2026-05-20
Markus 11:24 NLV
Die country-musiekster Randy Travis en sy bestuurder, Lib, onthou die maer dae van sy loopbaan – al 3 650 van julle. Vir tien jaar lank het Lib alles moontlik gedoen om haar klub lank genoeg oop te hou sodat iemand Travis se talent kon ontdek. Randy het sy hart uitgesing. Wanneer hy nie besig was om te sing nie, het hy kos vir die klante gemaak en skottelgoed in die kombuis gewas.
Toe gebeur dit. Sy deurbraak het gekom en skielik het alles begin sin maak. Hy het ‘n treffer genaamd ‘On the Other Hand’ gehad en ‘n albumkontrak, ‘n toeraanbod en ‘n fliekkontrak losgeslaan. Hy was witwarm! Skielik het almal hom ‘n oornagsukses genoem. Randy onthou dit egter anders: ‘Ons is meer as een keer deur elke platemaatskappy in Nashville afgekeur. Ek is egter die soort persoon wat glo dat as jy lank genoeg aan iets werk en aanhou glo, dit vroeër of later sal gebeur.’
Randy Travis het ‘n Amerikaanse musieklegende geword, drie Grammies en sewe Dove-toekennings gewen en is in die Country Music Hall of Fame opgeneem. Dit het egter nie maklik gekom of oornag gebeur nie. Dit het gebeur omdat hy hard gewerk het, getrou deur die moeilike tye gebly het en God vir sy sukses vertrou het.
Jesus het gesê: ‘…alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.’ Jy moet egter die volgende in gedagte hou: Dit sal op God se tyd en volgens sy skedule gebeur. Jou taak is om deur geloof te bly wandel en Hom te vertrou om dit te laat gebeur.
Sielskos: Rig 4-6; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 13:7-8
2026-05-19
Lukas 5:2 NLV
Waarom sou vissermanne hulle nette, wat nie gebruik is nie, was? Hulle het tou opgegooi omdat hulle oornag niks daarmee uitgerig het nie. ‘…Ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie…’ (vers 5 NLV). Hulle was verslae! Jesus het egter toe opgedaag. Hy het gekom tot waar hulle was; Hy het reg in die middel van hul teleurstelling met ‘n oplossing ingestap.
Eers het Hy vir hulle gevra om hulle boot te gebruik om vir die skare te preek en die menigtes te genees. Kind van God, gee alles aan Hom oor – alles wat jy het, alles wat jy is en alles wat jy ooit sal wees – en laat Hom toe om jou vir sy hoogste doeleindes te gebruik. Daarna het Hy vir hulle ‘n woord gegee wat slegs deur geloof ontvang kon word: ‘…Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (Lukas 5:4 NLV).
Verstaan jy nou hoekom Hy wag tot jy alles gedoen het waaraan jy kan dink? Slegs dan is jy gereed om te luister. Al lyk dit of sy Woord nie sin maak nie, is jy dan gereed om dit sonder vrae te gehoorsaam. Is jy vandag mismoedig? Is dit jou bediening, jou huwelik, jou werk of jou gesondheid wat jou moedeloos maak? Jy is dalk besig om jou nette te was, maar dis nie verby nie. Wie het vir jou gesê God gaan jou nie weer seën nie? Wie het vir jou gesê Hy gaan nie oorwinning uit jou wanhoop voortbring nie?
Dis nie verby totdat Hy sê dis verby nie. As Hy die leë nette van daardie mismoedige dissipels kon vul, dan is daar nie ‘n probleem van jou wat Hy nie kan oplos nie.
Sielskos: Rig 1-3; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6
2026-05-18
Josua 1:9 NLV
Dit is onmoontlik om suksesvol te leef sonder om risiko’s te neem. Leo Buscaglia het geskryf: ‘Om te lag is om die risiko te loop om dwaas voor te kom. Om te huil is om die risiko te loop om sentimenteel voor te kom. Om lief te hê is om die risiko te loop om nie liefde terug te ontvang nie. Om te lewe is om die risiko te loop om te sterf. Om te hoop is om die risiko te loop om wanhoop te ervaar en om te probeer is om die risiko te neem om te misluk. Risiko’s moet egter geneem word, want die grootste gevaar in die lewe is om niks te waag nie. Slegs die persoon wat waag, is werklik vry.’
Franklin Roosevelt het ‘n groot deel van sy lewe teen siekte geveg en was aan ‘n rolstoel gekluister. Hy het gesê: ‘Dit is gesonde verstand om ‘n manier te kry en dit uit te probeer. As dit misluk, erken dit openlik en probeer ‘n ander manier. Maar bowenal, probeer net.’
In sy boek, The Pursuit of Excellence, gee Ted W. Engstrom hierdie raad oor die belangrikheid om te probeer: ‘Vanaf vandag kan jy begin om jou gawes te geniet, te gebruik en te ontwikkel. As jy nog altyd wou skryf, skryf dan iets – ‘n kort artikel, ‘n gedig, ‘n verslag van jou vakansie. Skryf dit asof dit gepubliseer gaan word. As jy ‘n fotograaf is, maak jou beste foto’s bymekaar en skryf vir ‘n kompetisie in. As jy dink dat jy ‘n goeie tennisspeler is, neem dan aan ‘n paar toernooie deel en kyk hoe jy vaar. Jy wen dalk nie die prys nie, maar dink net hoeveel jy sal leer en ervaar deur net te probeer. Die grootste mislukking is om nie te probeer nie!’
