‘P.R.A.Y. (Pause, Reverence, Ask, Yield)’

2026-06-01
Handelinge 6:4 NLV

In haar boek, 30 Days to a Stronger, More Confident You, gebruik die skrywer Deborah Smith Pegues die woord ‘PRAY’ as ‘n akroniem: “‘Pause’. Ek stop alle aktiwiteite en fokus heeltemal op God. Aanbidding verg totale fokus. Die grootste eer en respek wat ons aan enigiemand kan gee, is ons onverdeelde aandag.

‘Reverence’. Ek spreek my bewondering vir al God eienskappe uit. Op hierdie punt begin afleidings soos kakiebosse opduik. Ek sal skielik ‘n taak wat ek op my doenlysie moet sit, onthou. Ek het geleer om gou die taak in my Bybelstudiejoernaal neer te skryf en die ander kwessies te ignoreer vir dit wat hulle is – blote afleidings wat later hanteer kan word. Ek het ook geleer dat om hoorbaar te bid, my help om dwalende gedagtes hok te slaan.

‘Ask.’ Ek vra om vergifnis vir my sondes en probeer om spesifiek daaroor te wees. Ek bid vir die krag om ‘n Christelike lewe te lei en vra God om vir my ‘n passie vir sy Woord en vir gebed te gee. Ek vra dat sy wil in elke aspek van my lewe geskied: geestelik, fisies, finansieel, verhoudingsgewys, beroepsgewys en emosioneel.

‘Yield.’ Ek moet my versoeke aan God se soewereine wil onderwerp, met die vertroue dat Hy weet wat die beste vir my is. Daarom is ek versigtig om my gebed af te sluit deur te sê: ‘Laat nogtans nie my wil nie, Here, maar u wil geld’ (sien Lukas 22:42). Die ou gesegde dat dit nie is wat jy ken nie, maar wie jy ken wat jou die voordeel in ‘n situasie gee, is waar – veral vanuit ‘n geestelike perspektief. Wanneer ons ‘n verhouding met God het, verstaan ons dat Hy voldoende is om enige eise wat aan ons gestel word, te hanteer.”

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Matt 14:13-21; Ps 117; Spr 14:9-12

God is vandag ‘by jou’

2026-05-31
Matteus 28:20 NLV

Om ‘n persoonlike verhouding met iemand te hê, moet daar tweerigtingkommunikasie wees. Selfs die mees in homself gekeerde man moet elke nou en dan instemmend grom, anders is dit nie ‘n huwelik nie – dis ‘n monoloog. Kommunikasie tussen die Here wat by jou is, en jy wat by die Here is, vind hoofsaaklik in jou gedagtes plaas.

Twee mense mag dalk dieselfde kamer deel, maar as een van hulle slaap of in die televisie verdiep is, is hulle nie regtig bymekaar nie. Daar moet interaktiewe bewustheid wees. Ons het as mense nie direkte toegang tot mekaar se gedagtes nie. Ons kan woorde, menslike aanraking of handgebare gebruik om ‘n ander persoon se gedagtes te rig.

God is egter almagtig, dus is Hy in staat om ons gedagtes direk te rig. Hy kan met ons deur die Skrif of deur die woorde van ‘n ander persoon praat. Hy kan egter ook sy gedagtes direk in ons gedagtes plant. ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV). Dit kan enige tyd en enige plek gebeur. Jou gedagtes is dus jou ontmoetingsplek met God!

Daar is baie omtrent God wat met jou kommunikeer wat ‘n raaisel is. Daar is geen formule nie. Jy kan nie God se kommunikasie met jou beheer nie. Jy kan Hom nie dwing om te praat deur meer vroom of opreg te wees of deur hard te werk nie.

Jesus het vir Nikodemus gesê: ‘Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is’ (Johannes 3:8 NLV). Hiervan kan jy vandag seker wees: God is met jou en Hy sal met jou praat as jy die tyd neem om te luister.

Sielskos: Matt 5:3; 2 Sam 7:18-29; Ps 40:17

Vra God vir ‘n droom

2026-05-30
Job 33:15 NLV

Die patriarg Job het gesê: ‘Maar God praat op verskillende maniere. Ons kom dit net nie agter nie. Hy praat deur drome en visioene, in die nag wanneer mense diep slaap’ (Job 33:14-15 NLV). ‘n Droom kan ‘n belangrike boodskap van God of ‘n antwoord op jou gebed wees. God het vir Paulus ‘n droom gegee waarin ‘n man van Masedonië aan hom verskyn en gesê het: ‘…Kom oor na Masedonië toe en help ons’ (Handelinge 16:9 NLV). Paulus het daarheen gegaan en die evangelie verkondig. Salomo se heerskappy as koning van Israel begin met hierdie woorde: “Daardie nag het die Here in Gibeon in ‘n droom aan Salomo verskyn en God het gesê: ‘Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!'” (1 Konings 3:5 NLV). Salomo het God vir groot wysheid gevra en God het hom wysheid, eer en rykdom gegee.

