2026-05-26
Daniël 10:18 NLV
Elisabeth Elliott skryf in haar boek, A Slow and Certain Light, die volgende: ‘Toe ek in die woude van Ecuador gewoon het, het ek gewoonlik te voet gereis. Paadjies het dikwels deur strome en riviere gelei wat ons moes oorsteek, maar soms was daar ‘n primitiewe brug hoog bo die water wat ons moes oorsteek. Ek het daardie brûe gevrees. Die plaaslike inwoners sou egter sê: ‘Loop net oor, señorita,’ en sou die brug ligvoets en vol selfvertroue oorsteek.
Ek was ook kaalvoet soos hulle, maar dit was nie genoeg nie. Op die brug kon ek nie ophou om na die rivier onder my te kyk nie. Ek was bang ek sou gly. My balans was nog nooit goed nie, dus sou my gids sy hand uitsteek om my te help. Hierdie aanraking was al wat ek nodig gehad het. Ek het myself ophou bekommer dat ek gaan gly. Ek het opgehou om afwaarts na die rivier te kyk en eerder na die gids gekyk, wat my hand met net die geringste aanraking vasgehou het. Wanneer ek die ander kant bereik het, het ek besef dat as ek gegly het, hy my sou vang. Sy teenwoordigheid en sy aanraking, was al wat ek nodig gehad het.’
Dis al wat jy ook nodig het: om God se teenwoordigheid te ervaar en sy aanraking te voel. Daniël het geskryf: “Die een wat soos ‘n mens lyk, het toe weer aan my geraak en my sterk gemaak. ‘Moenie bang wees nie,’ sê hy weer vir my. ‘God is lief vir jou. Wees rustig. Wees sterk.’ Terwyl hy met my gepraat het, het ek sterk geword. Ek het vir hom gesê: ‘Meneer kan maar nou met my praat. Ek is sterk genoeg'” (verse 18-19 NLV).
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Matt 13:10-23; Ps 128; Spr 13:17-19
2026-05-25
Markus 6:31 NLV
Een van Satan se taktieke is om ons van die een uiterste na die ander te neem – van luiheid na werksverslaafdheid. Dis belangrik om die verskil tussen ‘n harde werker en ‘n werksverslaafde te verstaan. Harde werkers het die wysheid om perke te stel aan hoeveel hulle gedurende ‘n dag kan doen.
In haar boek, 30 Days to a Stronger, More Confident You, skryf Deborah Smith Pegues: ‘Ek was in ontkenning oor my werksverslawing totdat ek besef het dat ek heelwat van die kenmerkende simptome het: Ek het die meeste van die tyd laat gewerk. Die meeste van my gesprekke het om die probleme by die kantoor gedraai. Ek het selde middagete geneem. Ek was altyd besig om veelvuldige take te verrig; ek het selde enige taak doelgerig uitgevoer. As ek oor die telefoon gepraat het, het ek ook die tyd gebruik om die huis op te ruim. As ek televisie gekyk het, het ek ook papiere georganiseer, en so aan en so meer.
Wanneer ek probeer ontspan het, het ek gedink aan al die dinge wat ek eintlik moes doen. My doenlysie het meer items daarop gehad as wat ek moontlik gedurende ‘n enkele dag kon bereik. Ek was ‘n slaaf van my oortrokke kalender; ek het min of geen tyd vir ontspanning gehad nie. Ander mense het te stadig beweeg. Ek het altyd na die volgende afspraak gejaag. Ek het uitgesien na die toekennings wat ek vir goeie prestasie ontvang het. Vandag probeer ek slegs by die aktiwiteite wat ek voel deel van God se plan vir my lewe is, betrokke raak.’
Dis wonderlike raad! Jesus het vir sy hardwerkende dissipels gesê: ‘…Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Sê die Here dieselfde vir jou?
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Matt 13:1-9; Ps 45; Spr 13:13-16
2026-05-24
Filippense 2:13 AFR53
God werk in jou. Waaraan werk Hy? Jou wil. Wat wil Hy hê moet jy doen? Om na sy welbehae te werk. Hoe doen Hy dit? Deur jou gedagtes: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:5 NLV). God kan hoorbaar deur omstandighede of deur ‘n ander persoon met jou praat. Omdat God egter vir jou sy gedagtes kan gee of jou gedagtes kan lei, is jou gedagtes die vergaderkamer waar Hy meestal met jou sal kommunikeer.
Daarom sal Satan probeer om bose idees in jou gedagtes te plaas. As hy nie daarin slaag nie, sal hy probeer om jou gedagtes met vrees en bekommernis te vul. As dit ook nie werk nie, sal hy tevrede daarmee wees om jou ure lank na ‘waardelose dinge’ op televisie of die internet te laat kyk. Die Psalmdigter het gebid: ‘Weerhou my van waardelose dinge…’ (Psalm 119:37 NLV).
Om van God te kan hoor en te verstaan wat Hy vir jou sê, moet jy jou gedagtes ‘n beskermde omgewing maak. Jou begeerte om van God te hoor moet voorrang bo elke ander begeerte wat jy het, geniet. Die sosiale hervormer Dorothy Day, wat baie werk namens die armes in die twintigste eeu gedoen het, het gepraat van wat sy haar ‘nosies’ genoem het – idees wat die onmiskenbare stempel van God se outeurskap in haar gedagtes gehad het. George Fox en die Kwaker-tradisie het dit ‘besorgdhede’ genoem. Ander praat van ‘aansporings’ of ‘leidings.’
Die goeie nuus is dat indien jy werklik van God wil hoor en jy bereid is om jou lewe dienooreenkomstig te prioritiseer, sal Hy met jou praat.
