‘n dokument te stoor, druk jy net die ‘save’ knoppie. Woorde op die skerm word dan in die kern van die masjien gestoor. Solank die woorde slegs tot die skerm beperk is, is hulle kwesbaar om uitgewis te word. Ons vervloek die rekenaarmonster wanneer dit ons harde werk verslind wanneer ons vergeet om die ‘save’ knoppie te druk. Sodra ons egter ons werk stoor, is dit veilig.
Kliek jy op die ‘save’ knoppie wanneer jy die Skrif lees? Jy stoor die waarheid wanneer jy doelbewus toelaat dat dit wat jy gelees of gehoor het, deel word van wie jy is. Jesus het gesê: ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ Soos jy die waarheid leer en stoor, bevry dit jou van skuldgevoelens, vrees, trots, woede, ens. Waarheid wat gestoor word, hervorm jou en het ‘n impak op jou hart. Slegs wanneer jy toelaat dat die waarheid van die Skrif die gesag in jou lewe word, sal jy ervaar hoe dit werk.
Bid die volgende: ‘God, spreek vandag asseblief tot my hart terwyl ek u Woord lees.’ Lees dan die Skrif met ‘n oop hart totdat ‘n teksvers jou aanraak. God het vir Josua gesê indien hy die opdragte van die Skrif sou uitvoer, Hy sy weg voorspoedig sou maak (sien Josua 1:8). Die belofte van voorspoed sluit finansies in, maar dit verwys ook na ‘n welgestelde gees, verstand en liggaam.
God gee nuwe vaardighede aan ‘n leier, beter slaap aan ‘n werker, meer geduld vir ‘n onderwyser, dieper liefde vir ‘n moeder en groter hoop vir ‘n bejaarde persoon. Kliek dus op die ‘save’ knoppie!
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Matt 2:13-18; Ps 75; Spr 10:22-23
2026-04-15
Psalm 119:15 NLV
Meditasie is die effektiefste manier om God se Woord in te neem. ‘Gelukkig is die mens wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:1-2 NLV). God sal jou help om dit waaroor jy mediteer en memoriseer, te onthou wanneer jy dit nodig het. ‘en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom… sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV).
Jeremiah Denton, ‘n hooggeplaaste Amerikaanse soldaat, is tydens die oorlog in Vietnam aan uitmergelende marteling onderwerp. Hy het egter oorleef en teruggekeer huis toe om ‘n senator in Alabama te word. Hoe het hy dit gedoen? Hy sê dat een van sy basiese maniere om te oorleef was om gedeeltes uit die Skrif wat hy gememoriseer het, aan te haal. Die Skrif was sy onsigbare swaard om die wreedste wapens van die vyand af te weer. Deur innerlik op die krag van God te fokus om hom te onderhou en te versterk, kon hy bo sy omstandighede uitstyg. Teksverse wat hy jare gelede gememoriseer en oor gemediteer het, het sy gebede van verlossing geword.
Wanneer jy oor God en sy Woord mediteer en sy vele beloftes en dade van getrouheid onthou, groei jou geloof en jou vrese verdwyn (sien Romeine 10:17). Dawid het dit goed verstaan. Hy het baie keer in sy pogings om die toorn van koning Saul te ontsnap, die grootheid van God onthou en is hy versterk. ‘Ek prys die Here wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus’ (Psalm 16:7 NLV). Doen jouself ‘n groot guns: Begin om oor God se Woord te mediteer en dit te memoriseer.
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Matt 2:1-12; Ps 127; Spr 10:19-21
2026-04-14
2 Kronieke 16:9 NLV
God gee nooit aan ‘n persoon verantwoordelikheid sonder die vermoë om daarop te reageer nie. Jy kan dus vandag in die spieël kyk en met vertroue sê: ‘God, U het my hierdie verantwoordelikheid gegee en die vermoë om daarop te reageer.’ Wanneer God gewone mense in die Bybel geroep het om groot dinge te doen, het hulle gewoonlik met ‘n gevoel van ontoereikendheid gereageer.
Toe God Moses opdrag gegee het om die Israeliete uit Egiptiese slawerny te lei, het Moses “… by die Here gepleit: ‘Ag Here, ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas'” (Eksodus 4:10 NLV). God wou egter nie verskonings hoor nie en het vir Moses gesê: ‘Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê’ (Eksodus 4:12 NLV).
Toe God vir Gideon gesê het om die Israeliete na oorwinning teen die magtige leër van Midian te lei, lees ons: “Maar Gideon sê vir Hom: ‘Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid van my gesin.’ ‘Ek is dan saam met jou!’ het die Here vir hom gesê. ‘Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg'” (Rigters 6:15-16 NLV). Gideon het ‘n leër van 135 000 met slegs 300 soldate – plus God – verslaan.
Die volgende keer wat Satan jou dus herinner dat jy ontoereikend is, sê: ‘Jy is reg! Maar ek is egter verbonde aan ‘n God wat almagtig, alwetend en altyd teenwoordig is. Deur Hom is ek tot alles in staat!’ (sien Filippense 4:13).