Praat God vandag nog in drome met ons? Ja. Hy sê: ‘Ek is die Here, Ek verander nie…’ (Maleagi 3:6 NLV). Die Hebreeuse woord vir droom is ‘chalom.’ Dit het vyf betekenisse:

1) ‘Om stewig te bind.’ Jy is veilig in God se liefde toegdraai.
2) ‘Om mollig te wees of te word.’ In die Bybel is vetheid of molligheid ‘n beeld van gesondheid, welstand en voorspoed.
3) “‘n Gevoel van onkunde.” Wanneer God jou ‘n droom gee, deel Hy inligting met jou oor dinge waarvan jy onkundig is.
4) ‘Om in voorkeur te wees.’ Wanneer God jou ‘n droom gee, betoon Hy guns aan jou.
5) ‘Om te herstel.’ Wanneer God jou ‘n droom gee, werk Hy daaraan om dit wat jy verloor het, te herstel. Vra dus vir God vir ‘n droom.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Matt 14:1-12; Ps 82; Spr 14:5-8

God werk in jou, met jou en deur jou

2026-05-29
Johannes 17:26 AFR83

Net voor Hy in hegtenis geneem en na die kruis geneem is, het Jesus gebid: ‘Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.’ Wanneer dit by die erkenning van en reaksie op God se teenwoordigheid in ons lewens kom, sê die Christelike skrywer John Ortberg dat hy volgens hierdie twaalf waarhede leef:

1) God is altyd teenwoordig en aktief in my lewe, of ek Hom nou sien of nie.
2) Om God se teenwoordigheid te herken en te ervaar, is aangeleerde gedrag; ek kan dit kweek.
3) My werk is om God in hierdie oomblik te ontmoet.
4) Ek is altyd in die versoeking om ‘buite’ hierdie oomblik te leef. Wanneer ek dit doen, verloor ek my aanvoeling van God se teenwoordigheid.
5) Soms lyk God ver weg om redes wat ek nie verstaan nie. Daardie oomblikke is ook geleenthede om te leer.
6) Wanneer ek misluk, kan ek altyd dadelik weer begin.
7) Niemand weet die volle mate waarin ‘n mens God se teenwoordigheid kan ervaar nie.
8) My begeerte na God eb en vloei, maar sy begeerte na my is konstant.
9) Elke gedagte dra ‘n ‘geestelike lading’ wat my ‘n bietjie nader aan of ‘n bietjie verder van God af beweeg.
10) Elke aspek van my lewe – werk, verhoudings, stokperdjies en bewegings – is vir God van belang.
11) My pad om God se teenwoordigheid te ervaar, sal nie presies soos iemand anders s’n lyk nie.
12) Dit help nie om te hard te probeer nie.

Die woord vir jou vandag is dus – God werk in jou, met jou en deur jou!

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Matt 13:47-58; Ps 113; Spr 14:1-4

Probeer om te vas

2026-05-28
Jesaja 58:6 AFR83

God het vir sy mense die volgende redes gegee om te vas: ‘…om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek’ (vers 6 AFR83). Om te vas is een van die beste maniere om die mag van die vlees te breek. As jy vir kos kan nee sê, kan jy vir omtrent enigiets nee sê. Maak nie saak met watter verslawing jy sukkel nie, vas is die manier om die juk van slawerny te breek. Wanneer jy jouself van kos weerhou om God te soek, wys dit vir Hom dat jy ernstig is. Hy neem jou ook ernstig op as die saak Hom eer.

Sommige geestelike deurbrake is slegs met die kombinasie van gebed en vas moontlik. Wanneer jy vas en bid, is die sinergie meer as die som van sy dele. As jy voel dat jou droom nie vorder nie, probeer om te vas. As jou huwelik in die moeilikheid is, probeer om te vas. As jou hart vir jou kinders breek, probeer om te vas. As jy ‘n deurbraak nodig het, probeer om te vas. As jy ‘n groot besluit moet neem, probeer om te vas. Wanneer jy vas, word vestings afgebreek en deurbrake gemaak. Dis die manier waarop ons aan God verklaar dat ons Hom nodig het en Hom meer as kos self nodig het.

Dit verg geweldige dissipline om kos op te gee, maar om dit te doen, kweek dissipline in ander areas van ons lewe. Die beste manier om sondige begeertes dood te maak, is deur hulle uit te honger. Dis presies wat vas doen. Dit verswak nie net jou fisiese liggaam nie; dit verswak ook jou sondige vlees en versterk terselfdertyd jou gees.

Sielskos: Gal 4-6; Matt 13:36-46; Ps 108; Spr 13:24-25

Christus kan jou siel bevredig

2026-05-27
Johannes 4:15 NLV

Sy het in Samaria gewoon, was vyf keer getroud en het nou saam met ‘n man gewoon wat nie haar eggenoot was nie. Miskien het mense vreeslik oor haar geskinder. Hoekom anders sou sy op die hitte van die middag by die put gaan water haal het? Ander vroue het hul waterkruike met sonsopkoms gaan volmaak, maar hierdie vrou het die hitte van die son bo die hitte van hulle minagting verkies.

As dit nie vir die verskyning van ‘n vreemdeling was nie, sou haar verhaal vir ewig verlore gegaan het. Hy het egter haar lewe binnegekom met ‘n belofte van lewende water wat die dors van haar siel sou les. Hy het vir haar gesê: “…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.’

Die vrou sê toe vir Hom: ‘Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie’… Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: ‘Kom kyk self – ‘n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie die Messias nie?’… Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het'” (Johannes 4:13-15, 28, 39 NLV).

Niemand anders wou haar ‘n kans gee nie, maar Jesus het haar die kans van ‘n leeftyd gegee. Wat Hy vir haar gedoen het, sal Hy vir jou ook doen.

Sielskos: Gal 1-3; Matt 13:24-35; Ps 101; Spr 13:20-23