Sielskos: Rut 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3
2026-05-17
1 Petrus 5:6 NLV
God sal nie trots van enigiemand duld nie. As selfverhewe mense weier om hulself te verootmoedig, laat hulle God geen ander keuse as om dit vir hulle te doen nie. Eendag het trots die oorhand oor Nebukadnesar, die koning van Babel, gekry: “…hy [het] op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop. Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ‘n teken te wees van my grootheid'” (Daniël 4:30 NLV). Dit was rou, onverbloemde, arrogante trots.
‘n Jaar tevore het Daniël die koning se droom vir hom uitgelê en gesê dat hy sy weë moet verander. Die koning het egter Daniël se waarskuwing geïgnoreer. God het op daardie oomblik gesê genoeg is genoeg en sy trotse oomblik onderbreek: “Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ‘n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hier is ‘n aankondiging vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat!'” (Daniël 4:31 NLV). Gedurende die volgende sewe jaar het Nebukadnesar sy verstand verloor en is hy tot die status van ‘n dier in die bos gereduseer. Dit is hoe laag trots hom laat val het!
Iemand het eenkeer gesê: “‘n Man wat te ingenome met homself is, is maar vervelige geselskap.” Eers toe Nebukadnesar homself verootmoedig het, het God hom genade bewys en hom sy verstand en sy heerskappy teruggegee. Dit is toe dat hy God se soewereiniteit oor alle konings en koninkryke verklaar het: ‘As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nebukadnesar, die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is waar. Wat Hy doen is reg. Almal wat hoogmoedig is kan Hy verneder’ (Daniël 4:37 NLV). Wees dus nederig!
Sielskos: Est 4:9-5:3; Matt 11:28; Heb 4:14-16
2026-05-16
Romeine 4:20 NLV
Die Aartsbiskop van Canterbury het ‘n akteur genaamd mnr. Butterton geken. Eendag het hy vir Butterton gevra: ‘Hoe kry julle akteurs op die verhoog dit reg om julle gehore te beïnvloed deur van denkbeeldige dinge te praat asof dit werklik is, terwyl ons in die kerk van werklike dinge praat, wat ons gemeentes aanhoor asof dit denkbeeldig is?’ Butterton het geantwoord: ‘Want ons akteurs op die verhoog praat van denkbeeldige dinge asof dit waarlik werklik is en julle op die kansel praat van werklike dinge asof dit maar denkbeeldig is.’
Die wêreld het Christene nodig wat praat asof hulle glo dat dit wat God in sy Woord sê, waar is en wat daarvolgens leef. Toe Abraham tagtig jaar oud was, het God hom belowe dat hy ‘n seun sou verwek. Twintig jaar later het dit nog nie gebeur nie, maar Abraham het ferm op God se Woord gestaan: ‘Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het’ (verse 20-21 NLV).
William James het gesê: ‘As jy ‘n sekere karaktereienskap wil hê, moet jy optree asof jy dit reeds het.’ Hy het ook gesê: ‘Tree op asof dit wat jy doen ‘n verskil maak. Dit doen.’ Sint Augustinus het gesê: ‘God het elkeen van ons lief asof daar net een van ons is.’ As jy die waarheid hiervan ten volle begryp, sal dit jou van vrees bevry, want dit is wat God se perfekte liefde doen (sien 1 Johannes 4:18). God kan jou nie meer of minder liefhê nie, want Hy het jou reeds onvoorwaardelik en ewig lief. Jou werk is om soos sy geliefde te leef.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Matt 10:32-42; Ps 18:30-50; Spr 12:25-28
2026-05-15
Spreuke 23:7 AFR53
‘n Halfeeu gelede is ‘n fassinerende eksperiment uitgevoer. Drie mans het hul krag op ‘n masjien getoets, met ‘n gemiddelde meting van 101 pond druk. Toe is die deelnemers gehipnotiseer en die navorser het vir hulle gesê: ‘Julle kan nie groot druk uitoefen nie, want julle is swak.’ Onder die krag van suggestie het hul gemiddelde krag tot 29 pond druk gedaal. Toe sê die navorser: ‘Nou het julle krag weer baie toegeneem.’ Hul gemiddelde krag het tot 145 pond druk toegeneem. Hul krag is vyfvoudig verhoog toe hulle gesê het: ‘Ek kan,’ teenoor toe hulle gesê het: ‘Ek kan nie.’
Dit help om aan die Skrif as ‘n padkaart te dink. Die werklikheid van jou omstandighede laat jou dikwels voel asof jy van die pad afwyk, maar dan moet jy vir leiding in God se Woord soek. Jy moet leef asof jy is wie God sê jy is, jy het wat God sê jy het en jy kan doen wat God sê jy kan doen. As jy die vyand se leuens glo, is jy diep in die moeilikheid. As jy egter God se Woord glo, sal dit jou uit die moeilikheid red en hou.
Wanneer jy eensaam is, moenie sy belofte vergeet nie: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Wanneer jy voel asof jy koers verloor het, onthou sy woorde: “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). Wanneer jy teen siekte worstel, kan jy op sy belofte staan: “‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees,’ sê die Here…” (Jeremia 30:17 NLV).
Die woord vir jou vandag is – leef asof jy dit glo!
Sielskos: 1 Pet 1-5; Matt 10:21-31; Ps 18:1-29; Spr 12:23-24