Sielskos: Joël 1-3; Matt 1:18-25; Ps 43; Spr 10:17-18
2026-04-13
Psalm 16:8 AFR53
Sê hierdie woorde ‘n paar keer hardop en laat dit in jou gedagtes rondrol: ‘Ek stel die Here altyddeur voor my.’ Neem tyd om na te dink hoe dit werklik in jou lewe ervaar kan word. Hoe sou dit wees om met God in jou gedagtes wakker te word? Hoe sou dit snags voel as jy bewus is van Hom terwyl jy aan die slaap raak? Hoe sou jou gesprekke met ander mense wees as God as die onsigbare derde party teenwoordig is? Hoe sou werk of skool wees as jy voortdurend bewus van God is en met Hom kommunikeer terwyl jy in jou kantoor of by jou lessenaar sit, sy hulp en leiding vra en nie die las alleen probeer dra nie?
Dit is immers sy belofte aan jou: ‘Gee jou kommer oor aan die Here, Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Dink na oor die idee dat die Here ‘aan jou regterhand’ is. In die Skrif word die regterhand as die hand van krag en die een wat die werk doen, beskou. Dink nou oor hierdie woorde na: ‘ek [sal] nie wankel nie’ (Psalm 16:8 AFR53).
Stel jou voor dat jy slegte nuus ontvang of teenstand in die gesig staar; stel jou voor dat ‘n belangrike persoon nie van jou hou nie. Stel jou voor dat dit sleg by jou werk gaan – maar dit skud nie jou fondasies nie. Hoekom nie? Omdat God jou bonatuurlike vrede gee. Is dit die lewe wat jy wil hê? Bid dan: ‘God, ek kies hierdie lewe; wys my wat ek moet doen sodat dit so kan wees.’
Sielskos: Jer 51-52; Matt 1:7-17; Ps 56; Spr 10:14-16
2026-04-12
Lukas 15:18 NLV
Die verhaal van die verlore seun illustreer die betekenis van ware berou en bekering. Dit gaan oor ‘n jong Joodse man wat in opstand teen alles wat hy geleer is, gekom het, sy pa die rug toegekeer het, deur die helder ligte van die groot stad verlei is en uiteindelik in ‘n varkhok beland het. Hy het egter drie dinge gedoen wat sy lewe omgedraai het.
Eerstens het hy van plan verander. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan!'” (vers 17 NLV).Tweedens het hy sy wilskrag verander. ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa’ (vers 18 NLV). Derdens het hy opgetree. ‘Hy het dus teruggekeer huis toe na sy pa toe…’ (vers 20 NLV).
Bekering is ‘n verandering van denke, wat ‘n verandering van wilskrag teweegbring en lei tot ‘n verandering van optrede. Hier is twee dinge wat jy oor sonde moet weet:
1) God sal elke sonde wat jy probeer toesmeer, openbaar. ‘Julle moet dus nie voortydig ‘n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring…’ (1 Korintiërs 4:5 NLV).
2) God sal elke sonde wat jy openbaar, bedek. ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie. Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang’ (Spreuke 28:13 NLV). Gaan dus voort en bely en laat vaar jou sonde, want God sal dit met die bloed van Christus bedek. Daar is geen rede om te wag nie. Doen dit nou.
Sielskos: Ps 23; Luk 15:1-7; Op 7:13-17
2026-04-11
Efesiërs 5:21 NLV
Paulus het geskryf: ‘Omdat julle respek het vir wat Christus vir julle gedoen het, moet julle aan mekaar onderdanig wees.’ Satan is die huwelik se vyand. Om hom te verslaan, moet jy eers weet hoe om te identifiseer waar, wanneer en hoe hy aan die werk is. Solank as wat julle daarop fokus om met mekaar te baklei of mekaar te blameer, sal julle huwelik aanhou om met elke mislukte versoek tot intimiteit, elke onvervulde verwagting en elke dag wat jy hopeloos wens dat jou eggenoot sal verander, in verdere ellende verval.
Ja, jy moet beter kommunikasiepatrone aanleer, leer hoe om te vergewe en hoe siekte of finansiële probleme hanteer moet word. Wanneer jy egter besef dat hierdie dinge hul ontstaan by dieselfde bose bron het, kan jy dit soveel effektiewer beveg. Doen die volgende twee dinge:
1) Fokus eers op jouself. Jy kan niemand anders as jouself verander nie. In baie opsigte kan jy selfs dit nie eers doen nie. Jy het God se ingryping in jou eie lewe nodig (sien 2 Korintiërs 3:18). Jy moet verstaan wie God jou roep om in jou huwelik te wees.
(2) Bid vir en saam met jou eggenoot (sien Matteus 18:19). Gebed is onontbeerlik om die vyand in jou huwelik te verslaan. Bid vir leiding in wat God wil hê jy moet doen. Indien jou eggenoot gewillig is, bid saam en hardop. Nooi God om by jou huwelik in te gryp en dit ‘n voorbeeld van die werk wat slegs Hy in twee mense se lewens kan teweegbring, te maak. Jy kan Christus se oorwinning in jou huwelik ervaar.
Sielskos: Jer 49-50; Matt 1:1-6; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13