Gebed is jou skakel met God

2026-04-22
Jesaja 62:6 NLV

Die remora-vis het ‘n ovaalvormige suigskyf bo-op sy kop wat hy gebruik om aan die onderkant van ‘n haai vas te suig. Sodra die remora aan die haai vas is, hoef hy nie oor kos, vervoer of veiligheid bekommerd te wees nie. Hy voed op die kos wat uit die haai se bek val. Natuurlik het hy die opsie om self te swem, maar wanneer hy besluit om aan die haai vas te suig, moet hy gaan waar die haai gaan. Hy probeer nie om in ‘n ander rigting as die haai te beur nie. Beskerming? Dis nie ‘n probleem vir iemand wat aan so ‘n kragtige wese verbind is nie. Die remora is veilig en weet die haai kan hom na plekke neem waarheen hy nooit alleen sou kon gaan nie.

Klink dit nie na die verhouding wat God begeer sy kinders met Hom moet hê nie? Hy wil hê ons moet op die woorde wat uit sy mond kom, voed. Hy wil hê ons moet saam met Hom gaan waar Hy ons lei en nie op onafhanklike uitstappies met die hoop dat Hy sal saamgaan, gaan nie. Hy wil hê ons moet met die versekering leef dat Hy nie net ons lewe nie, maar ook ons verhoudings en alles anders in ons lewe, sal beskerm.

Was ons maar soos die remora-vis! Dan sou ons daagliks deur gebed aan God verbind wees. Hy wag om ons na plekke te lei waarheen ons te bang is om alleen te gaan. Die profeet Jesaja het die Joodse leiers vermaan: ‘…Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, moenie rus nie.’ Die woord vir jou vandag is dus – gebed is jou skakel met God.

Sielskos: Hand 14-15; Matt 4:8-17; Ps 7:1-9; Spr 11:3-6

God vergewe en vergeet (4)

2026-04-21
Miga 7:18 NLV

God het ‘n merkwaardige geheue. Die Alwetende Een weet nie net alles nie; Hy onthou ook alles. Trouens, Hy onthou dit nog voordat dit gebeur het! Elke oomblik van jou lewe is in God se gedagtes bepaal nog voordat dit ‘n herinnering geword het – elke lag, elke droom en elke opoffering. Die Psalmdigter het geskryf: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV).

Daar is net een ding wat God kan en sal vergeet: sonde wat bely is. Dus, wanneer jy sonde bely wat jy reeds bely het, herinner jy God aan iets wat Hy reeds vergeet het (sien Jesaja 43:25). Die rede waarom ons dit weer ophaal, is dat alhoewel ons vergewe is, ons nie vergewe voel nie. Wat is dus die antwoord? Moenie jou gevoelens ‘n stem gee nie, anders sal hulle jou mislei. Staan in geloof en glo wat God in sy Woord sê. ‘Ek sal hulle rein maak van die sonde wat hulle teen My gedoen het. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teenoor My, maar Ek sal hulle daarvoor vergewe’ (Jeremia 33:8 NLV).

Die apostel Johannes het dit so gestel: ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Miskien het jy met verslawing gesukkel, of jou huwelik het in ‘n egskeiding geëindig, of jy is in die tronk vir ‘n misdaad wat jy gepleeg het. Wat staan jou te doen? Bekeer jou, bely jou sonde, ontvang God se genade en begin vry van skuldgevoelens en veroordeling leef.

Sielskos: Hand 12-13; Matt 4:1-7; Ps 16; Spr 11:1-2

God vergewe en vergeet (3)

2026-04-20
Klaagliedere 3:22-23 NLV

Die Hebreeuse woord vir nuut is hadas. Dit beteken dis anders. Dit beteken dat jy dit nog nooit vantevore ervaar het nie. Vandag se genade verskil van gister se genade, of die dag daarvoor, of ook die dag daarvoor! Net soos die seisoenale griepentstof van jaar tot jaar verander, verander God se genade van dag tot dag. Dis ‘n nuwe soort genade. Hoekom? Omdat jy nie op dieselfde wyse vandag gesondig het as wat jy gister gedoen het nie!

Probeer hierdie klein oefening: Tel hoe oud jy is – nie in jare nie, maar in dae. Watter getal jy ook al kry, is nie net jou ouderdom in dae nie; dis ook die somtotaal van die verskillende soorte genade wat jy tot op hede in jou lewe ontvang het. Teen die tyd wat jy een-en-twintig is, het jy 7 665 unieke genadebewyse ervaar. Wanneer jy jou middeljare bereik, is dit ongeveer 14 600. Teen die tyd wat jy aftree, het God omtrent 23 725 keer genade aan jou bewys!

Sy genade vir jou is maatpas en perfek vir jou sonde, jou tekortkominge, jou behoeftes en jou foute. Sy genade pas soos ‘n handskoen! Genade en barmhartigheid is nie dieselfde ding nie. Barmhartigheid is om nie dit te kry wat jy verdien nie, en genade is om dit te kry wat jy nie verdien nie. Die apostel Petrus praat van ‘…God se ryk en onverdiende goedheid…’ (1 Petrus 4:10 NLV). Soos sneeuvlokkies, kristalliseer God se genade nooit twee keer op dieselfde manier nie. Dis wat dit so wonderlik maak!