Sielskos: Lev 23:15-22; Joh 14:15-18; Hand 2:1-18
2026-05-23
Jakobus 5:20 NLV
Ons God is die God van nuwe begin! Die Bybel sê: ‘weet dan dat hy wat ‘n sondaar op sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood red en maak dat ‘n klomp sondes bedek word.’ Dit is nooit te laat vir ‘n nuwe begin nie. Wat egter nog merkwaardiger is, is dat God mense soos ons gebruik om ander te help om ‘n nuwe begin te vind.
Die Bybel bevat baie verhale van mense wat ‘n tweede kans gekry het en deur God se genade hierdie kans goed benut het. Soos Petrus, wat Jesus verloën het, maar ‘n leier in die Nuwe Testamentiese kerk geword het. Of Dawid, wat egbreuk en moord gepleeg het, maar psalms geskryf het wat vandag nog wêreldwyd aangehaal word. Wat van Jona? Hy het ‘n tweede kans gekry! ‘Die Here het ‘n tweede keer met Jona gepraat’ (Jona 3:1 NLV).
Sonde kan harte, huise, planne en mense verwoes. Die goeie nuus van die evangelie is egter dat sonde God nooit kan keer om ons lief te hê of na ons uit te reik nie. Ons moet ook nooit ophou om ander mense lief te hê en na hulle uit te reik nie. ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp…’ (Galasiërs 6:1 NLV).
Die Griekse woord vir vernuwe is ‘n mediese term wat beteken ‘om ‘n gebreekte been te genees.’ Wanneer ‘n dokter ‘n gebreekte been behandel, herstel hy die breuk en sit ‘n gipsverband aan wat vir ongeveer ses weke moet aanbly. Gedurende daardie tyd doen God die werklike genesing. Jou werk is om gebroke mense te vind wat ‘n tweede kans benodig en hulle help om te genees.
Sielskos: Rig 12-15; Matt 12:38-50; Ps 47; Spr 13:11-12
2026-05-22
1 Korintiërs 15:10 NLV
Wie is jy? Dit klink soos ‘n eenvoudige vraag, maar dis dikwels een van die uitdagendste vrae om te antwoord. Om te weet wie jy is en waarvoor jy staan, om bewus te wees van hoe jy deur ander beskou word en hoe jy jouself aan die wêreld voordoen, is een van die belangrikste aspekte van ‘n vervulde lewe.
Dit kan jou ‘persoonlike handelsmerk’ genoem word. Jou handelsmerk bestaan uit eienskappe wat by elke ontmoeting wat jy met werkskollegas, familie of vriende het, teenwoordig is. Dit is eienskappe wat jy na al jou sosiale en sake-interaksies bring. Jy mag dalk jou eienskappe as vanselfsprekend aanvaar, maar oorweeg dit om jou eie persoonlike missieverklaring neer te skryf. Wat is jou doel? Waarvoor staan jy? Wat is jou visie? Weerspieël jou lewe werklik dit wat vir jou belangrik is en hoe jy wil hê ander mense jou moet sien?
So dikwels leef ons ons lewens volgens dit wat diegene rondom ons dink ons moet wees of doen. Ons volg die pad wat ons ander sien loop, of ons streef na wat die media as sukses definieer. Uiteindelik, en soms verrassend, vind ons onsself waar ons gefrustreerd, kwaad en teleurgesteld deur die lewe beweeg.
Sommige sakelui kla dat hulle die bopunt van die korporatiewe leer bereik het, net om uit te vind dat die leer teen die verkeerde gebou leun. Hulle was so besig om tred te hou met wat hulle gedink het hulle veronderstel is om te doen, dat hulle nooit hulself af gevra het wat hulle eintlik wil doen nie. Wees soos Paulus: Weet wie jy is, eer jou persoonlike handelsmerk en sê: ‘Deur die genade van God is ek wie ek is.’
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Matt 12:22-37; Ps 97; Spr 20:25
2026-05-21
Galasiërs 2:20 NLV
Hoeveel keer het die apostel Paulus, wat eens as Saulus, die vervolger van Christene bekend was, terugflitse van Stefanus se steniging gehad? Of die tallose ander Christene wat hy soos diere gejag het? Paulus was ‘n ooggetuie van hierdie gebeure, wat beteken dat daardie beelde in sy visuele korteks vasgevang was. Wanneer hy sy oë toegemaak het, kon daardie beelde vir die res van sy lewe by hom gespook het.
Volgens vandag se standaarde was Saulus ‘n terroris – maar hy het egter ‘n ontmoeting met Christus gehad wat hom verblind het. Hy het sy fisiese sig na drie dae herwin, maar die genade van God het hom in staat gestel om vir ewig ‘n blinde oog vir sy vergeefde sonde te draai. As God ‘n blinde oog vir belyde sonde draai, moet ons dit nie ook doen nie? Dit beteken nie dat ons ons sonde ontken of dit ignoreer nie. Paulus het homself die ergste sondaar genoem (sien 1 Timoteus 1:15). Miskien is dit hoekom hy die genade van God so waardeer het.
Die rede waarom baie van ons ander mense volgens hul sonde etiketteer, is omdat dit ons beter oor onsself laat voel. Ons dink: ‘Ek is dalk nie perfek nie, maar ek het dít ten minste nie gedoen nie!’ Paulus was egter ferm: ‘Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom’ (Romeine 3:23 NLV).
God kategoriseer nie jou sondes soos die regstelsel as oortredings of misdade nie. Nee, jy is óf in sonde, óf in Christus. Jy is óf skuldig, óf jy is ten volle vergewe. Nie net is jou sondes – verlede, hede en toekoms – versoen nie, maar deur jou geloof het God jou vergewe en jou rekening met die geregtigheid van Christus uitgewis.
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Matt 12:15-21; Ps 129; Spr 13:9-10