Sielskos: Hand 10-11; Matt 3:11-17; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32

God vergewe en vergeet (2)

2026-04-19
Jeremia 31:34 NLV

Die Israeliete het die Pasga as ‘n manier om hul uittog uit Egipte te herdenk, gevier. Die aand voor die uittog is die Israeliete opdrag gegee om ‘n lam sonder gebrek te offer en hul deurkosyn met sy bloed te merk. Dan, wanneer die Doodsengel deur Egipte gaan, sou hy by hul huis verbygaan.

Jesus se dissipels het nie besef dat hulle die Pasgamaaltyd saam met die Pasgalam (Jesus) eet nie. Jesus het hul begrip van die brood en die beker verander en verduidelik dat dit sy liggaam en bloed verteenwoordig. As gevolg van dit wat Hy by Golgota se kruis bereik het, leef ons onder die beskermende bewaring van die bloed van die Lam. Soos die Pasga, is die nagmaal ‘n herdenking van ons uittog uit slawerny. Ons was slawe van sonde, maar Christus het ons vrygemaak.

Wanneer ons by die Here se Tafel gaan sit, is dit soos om aan die voet van die kruis te gaan sit – die plek waar sonde sy moses teëgekom het. Ons onthou dat ons sonde aan die kruis vasgespyker is.

Sukkel jy om jou sondes en mislukkings te vergeet? Hou die duiwel aan om jou daaraan te herinner? Staan op God se Woord en beteken ‘n uitsettingsbevel op hom. God het in die Ou Testament gesê: ‘…Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.’ In die Nuwe Testament het God gesê: ‘Ek sal My ontferm oor hulle ongeregtighede en Ek sal nooit weer aan hulle sondes dink nie’ (Hebreërs 8:12 NLV). Die Skrif vertel ons wat God met ons sondes doen: ‘…U sal ons sonde onder u voete vertrap, dit weggooi in die diepte van die see!’ (Miga 7:19 NLV).

Sielskos: Matt 1:18-21; Hand 3:1-16; Fil 2:9-11

God vergewe en vergeet (1)

2026-04-18
Hebreërs 8:12 NLV

God vergewe en vergeet. Hy onthou alles wat jy reg gedoen het terwyl Hy alles wat jy verkeerd gedoen het, vergeet. Dit is egter vir ons baie moeiliker om ons belyde sonde te vergeet, selfs al onthou God dit nie. Ons is geneig om ons foute makliker as ons suksesse te onthou. Daarom is dit moeiliker om onsself te vergewe as om God se vergifnis te ontvang. Ons is geneig om te onthou wat ons moet vergeet, terwyl ons vergeet wat ons moet onthou. Hierdie onvermoë om die sonde wat ons bely het te vergeet, is deel van ons sondige aard. Die sondeval het die beeld van God in ons gebreek.

Die amigdala is die deel van die brein wat vir die berging van emosionele herinneringe verantwoordelik is. Die sterkte van die herinnering word deur die sterkte van die emosie wat daaraan gekoppel is, bepaal. Ons vergeet vinnig die oomblikke wat nie ‘n flits op ons emosionele radar maak nie. Sterk emosies, soos skaamte, neem egter sondige foto’s en plak dit op plakkate in ons binneste vas. Hulle word buite verhouding in die donkerkamer van die gees opgeblaas.

Sukkel jy om te vergeet wat God vergewe het? Lees dan hierdie Skrifgedeeltes aandagtig en biddend: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sonde uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). ‘Ek het jou sondes weggevee soos wolke verdwyn. Ek het jou oortredings verstrooi, jou sondes soos wolke wat verdwyn. Keer terug na My toe, want Ek het jou gered’ (Jesaja 44:22 NLV). ‘Ek sal My ontferm oor hulle ongeregtighede en Ek sal nooit weer aan hulle sondes dink nie’ (Hebreërs 8:12 NLV).

God het jou sonde vergewe en vergeet – dis tyd dat jy met Hom saamstem en dieselfde doen.

Sielskos: Hand 8-9; Matt 3:1-10; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29

Wees oortuig van God se liefde vir jou

2026-04-17
1 Johannes 4:16 NLV

Wanneer jy misluk, misluk God se liefde nie vir jou nie. Jy moet dit egter glo om die volheid van dit wat Hy vir jou het, te geniet. Die wete van God se liefde sal jou tot oorwinning dra wanneer die magte van die hel teen jou is. Die wete van God se liefde sal jou deur die lewe se storms en na ‘n plek van vrede dra. God se liefde is nie tot die dae wanneer jy goed presteer beperk nie. Hy het jou net so lief gedurende die tye wanneer jy misluk.

Jy moet oortuig van sy liefde wees, veral wanneer jy deur beproewing gaan en die duiwel jou beskuldig en sê: ‘Wel, jy moes iets verkeerd gedoen het.’ God se liefde word nie op ‘n merietestelsel uitgedeel nie. Jy het niks gedoen om sy liefde te verdien nie; daarom kan jy niks doen om dit te verbeur nie.

Johannes het geskryf: ‘Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hý is. Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie’ (1 Johannes 4:16-18 NLV).

Wees dus ten volle oortuig van God se liefde vir jou.

Sielskos: Hand 6-7; Matt 2:19-23; Ps 130; Spr 10:24-26